Nzimande eis verskoning oor omkoopbewerings

Die minister van hoër onderwys en opleiding, Blade Nzimande. (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, sê bewerings dat hy omkoopgeld ontvang het, is vals en het sy reputasie en welstand groot skade berokken.

Nzimande is een van drie ministers wat saam met Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC, by ʼn beweerde R500 miljoen-omkoopskandaal betrek word.

Mthunzi Mdwaba, uitvoerende hoof van Thuja Capital, se bewerings hou verband met ʼn Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF)-kontrak vir ʼn werkskeppingsprojek ten bedrae van R5 miljard.

Volgens Mdwaba het “tussengangers” van Nzimande, Thulas Nxesi, minister van arbeid en indiensneming, en Enoch Godongwana, minister van finansies, hom glo vir omkoopgeld genader. Hy het glo geweier, waarna die projek deur die mat geval het. Mdwaba het Mbalula ook by die beweerde voorval betrek.

“Minister Nzimande het mnr. Mthunzi Mdwaba nie persoonlik genader of enigiemand afgevaardig om ‘hekwagfooie’ van R500 miljoen te verseker uit ʼn R500 miljard-WVF-kontrak nie,” sê Ishmael Mnisi, woordvoerder van Nzimande.

Nzimande is van voornemens om ʼn staak-en-weerhou-brief vir laster aan Mdwaba te stuur.

“Die minister wil dit duidelik maak dat hy bereid is om alle nodige regstappe te neem om sy regte te beskerm en skadevergoeding te eis vir die skade wat hy gely het weens dié lasterlike uitlatings,” voeg Mnisi by.

Nzimande eis dat Mdwaba onmiddellik sal ophou om enige verdere lasterlike uitlatings oor hom te maak; dat Mdwaba binne sewe dae ʼn formele skriftelike verskoning aan die minister sal uitreik vir die valse bewerings; en dat Mdwaba nie enige valse bewerings oor die minister teenoor enige ander partye sal maak nie.

Nxesi gooi ook wal oor omkoopbewerings

Volgens Nxesi het Mdwaba al twee jaar gelede begin om bewerings teen hom te maak toe “ons verplig was om ons steun vir sy kandidatuur vir ’n pos in die Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO) terug te trek”.

“Mdwaba het my hiervoor geblameer, al was dit ’n regeringsbesluit wat geneem is nadat inligting oor sy twyfelagtige verlede aan die lig gekom het: Hy is voorheen deur die howe as ’n misdadige direkteur verklaar en ongeskik om sekere poste te beklee.”

Nxesi en Mdwaba se paaie het laat verlede jaar weer gekruis met die WVF-kontrak.

“Ek het onmiddellik opgetree om enige betaling te stop, selfs in die lig van Mdwaba se dreigemente van regstappe, en sodoende openbare fondse beskerm. Ek het toe gevra vir ’n forensiese ondersoek, wat gewys het op onreëlmatighede, insluitend ’n botsing van belange: Mdwaba was voorsitter van Produktiwiteit SA, ’n entiteit van die departement van indiensneming en arbeid, sowel as uitvoerende hoof van Thuja Capital. Ons het dus prokureurs opdrag gegee om ’n aansoek voor te berei om die Thuja-ooreenkoms tersyde te stel, en Mdwaba as voorsitter van Produktiwiteit SA te verwyder.”

Volgens Nxesi het hy ingevolge die wet opgetree. “Hierdie week het Mdwaba ’n nuwe bewering opgetower: Dat ek probeer het om omkoopgeld te neem uit die einste transaksie wat ek gestaak het. Dit is vals en sonder fondasie; geen bewyse word gelewer nie en dit is duidelik ’n poging om die aandag af te lei van die kwessies rakende die kontrak van R5 miljard.”

Hy is van voorneme om die “valse en lasterlike beskuldigings” wat deur Mdwaba gemaak is aan te spreek. “Intussen kan ek die versekering gee dat die betrokke R5 miljard se openbare fondse nie aan Mdwaba se private maatskappy vrygestel sal word nie.”

Fikile lê klag oor omkoopbewerings

Mbalula het Donderdag klagte van crimen injuria teen Mdwaba by die Sandton-polisiestasie ingedien.

Mbalula het gesê Mdwaba is glo deur die departement van arbeid en indiensneming ondersoek en dat hy nou, in plaas daarvan om die aantygings teen hom te hanteer, verkies om ’n lasterveldtog teen hom en die betrokke ministers te voer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.