OB bevind teen weermag, polisie dekades ná soldaat se dood

Die Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Twitter)

Meer as 20 jaar ná die dood van lt. Danie Pieterson tydens weermagopleiding het die Openbare Beskermer (OB) bevind dat die weermag, die polisie en die werkloosheidsvergoedingskommissaris onbehoorlik gesloer het met die ondersoek na sy dood en die uitbetaling van vergoedingsvoordele wat sy naasbestaandes toekom. Dié drie instansies moet nou skriftelik aan Pieterson se ma om verskoning vra en sorg dat die eis binne 30 dae uitbetaal word.

Pieterson se ma, net bekend as P. Pieterson, het ʼn klag van onnodige vertraging, wanadministrasie en onbehoorlike gedrag teen die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW), die polisie en die vergoedingskommissaris ingedien. Dít nadat haar seun op 3 Februarie 1998 inmekaargesak het terwyl hy aan ʼn oefenmarathon van die weermag in Oudtshoorn in die Wes-Kaap deelgeneem het. Hy is na ʼn hospitaal in George gehaas, maar is die volgende dag aan hitte-uitputting oorlede.

Pieterson se ma het gekla dat die polisie op Oudtshoorn en die SANW nooit die uitkoms van hul onderskeie ondersoeke na haar seun se dood aan haar bekendgemaak het nie. Sy het ook gekla dat die SANW versuim het om haar eis vir die uitbetaling van vergoedingsvoordele aan die vergoedingskommissie in te dien en dat die kommissie om die beurt onbehoorlik gesloer het met die verwerking en uitbetaling van dié voordele aan haar.

Tydens ʼn nuuskonferensie Maandag het die OB, adv. Busisiwe Mkhwebane, haar bevindings oor dié saak bekendgemaak. Sy het bevind dat die weermag én die polisie inderdaad versuim het om Pieterson se ma behoorlik in te lig oor die uitkomste van hul ondersoek na sy dood. Die weermag het ook versuim om die eis en gepaardgaande dokumentasie betyds aan die vergoedingskommissie te oorhandig, om te verseker dat Pieterson se eis betyds verwerk en uitbetaal word. Volgens die OB het die fonds ook later onbehoorlik gesloer om die eis te verwerk.

“Bogenoemde kom neer op onbehoorlike gedrag en wanadministrasie en het veroorsaak dat die eiser onbehoorlik benadeel is,” het Mkhwebane gesê. Die SANW, die polisie én die vergoedingskommissaris moet nou binne 30 dae skriftelik aan Pieterson se ma om verskoning vra en ook verseker dat die betrokke eis weens haar seun se dood aan haar uitbetaal word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

BoerSonderRoer ·

Nee dis reg baas. Gee my net so 22 jaar dan sal ek dit doen.

Fedup ·

As if mkhwebane and her band is so much better?
They are 100 times worse than it was in the 90,s.
Hypocritical crap.

Jack ·

Dit is ongelukkig so dat swart eisers se klagtes voorkeur kry en minderheidsgroepe se klagtes aan die agterspeen trek. Ons moet egter erkenning gee aan die OB as sy haar werk wel doen, al is dit soms baie laat. Liewer laat as nooit.

Leonard ·

Elke mens se Lewe is Kosbaar
MAAR waar daar ‘n ROKIE trek …..

PieterP ·

Sloer is seker die sterkste woord wat hier hebruik mag word sonder om iemand te hard in die gesig te vat…

ES ·

Ek wonder of hierdie bevinding ook omgedraai gaan word deur die hof, net soos haar vorige bevindings. Ongelukkig is sy berug daarvoor dat sy nie haar huiswerk doen voordat sy bevindings maak nie. Ek hoop sy is hierdie keer reg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.