Nzimande erken nou sélf Afrikaans is inheems   

Dr. Blade Nzimande (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

In reaksie op ’n parlementêre navraag deur die DA het dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, nou onderneem dat dié departement die definisie van inheemse tale in sy Taalbeleidsraamwerk sal aanpas om Afrikaans daarby in te sluit.

Die minister voer nou boonop aan daar was nooit ʼn dispuut oor die status van Afrikaans as inheemse taal nie. Dit is egter nie duidelik wanneer dié wysigings gemaak sal word nie.

Maroela Media het vroeër berig dat Nzimande in Oktober 2020 ʼn nuwe beleidsraamwerk vir taalgebruik in hoër onderwys bekend gestel het waarin slegs “Suid-Bantoetale” as inheems aan Suid-Afrika erken word. Afrikaans, asook die Khoe- en San-taalfamilie is as sogenaamde uitheemse tale in dié beleidsraamwerk geklassifiseer. Dít het wye kritiek van onder meer die DA ontlok, wat ook ʼn regsmening oor die kwessie ingewin het.

Dít het die ANC-regering verlede maand gedwing om hierdie tale wel as inheems te herken.

“Twee maande nadat die DA die regsmening gesien het, wat bevestig dat die minister van hoër onderwys die pot mis gesit het met sy poging om Afrikaans as ‘uitheems’ te klassifiseer, het ons nou ook ’n onderneming uit hom gewurg dat sy departement die definisie van inheemse tale in die Taalbeleidsraamwerk vir hoër onderwys sal aanpas,” het dr. Leon Schreiber, DA-parlementslid en kiesafdelingshoof in Stellenbosch, gesê.

“Vir die heel eerste keer het ons nou ook daarin geslaag om Blade Nzimande te dwing om persoonlik te erken dat Afrikaans ’n inheemse taal is.”

Nzimande sê in sy antwoord aan die DA die definisie van inheemse tale in die Beleidsraamwerk sal aangepas word dienooreenkomstig met die regsmening soos ontvang en daar was nooit enige dispuut in die Taalbeleidsraamwerk oor die status van Afrikaans as ’n inheemse taal nie”.

Schreiber sê dit bly egter kommerwekkend dat Nzimande die party se vraag oor die sperdatum vir die implementering van die wysigings ignoreer.

“Daarom gaan ons steeds die druk volhou totdat die wysigings deurgevoer is.

“Wat ook onthutsend is, is dat Nzimande nou maak asof daar nooit enige ‘dispuut’ was oor die status van Afrikaans nie. Dit is eenvoudig onwaar. Inteendeel, Nzimande se eie regsmening verklaar dat die oorspronklike weergawe van die definisie ‘strydig is met die Grondwethof se beskouing van Afrikaans as ’n inheemse taal’.”

Die DA sê Nzimande gebruik dieselfde “lafhartige strategie as sy anti-Afrikaanse meeloper” Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur. Mthethwa het onlangs onder skoot gekom nadat hy gesê het Afrikaans moet uit die naam van die Afrikaanse Taalmonument verwyder word.

Hy het egter later ʼn ommeswaai gemaak en aangevoer dat daar nooit so ʼn plan was nie, hoewel dit deur die direksie van die monument bevestig is.

“Dit is duidelik dat hierdie ANC-regering nie net ’n veldtog teen Afrikaans dryf nie, maar dat hulle ook te lafhartig is om dit te erken wanneer die DA en die burgerlike samelewing terugbaklei. Hul ontkennings onderskat egter die mense van Suid-Afrika, vir wie se taalregte die DA onverpoosd voort sal veg teen alle soortgelyke ANC-aanslae.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Petrie ·

Nzimandi is LANKAL verby sy “sell by date”. Tyd vir hom om weg te gaan…vêr weg…

Lourens CFG ·

Die hele parlement is vêr verby sper datums.
Alles vrot al.

Swerwer ·

Wonder wat voer hul nou weer in die mou dat hul ewe skielik Afrikaans wil erken. Hul voorvaders en familie het tog almal Afrikaans gepraat.

Bernard ·

In 1976 was hy as student ‘n voorbok-brandstigter op die Kampus van die Universiteit van Zululand.

Althes ·

Sjoe waar het die ‘arm benadeeldes’ geld gekry om te studeer? Ek kon nie eens bekostig om universiteit toe te gaan in die apartheidsjare nie en ek was veronderstel om ‘wit en bevoorreg’ te wees.
Jy moet onthou hul was die sogenaamde struggle helde, hulle hande is die ene onskuld.

