O-Kaapse landelike polisiestasies te min lede, voertuie

Argieffoto van ‘n gedenkdiens vir polisielede wat dood is. (Foto: GCIS)

Die meeste polisiestasies in landelike gebiede in die Oos-Kaap, wat veral moet help om plaasaanvalle te bekamp, is onderbeman of het ʼn tekort aan hulpbronne.

Só het die provinsiale LUR vir veiligheid, Weziwe Tikana-Gxothiwe, in antwoord op ʼn vraag in die provinsiale wetgewer aangedui.

Luidens Tikana-Gxothiwe het ʼn skamele 14 uit die 162 (8,6%) polisiestasies in landelike gebiede genoeg polisiebeamptes. Die res het almal ʼn tekort aan beamptes. Die grootste tekort is by Ncobo (58 polisielede), Butterworth (29 lede), Graaff-Reinet en Grahamstad (elk 28 lede), Eliot (26 lede), Lady Frere (25 lede), Mqanduli (24 lede) en Dutywa (22 lede). Altesaam 40 uit die 162 (25%) stasies het nie genoeg voertuie nie. Vyf van die stasies het nie water nie omdat die boorgat ingeval het of die waterpomp nie werk nie. Dit gaan klaarblyklik die swaarste by Queenstown en Humansdorp, wat onderskeidelik ʼn tekort aan 24 en 13 voertuie het. Volgens die LUR se antwoord sal bykomende voertuie wel tydens die huidige boekjaar verskaf word.

Benewens ʼn tekort aan polisielede en voertuie is daar ook net een forensiese laboratorium in die hele provinsie om forensiese bewyse wat tydens ontleding van misdaadtonele ingewin word, te ontleed. Dié laboratorium is in Port Elizabeth geleë. Daar is ook net drie provinsiale inspekteurs wat misdaadtonele kan ontleed.

Gesteelde skape in Mount Flecher. (Foto: SAPD)

Luidens misdaadstatistieke wat in September bekendgestel is, het die Oos-Kaap verlede jaar die meeste plaasmoorde (12) van al die provinsies aangeteken. “Veediefstal het ook gedurende die tydperk van algehele afsondering die hoogte ingeskiet, met 5 636 vee ter waarde van R17,9 miljoen wat tussen Mei en Julie gesteel is,” sê Bobby Stevenson, die DA se woordvoerder vir veiligheid in die Oos-Kaap.

Luidens die antwoord is boere en veiligheidsgroepe ook gemobiliseer om die polisie te help om ontvlugtingsroetes af te kamp en bystand te lewer tydens plaasaanvalle. In drie uit die vyf mees onlangse plaasaanvalle (vier in Julie en een in Junie) is verdagtes wel aangekeer. Nog vyf verdagtes wat vermoedelik van plan was om ʼn plaasaanval uit te voer, is boonop op ʼn plaas in die Kidds Beach-gebied voorgekeer. Die verdagtes, almal tussen 33 en 48 jaar oud, word aangekla van onregmatige betreding, die besit van gevaarlike wapens en die bedoeling om misdaad te pleeg.

Die DA meen egter dit is nie genoeg nie en stel die volgende voor:

  • Die daarstel van spesialis-eenhede om plaaslike gemeenskappe te beskerm.
  • Meer navorsing en statistiese inligting oor plaasaanvalle en misdadigers moet ingevorder en aan lede van die gemeenskap beskikbaar gestel word.
  • Die polisie en misdaadintelligensie se ondersoekende kapasiteit moet versterk word, waaronder die gebruik van tegnologie soos hommeltuie.
  • Die herklassifikasie van plaasaanvalle as prioriteitsmisdade sodat meer hulpbronne hiervoor beskikbaar gestel kan word.

Tikana-Gxothiwe meen steeds dat plaasmoorde nie as haatmisdade geklassifiseer behoort te word nie, maar ondersteun die versoek om plaasmoorde as prioriteitsmisdaad te laat klassifiseer.

Stevenson het dié uitlating as teleurstellend bestempel. “Die veiligheid van ons boere, opkomend én kommersieel, is van sleutelbelang indien ons die lewensvatbaarheid van landelike gemeenskappe wil verseker en een van die belangrikste ekonomiese sektore in die provinsie wil beskerm.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Cornelius ·

So wat is nuut. Dis net n employment agency. Niemand gee n flenter om of daar n diens van enige aard of waarde gelewer word nie.

Deon ·

Ek kan onthou van so klompie jare terug wat die staat n hele lot polisie stasies in die sg landelike gebiede toegemaak het.

Pieter ·

Ja want die voertuie word vir privaat gebruik aan gewend en dan kry hulle nog gratis brandstof ook. Die land bly maar net een groot sirkus.

Wondermaarnet ·

Dit help nie hulle stel nuwe mense aan en maak nuwe stasies oop nie, want omkoopgeld praat hard.

Anel ·

Hulle gaan altyd ‘n tekort hê solank as wst hulle opleiding gaan soos dit nou aangaan. Onthou, daar tree min of meer 4000 lede elke jaar af, dit is nog van die ou garde waar daar 2 innames was, van alle rasse. Behalwe nou die wat vroeër af is agv medies of dood of bedankinking of ander. En huidiglik waar daar nie genoegsaam opgelei nie. Verder word daar lyk my deeddae meer toegesluit as iets ander. En blankes kry ook nie sommer meer die geleentheid nie. Vir die our people is dit ook maar net ‘n job. En dan bly hulle ook nie lank nie. Is altyd op soek na minder werk met meer geld. Kyk maar die gemiddelde ouderdom. So baie kennis wat in al die afdelings verlore gaan vir altyd. Daar is wel paar wat toegewyd is, maar hulle is in die minderheid. Geen leierskap soos vroeër nie. Sê maar net.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.