Nxesi hof toe oor omkoopbewerings

Thulas Nxesi (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Thulas Nxesi, minister van indiensneming en arbeid, gaan hom tot die hof wend rakende bewerings dat hy omkoopgeld vir ʼn tender van R5 miljard geëis het.

Nxesi is een van drie ministers wat saam met Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, by ʼn beweerde R500 miljoen-omkoopskandaal betrek word.

Mthunzi Mdwaba, uitvoerende hoof van Thuja Capital, se bewerings hou verband met ʼn Werkloosheidsversekeringsfonds- (WVF-)kontrak vir ʼn werkskeppingsprojek ten bedrae van R5 miljard. Die projek het later deur die mat geval en Mdwaba beweer dit het gebeur omdat hy geweier het om omkoopgeld te betaal.

Volgens Nxesi is die WVF-ooreenkoms sonder sy of die nasionale tesourie se medewete onderteken. Hy het ook gevra hoekom hy omkoopgeld sou eis vir ʼn kontrak wat hy geskrap het.

“Mdwaba se bewerings is vals en word deur geen werklike bewyse ondersteun nie. Mdwaba sal nou hierdie bewerings in ʼn hof moet bewys.”

Nxesi meen Mdwaba se bitterheid teenoor hom hou verband daarmee dat hy hom nie vir ʼn pos by die Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO) gesteun het nie.

“Daar is niks wat die integriteit van ons demokrasie en stelsel van grondwetlike bestuur meer kan ondermyn as valse bewerings dat ʼn groep kabinetslede, in ʼn korrupte skema, doelbewus saamgesweer het om die inwerkingstelling van ʼn lewensvatbare werkskeppingsprojek te frustreer deur betaling van korrupte fooie van ʼn diensverskaffer te eis nie. Dié bewerings sal nou in die hof getoets word.”

Nxesi se hofaansoek behels onder meer ook ʼn aansoek om ʼn interdik teen Mdwaba om sy “veldtog van valse en ongesteunde leuens” stop te sit indien hy nie bewyse van sy bewerings kan lewer nie.

“Ek het ook die president versoek om ʼn spesifieke proklamasie uit te reik om hierdie ooreenkoms deur wetstoepassingsagentskappe te laat ondersoek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

annie ·

Ons beweeg nou op die terrein van foutloses en diegene sonder sonde. Die ANC was nog altyd foutloos en het die land op sy roemryke ekomomiese groeipad geplaas wat wêreldwyd besing word as uniek en navolgingswaardig. Na dertig jaar met geen misdaadrekord wat ‘n vingerwysing vra nie. Hoe wonderliker kan ‘n regering nog presteer vra ek julle met trane in my oë?

Johann ·

En altyd sulke tra la la wharra wharra betoë oor hoe en hoekom hulle nooit ietsie sal vat of vra nie. En dis nie asof die kader en kie ‘n sent uithaal om hulle onskuld te bewys nie. Daars mos mieljons ant bieljohns byrri account van di Govirmint.

Oosieoos ·

Ondersoek hom vanaf 94 laat ons bietjie sien of hy engeltjie is. Vra ma net

Renier ·

My Ouma het altyd gese, …’Waar n rokie trek…brand gewoonlik n vuurtjie’

Chris ·

Ek weet nie of almal kan onthou nie, maar die vent was hele paar jaar gelede oppie TV. Ek weet nou hoekom die stoel onder hom ingegee het. Sy sakke was te swaar van die buit wat hy aan belasting betalers geld gepleeg het.

Nie Verbaas ·

Ons glo eerder dat die projek deur die mat gebel het omdat daar geweier is om R500 miljoen te betaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.