Nylstroom-plaasvoorman doodgeskiet: ‘Hy het geleef vir sy kinders’

Piet de Kock. Foto: Facebook

Piet de Kock. Foto: Facebook

Piet de Kock, die 40-jarige voorman wat Vrydag op ʼn plaas buite Nylstroom (Modimolle) doodgeskiet is, het geleef vir sy twee jong seuns.

Dennis Mossop, De Kock se swaer, het aan Maroela Media gesê Piet was ʼn “regte boerseun” wat lief was vir die natuur. “Hy was ook ontsettend lief vir sy twee kinders. Ná sy egskeiding was hulle alles vir hom.” Mossop het gesê Pietie (8) en Sias (5) besef nog nie heeltemal dat hulle pa dood is nie. “Dit is ontsettend moeilik om sulke goed vir sulke klein kinders te sê.”

Pietie en Sias het omtrent van die begin van die jaar af by Mossop en De Kock se suster, Hantie, in Thabazimbi gewoon. “Piet het baie lang ure gewerk en wou nie sy kinders daardie onreg aandoen nie. Hulle het baie naweke by hom gekuier.” Die seuns sal intussen in die sorg van Dennis en Hantie bly.

Volgens Mossop het iemand De Kock Vrydag gebel en gesê daar is mense wat besig is om ʼn leë huis op die plaas Doornfontein, sowat 20 km buite Nylstroom, te stroop. “Piet is soontoe en het een van die ouens aangekeer. Hy bel toe vir Jaco [Kriel – eienaar van die plaas] en terwyl hy nog met Jaco gesels het, het die skote geklap.” Mossop het gesê De Kock is net bo sy oor geskiet.

“Veiligheid op plase is ʼn groot kwessie oor die hele land. Piet was nie die eerste nie en hy sal ook nie die laaste een wees nie. Mense voel so half magteloos en half die do***r in. Maar dit is iets wat gebeur het en wat kan ’n mens daaraan doen. As die skuldiges vasgetrek word, gaan hulle seker met R2 500 beboet word en dan weer op vrye voet wees,” het Mossop gesê.

ʼn Roudiens word Vrydagoggend vir De Kock gehou by die Nederduits Hervormde kerk in Thabazimbi. De Kock laat sy twee seuns, ʼn broer en suster en sy ouers agter. De Kock sou op 20 Desember 41 jaar oud geword het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Gerda ·

Mnr Zuma, verstaan jy nie dat vir elke belasting betaling wat vermoor word of uit die land uit vlug verloor jy ‘n deel van jou inkomste!
Dis dalk tyd dat die regering beter na belasting betalers begin kyk.
Miskien moet ons belasting betalers net “belasting betaling” staak vir so ses maande en kyk waar dit die regering laat.

Carin Janse van rensburg ·

Ek is kwaad… hoeveel nog my man 3 maande terug ook geskied in n gewapende huisroof en oorlede , jou man dalk more.. !! Wanneer gaan dit stop. Ek bid vir die gesin en veral die kinders dit is nie maklik. !!

Thinus Erasmus ·

Haai Carin, baie sterkte.
Ek is ook ‘n man en pa, wat kan ek se, het ons minder werd geraak as die mossies?

Delta Mike ·

Wat nou Maroela, wat is fout met my kommentaar. Word dit terug gehou omdat ek nie soos almal altyd vol simpatie is vir sulke berigte nie en eerder my opinie gee oor hoe aan die slaap mense is en dit lei tot gebeure soos per die artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.