Nzimande en polisiehoof vergader oor kampusbetogings

blade-nzimande

Blade Nzimande. Foto: Flickr/GovernmentZA

Blade Nzimande, die minister van hoër onderwys en onderrig, sal Maandag met die polisieminister, Nathi Nhleko, en die waarnemende nasionale polisiekommissaris, Khomotso Phahlane, by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) vergader om die rol van die polisie in die beskerming van universiteite te bespreek.

Kwaye Nkwanyana, die woordvoerder van die departement, het gesê die vergadering sal handel oor die polisie se rol in die beskerming van universiteitseiendom tydens studentebetogings asook om geweld en rassespanning tydens betogings te voorkom.

Die vergadering volg nadat talle universiteite verlede week moes sluit nadat eiendom op kampusse oor die hele land beskadig en verwoes is. Busse en geboue is aan die brand gesteek en skade van miljoene rande is aangerig.

Volgens Nkwanyana sal Nzimande en Nhleko “sterker maatreëls bespreek om studente se gewelddadige gedrag te hanteer”. Nzimande sal later Maandag met die Transformasie Oorsigkomitee vergader oor transformasiekwessies in die land.

Woensdag sal Nzimande na verwagting met die Education Alliance vergader om hul rol in die stabilisering van universiteite te bespreek en Donderdag sal hy met die visekanseliers en die studenteverteenwoordigers van die universiteite vergader.

Intussen het die EFF se studentekommando gesê hy sal vandeesweek voortgaan met sy #AfrikaansMustFall-veldtog by die Universiteit van Pretoria (UP). Hulle eis dat Afrikaans heeltemal as onderrigtaal geskrap word. Tuks is een van die universiteite wat verlede week gesluit moes word weens die gewelddadige studentebetogings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Chris W ·

‘n Peleton gewapen met verfbal gewere en wat hulle gebruik hoort goed te werk.Daai balletjies maak goed seer en jy sit met baie groot seer blou kolle op jou lyf vir lank!Die oortreders is ook sommer gemerk met verf daarna en maklik uitkenbaar vir verdere optrede.

hans ·

Nadat Solidariteit/Afriforum en ander belanghebendes n oplossing onderling beding het,wil Ministers van Onderwys en Polisie skielik op die wa saamry. Waar was hulle toe geweld aan die orde van die dag was.

humor ·

Ek hoop daar is n deeglike antwoord vir die hardhorende eff wat hul revolusionere gedrag vir goed sal beeindig.

Wat-ek-lees ·

Ek verstaan dat belangrike dokumentasie soos ook die Rivoniaverhoor in die slag gebly het. Hopelik het die geskiedenis van die stertriem oorleef . . .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.