Nzimande bevraagteken SA se status as ʼn staat

Blade Nzimande (September 2016) Foto: Ntswe Mokoena

Blade Nzimande, sekretaris-generaal van die SAKP, het Dinsdag die krisis in die ANC, staatskaping en korrupsie betreur en die vraag gevra of Suid-Afrika nog steeds ʼn funksionele staat is.

“Ons het nie baklei om hierdie land te bevry net om dit aan die Gupta-familie te oorhandig nie,” het hy gesê terwyl hy die Suid-Afrikaanse Kommuniste Party se politieke verslag by die party se 14de kongres in Ekurhuleni gelewer het.

“Ons is besorg dat sommige van ons instansies erodeer. Ek weet dat comrade Jessie [ANC adjunk sekretaris-generaal Duarte] en comrade Gwede [ANC sekretaris-generaal Mantashe] nie daarvan hou as ons hieroor praat nie, maar ons gaan [hieroor praat]. Daar is diefstal in staatsliggame… die intelligensiediens, die [direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke] Valke, die [Nasionale Vervolgingsgesag] NVG.

“Ons moet dit nie onderskat nie. Die vraag is, het ons ʼn staat? Wat moet gedoen word?” wou hy weet. Afgevaardigdes het met “verkiesings…” reageer.

Nzimande het bygevoeg die tyd om stil te bly, is nou verby. Hy het gesê Suid-Afrika het ʼn parallelle staat, en in die lig van korrupsie en staatskaping deur die Gupta-familie wat ontbloot word, is daar ʼn “parasitiese netwerk” wat hierdie blootstelling deur propaganda media wil stilmaak – spesifiek die Gupta-beheerde ANN7-televisienuuskanaal en The New Age-koerant.

“Die SAUK, onder [voormalige uitvoerende bedryfshoof Hlaudi] Motsoeneng, is in die grond in bestuur. Ek wonder hoeveel dekades dit sal neem om dít reg te stel. ANN7 is ʼn grap, The New Age-koerant was aanvanklik belowend, en dan is daar ʼn groep boewe wat ANC- en SAKP-vergaderings ontwrig as hulle nie daarvan hou nie. Hierdie is van die dinge wat ons bekommer,” het Nzimande onder luide toejuiging gesê.

Hy het bygevoeg Andile Mngxitama, leier van Black First Land First (BLF) is ʼn “politieke huursoldaat”. Die hooggeregshof het deur ʼn interdik die BLF verhoed om verslaggewers te teister, nadat die organisasie hulle daarvan beskuldig het dat hulle die Gupta-familie teiken.

“Mngxitama het met ʼn groep gekom en vroeg in 2000 ons optog na AgriSA ontwrig toe ons as SAKP die grondveldtog van stapel gestuur het. Ons wil vir hom sê hy moet ophou om die naam van swart mense te gebruik vir aggressiewe gedrag. Die Guptas betaal hom. Ons het ons verskille met die media, maar ons kan nie sulke aanvalle op die media duld nie, hulle hoef nie só behandel te word nie.”

Nzimande het ook gesê hy voel verraai oor die manier hoe die ANC uitgedraai het. “Alles het ná 2014 verander, aangesien staatskaping op steroïdes is. Ons neem kennis daarvan dat daar sommige vordering was tydens die eerste Zuma-administrasie, maar ná 2014 het die prentjie verander. Ons demokratiese netwerke verval in parasitisme. Dit is die onmiddellike bedreiging wat ons in die gesig staar.”

In teenstelling met ander dele van die wêreld, is geen inhegtenisnemings nog gemaak nie ná die Gupta-e-posse die omvang bekend gemaak het van die invloed wat die familie uitoefen op staatsbedrywighede en openbare ondernemings.

“Niks gebeur nie. Waar gaan dit eindig? Die staatskaping is onbeskaamd. Ons moet nie net die Guptas blameer nie, maar ook diegene in ons regering wat toegelaat het dat dit gebeur.”

Hy het gesê die eerste stap om die skade te herstel wat deur staatskaping berokken is, is dat die staat dringend moet ophou om sake te doen met die Guptas. Hy het gesê dit sal verseker dat regeringsake vinnig herstel, veral by staatsbeheerde ondernemings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

willie ·

Baie gesê dit nogal van ñ kommunis! Dit wys net weereens hoever is die kaping gevorder!

jaco ·

Kan die SAKP dan asb SA oorvat en as n behoorlike kommunistiese staat bestuur? Doen dit net asb soos julle kommunistiese mentors uit julle jare in exile, dat SA kan lyk soos Oos-Duitsland of Tseggo-Slowakye. Werkloosheid, plakkerskampe, vrot hospitale, beurtkrag, lae skoolstandaarde was ALLES ongekend. Stakings was onwettig. Misdade soos moord en verkragting het die doodstraf gekry. Daar was wel bitter min godsdiensvryheid en geen vryheid van spraak nie, maar dit was klein opofferings in ruil vir state wat andersins BAIE beter as die huidige SA gefunksioneer het.

popeye ·

Mense en organisasies wat net ‘n kort tydjie terug radikale uitsprake gemaak het; soos die SAKP se deuntjie klink in vandag se tyd nogal heelwat konserwatief. Ja nee, tye verander. Daar is radikales wat besef hoe radikaal – krom sake werklik kan trek.

jaco ·

Jare gelede het ek die boek Down Second Avenue van Ezekiel Mphahlele gelees. Dit fokus onder andere op sy grootwordjare in Marabastad in Pretoria. Dit was die jare van apartheid, so uiteraard is baie lelike goed van wit mense geskryf. Opvallend vir my was agter sy aanvalle op Indiërs en hoe hy beskryf het hoe Indiërs die swartes uitgebuit het en met ‘n meerderwaardige houding teenoor swartes opgetree het. Voeg hierby die klomp huidige gevalle waar dikwels vir SA Indiërs wat werk soek gesê word “sorry but you are not black enough”, dan wonder ek net al hoe meer waarom die Guptas wat Indiërs is, dan so baie voorregte van die swart ANC kry. As dit die Tshabalala-familie se sakeryk was wat die Guptas se voordele gekry het, kon en dit nog alles verstaan.

Cas ·

Hulle sal nog agterkom dat om Engels-te -kan-praat, nie die enigste kwalifikasie is vir die bestuur van ‘n land soos Suid-Afrika is nie. Blade ‘n geleerde man behoort van beter te weet. Sy vertroue in die ANC is geskaat, wat nou ? Hulle sal voortgaan om onverantwoordelike aanstellings te maak, totdat hierdie “lemoen” ook leeg gesuig is.

John ·

Kommumisme is en was twak… Waar het dit al ooit gewerk? Nzimande praat uit twee monde en soek net ‘n beter regeringspos, vandaar…

Lol ·

Die ANC hoop seker hierdie “Blade” word stomp voor die rewolusie binne die “tripartite alliance”.

Swartkat ·

Staat – watse staat – Die ANC het baklei om die land te kry en om in beheer te wees. Die grap is dat sekere leiers hulself verryk het en verder word die land daagliks afgebrand, geplunder en word mense vermoor. Glo nie hierdie land gaan weer maklik regkom nie Die land is behoorlik ge -Zuma

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.