‘O.R. Tambo-veiligheidskontrak is verdag’

Argieffoto

Die South African Transport and Allied Workers Union (Satawu) het Donderdag ʼn beroep op Blade Nzimande, minister van vervoer, gedoen om ondersoek in te stel na die redes waarom die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) ʼn vyf jaar lange sekuriteitskontrak aan ʼn buitelandse maatskappy “sonder die nodige kundigheid” toegeken het.

Die vakbond het in ʼn verklaring gesê Satawu versoek Nzimande om ondersoek in te stel hoe Checkport SA die kontrak kon ontvang aangesien die instansie nie deelgeneem het aan die tweede ronde van die tenderproses nie en ook nie die kundigheidsvlak het om ʼn belangrike nasionale sleutelpunt soos die Internasionale Lughawe O.R. Tambo te beveilig nie.

Volgens Satawu het Acsa die tender aan Checkport SA, wat deel is van die multinasionale groep Swissport International, toegeken om veiligheidsdienste by die lughawe, onder meer by beheerde toegangsgebiede, te verskaf.

“Die toekenning van die tender is verdag as daar in ag geneem word dat Checkport SA nie een van die maatskappye was wat aanvanklik gekeur is om vir die kontrak te bie nie. In 2016 het Acsa ʼn voortenderproses van stapel gestuur waarvolgens belangstellende maatskappye kon aansoek doen om sertifisering sodat hulle kon bie vir die veiligheidsdienste by O.R. Tambo,” het Satawu gesê.

Ses maatskappye, wat Fidelity en Reshebile Aviation and Protection Services insluit, was suksesvol en is gesertifiseer om te bie.

“Checkport SA was nie een van hulle nie. Rolspelers in die bedryf was dus heel verstaanbaar geskok om te hoor Checkport SA het die kontrak gekry en sal in April oorneem.”

Die vakbond het bygevoeg dit is nog meer skokkend dat die maatskappy die tender gekry het ondanks hul 100%-status van buitelandse eienaarskap.

“As maatskappy wat grootliks in staatsbesit is, moet Acsa die regering se noodsaaklike Breë Basis Swart Ekonomiese Bemagtiging (BBSEB) en werksgeleenthede instel,” het Satawu gesê.

Die kontrak vereis verder gespesialiseerde vaardighede en volgens Satawu het die meeste lede van die Burgerlugvaartowerheid-gesertifiseerde siftingspersoneel aanbiedinge van indiensneming van Checkport SA van die hand gewys omdat die vergoeding wat die maatskappy bied te min is.

“Nou werk Checkport SA meestal met nuwe, onervare personeel en dit plaas die veiligheid van die O.R. Tambo-lughawe in gedrang, des te meer omdat dit ʼn nasionale sleutelpunt is,” het Satawu gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Loftie ·

Ja nee, skielik “verdag” nou dat daar nie genoeg BEE broers en susters baat nie ne

marous ·

Want die lughawe is te gevaarlik vir SA sekuriteits wagte ?

Reti ·

Gaan vir hulle Satawu! Vind uit wat is storie agter die storie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.