Nzimande moet sê oor minder geld vir onderwys, verpleegkunde

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Die Demokratiese Alliansie doen ʼn beroep op die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, om te verduidelik waarom die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) finansiering gekanselleer het vir sleutelstudierigtings soos verpleegkunde en onderwys.

Chantel King, die DA se skaduminister van hoër onderwys, wetenskap en tegnologie, het gesê Andile Nongogo, uitvoerende hoof van NSFAS, het in ʼn omsendbrief vroeër vandeesweek ontfondsing vir die volgende studierigtings aangekondig:

  • BTech
  • Legacy-tweejaar-diplomas
  • Baccalaureus in die Opvoedkunde
  • Baccalaureus in die Verpleegkunde
  • Algehele finansiering vir nagraadse kwalifikasie

“Alhoewel Nongogo nou verduidelik het dat dié ontfondsing nie op voorgraadse studies van toepassing is nie, is dit steeds kommerwekkend dat nagraadse studies nie gefinansier sal word nie – veral wat verpleegkunde en onderwys betref,” het King bygevoeg.

“Dit is skokkend dat die departement, te midde van die kritieke tekortkominge van onderwysers en verpleërs, veral tydens die Covid-19-pandemie, besluit het om finansiering vir dié rigtings te verwyder. Navorsing, wetenskap en innovasie is boonop noodsaaklik om die pandemie te oorwin vir toekomstige ekonomiese of maatskaplike uitdagings. Navorsers en wetenskaplikes speel ʼn baie belangrike rol om vandag se pandemie te bestry, en tog het die departement besluit om finansiering te kanselleer vir die toekomstige ontwikkeling van dié kritieke nagraadse kwalifikasies.”

King sê die bogenoemde verwydering van sleutelkursusse is teenstrydig met die lys van kritieke vaardighede (sien hier). Die lys fokus op die volgende kritieke vaardighede, wat direk verband hou met die kursusse wat NSFAS besluit het om te ontfonds:

  • Ingenieursbestuurder (wat nagraadse kwalifikasie vereis)
  • Algemene mediese praktisyn (wat nagraadse kwalifikasie vereis)
  • Geregistreerde verpleër vir gemeenskapsgesondheid (wat nagraadse kwalifikasie vereis)
  • Geregistreerde verpleër vir geestesgesondheid (wat nagraadse kwalifikasie vereis)
  • Universiteitsdosent (wat nagraadse kwalifikasie vereis).

NSFAS het vroeër vandeesweek ʼn persverklaring uitgereik in reaksie op die woede oor hul besluit om finansiering vir sekere studierigtings te kanselleer. “Die NSFAS-verklaring wys daarop dat minister Nzimande reeds in 2016 gesê het dat sekere kwalifikasies uitgefaseer sal word. 2016 is egter verouderd en die vaardighede wat in daardie stadium nie in aanvraag was nie, is beslis nou in aanvraag. Die minister moet herevalueer wat hy as erfenis-kwalifikasies beskou om seker te maak dat die universiteitskurrikulum komplementêr is tot die behoeftes van die ekonomie,” het sy bygevoeg. “Hy moet ook duidelik kommunikeer oor dié uitfaseringsplanne. Daar is te veel verwarring en onduidelike kommunikasie van NSFAS en die studente en die gemeenskap is in die duister.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.