Jaco ·

Waarom is nét Afrikaans die taal van die onderdrukker? Sover ek weet het Engels ook daai reputation, maar veel meer as Afrikaans. Die Engelse taal kom vanaf ‘n nogal wit Europese landjie Engeland. Eers het die Engelse die aangrensende Wallisers, Skotte en Iere in Engels onderdruk. Daarna, toe die Wallisers, Skotte en party Iere behoorlik verengels het, het hulle saam met die Engelse in hulle British Empire teen 1921 een derde van die wêreld se landoppervlak beheer en ORAL in daardie empire was Engels die taal van onderdrukking.
Die ANC kan ook maar kyk na Mosambiek, en Angola, waar Portugees die taal van onderdrukking was. Almal daar praat vandag nog Portugees. As hulle daarmee kon vrede maal, waarom bly die ANC dan so hamer teen Afrikaans?

MrMagic ·

Ek reken dit is agv ‘n tekort aan kennis en natuurlik ook blote jaloesie, Afrikaans is so mooi taal.

Bertie ·

Afrikaans herinner hulle aan hulle minderwaardigheidskompleks. Die Engelse het nooi t die “guts” gehad om vir hulle kaalkop die waarheid te vertel nie.

Nettie ·

Dis die regte vraag Jaco. En as jy dieper delf, sal jy besef….. wie sit agter die ANC nog AL die jare? Dis die rede hoekom Engels nie net uitgelos word nie, maar aktief die taal is wat oorneem in elke universiteit en skool. Die “Empire” se dae is nog lankal nie verby nie… hy’t net ondergronds gegaan. Ons veg steeds teen dieselfde vyand van ouds.

Suzette ·

Nou hou die skepsel vir hom die onskuld vanself…. wat ‘n grap!

KatjieDeKat ·

As ek my geskiedenis op skool reg verstaan het, was Zoeloe en Khoi en San die enigste inheemse tale hier voor Jan van Riebeeck hier aangekom het. Toe het Afrikaans ontwikkel. Miskien onthou ek verkeerd. Maar ja Afrikaans is GEBORE in in Suid Afrika. Jy kry nie veel meer inheems nie.

Misky ·

Puik gestel Julia!!!! Jy kon dit nie meer eenvoudig sê dat selfs Nzimande dit kan verstaan nie.

Sê maar net ·

En die San mense was eerste in die land. Vir kids op skool geleer. Oud onderwyseres.

Papsak ·

Die ding moet net verdwyn hulle almal krap waar dit nie jeuk nie

Kokerboom ·

Dit was seker ‘n bitter moeilike besluit vir die kader!!!

Samuel ·

Ek is so bly my taal word uiteindelik as inheems beskou. Hoop net die agbare minister gaan nou die wysiging spoedig deurvoer.

Hennie ·

Nooit…. As hy iets gesê het, dan het niemand iets gesê! Swaap wat beswymeld is op sy eie ego!…

Windhond ·

Hy dans maar net soos die gesigloses sy marionet toutjies trek

Bertie ·

Ek is sOOOO moeg vir hierdie narre se politieke en ideologiese speletjies! Wanneer hulle net begin om hulle werk te doen en ophou om ‘n Afrikaanse sondebok vir hulle onbevoegdheid te soek?

Magda ·

Die ou het n gesplete persoonlikheid, wragtig. Net een pad Vir hom en dit is “vat Jo goed en gaan” asb. Hoe gouer hoe beter.

Willem ·

Sy IK pas nie by sy pos nie…hulle almal eintlik..!!!Squirrel ingesluit!!

Pieter ·

dink nie eers die ou weet wat op sy eie voorkop aangaan nie…

Jannie van Niekerk ·

Mense wees versigtig, Mens vetrou hierdie jafel nie eers met ‘n oop Bybel op die preekstoel nie

Frank John ·

My insig is dat hul altyd Afrikaans afmaak as die apartheids taal, die mense wat apartheid ingestel het en hulle weet nie dit kom van die engelse af, Cecil John Rhodes het stem reg van die inheemse nasies af verwyder het. Hulle het die boss-servant ding ingestel in Suid Afrika en in al hul kolonies.

Pietertjie ·

Ek wonder hoe lank dit hom gaan vat om te ontdek dat Engels ‘n uitheemse taal is.

Jack ·

Draaijakkals. Weet nie meer in watter gat hy moet inkruip nie.

Madz ·

Daai gesigs-uitdrukking sê alles: “www.totallylost.co.za” Meeste van die parlementslede sit met dieselfde probleem. UPDATE die APP asseblief tog julle!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.