Nzimande vra Prasa-krisis moet buite hof opgelos word

Blade Nzimande (Foto: ANA)

Blade Nzimande, minister van vervoer, het Maandag ʼn beroep gedoen op die Spoorwegveiligheidsreguleerder (RSR) en die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) om buite die hof tot ʼn vergelyk te kom ter wille van die miljoene pendelaars wat daagliks van Metrorail gebruik maak.

Dít kom ná berigte dat RSR dalk Prasa se bedryfspermit kan opskort.

RSR het ʼn kennisgewing op Prasa beteken dat hy van voorneme is om die spooragentskap se veiligheidspermit op te skort.

Maroela Media het vroeër berig dié besluit volg ná ʼn botsing tussen twee treine in Gauteng verlede week waartydens 320 mense beseer is, asook die algemene agteruitgang van Metrorail se dienste.

Die RSR moet seker maak dat dit veilig is vir pendelaars om van die diens gebruik te maak.

Prasa het intussen die hooggeregshof gevra om die voorneme van opskorting van die bedryfspermit nietig te verklaar.

Nzimande het in ʼn verklaring gesê hy het nog nie ʼn verslag van die RSR ontvang oor die toestand van Prasa se bates en die toestand van die spoornetwerk nie.

“Ek glo dat die rade van die RSR én Prasa in staat is om hul dooiepunt vriendskaplik en in die beste belang van alle pendelaars op te los. So ʼn besluit moenie ʼn negatiewe impak hê op die voortsetting van veilige Metrorail-bedrywighede nie,” het Nzimande gesê.

Die waarnemende direkteur-generaal van die departement van vervoer gaan glo ʼn dringende vergadering tussen die voorsitters van Prasa en die RSR in Kaapstad vir Dinsdag belê om tot ʼn vergelyk te probeer kom.

Nzimande het gesê hy bly toegewyd tot die voorsiening van ʼn betroubare, veilige, effektiewe en koste-effektiewe openbare vervoerstelsel.

Maroela Media het vroeër berig Nzimande het Maandag gekap na die DA se beroep om ʼn noodtoestand te verklaar in terme van treinvervoer in die Wes-Kaap en volgehou die regering is besig met die herstel van die Metrorail-dienste in dié provinsie.

“Dié beroep van die DA is oneerlik, opportunisties en politieke maneuvrering wat die ernstige situasie wat die spoordienste in die Wes-Kaap in die gesig staar, wil uitbuit. Ek verwerp hierdie politieke aanstellerigheid in die sterkste moontlike terme,” het Nzimande in ʼn verklaring gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Dafer ·

Dit is nou dat die skuldiges nie verantwoordelik gehou kan word nie!

Thinus ·

Alles waarop die ANC regering hulle hande ople is oneerlik, opportunities en politiek gedrewe. Hulle kan met net mooi niks vertrou word nie, want alles stink na korrupsie en onbevoegdheid.

Anoniem ·

Blade is net bekommerd dat die ANC die Metrorail pasassiers se stemme sal verloor as Metrorail se dienste opgeskort word weens veiligheidsredes. Hy is nie bekommerd oor die passasiers se lewens nie.

Joshua ·

Tipies ANC; ‘pass the bucket’ bestuur-te onbevoeg om die probleem self op te los.

Spietnik ·

Blade is natuurlik bekommerd dat sy aandeel bloot gelê sal word en hy sy lonende pos gaan kweit sal wees!!!

Skyn ·

“Dooie punt” bereik.
Hoeveel Dooie Punte (mense) moet bereik word voor die probleem opgelos word?
Vliegtuie moes op die grond bly omdat dit onveilig was. Hoekom kan onveilige treine dan ry.

Jerry ·

Blade se versoek is erg teleurstellend omrede hy voor sy heilige siel weet dat die Prasa krisis nie binne of buite die hof reggestel kan word nie. Wanneer treinry te gevaarlik raak vir pendelaars dan stop jy dit en verskaf alternatiewe vervoer totdat treinry weer veilig is. Blade dink nie aan veiligheid nie, hy dink duidellik net aan die verkiesing!

Snowball ·

Die ANC moet sy vlag verander. Daai spies in die hand moet ‘n reuse troffel word, want al wat hulle nog kan doen is om hulle onbevoegdheid en brouwerk toe te pleister.

John ·

As Prasa maar ‘n private onderneming was… Die oom het al so ‘n suur gesig ontwikkel van ‘diepsinnige’-oplossings soek vir al die ANC se probleemkindertjies wie se name almal op
-sa, -fa, -ta en -ma eindig. Miskien vergeet die doktor dat buite-die-hof skik, ‘n man met ‘n paar goeie opstoppers sonder-veel-uitgerig mag laat en nog ‘n plooi op die neus.

Sarel ·

Blade, slegs as erken word dat die situasie n probleem is kan dit opgelos word, dus vir julle buite wat dit as n “challenge” sien sal dit n ewigheid neem en nooit opgelos word nie. Laat die hof asb die probleem aanspreek en oplos. Ons het nie die luukse van voortslepende gesprekke met geen uitkoms nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.