OB bevind Wes-Kaapse LUR het gedragskode oortree

Anton Bredell. Foto: Wes-Kaapse regering

Die openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, het in ʼn verslag bevind die Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, Anton Bredell, het die gedragskode vir sy amp oortree toe hy die aanstelling van ʼn munisipale amptenaar in George probeer vertraag het.

Sy het bevind Bredell se verweer dat hy opgetree het in sy destydse hoedanigheid as provinsiale voorsitter van die DA, is ongeldig omdat hy nie in so ʼn geval ophou om ʼn LUR te wees nie.

Nou dring die ANC, wat die opposisieparty in die provinsie is, daarop aan dat die Wes-Kaapse premier Alan Winde, van die DA, Bredell afdank. Maar die openbare beskermer het die aard van die straf in Winde se hande gelaat, en hy meen die ANC se aandrang is buitensporig.

Oor die basiese feite van die saak is daar eenstemmigheid. Op 8 Mei 2018 het Bredell, as provinsiale DA-voorsitter, ʼn brief onder ʼn DA-briefhoof gestuur aan die burgemeester, speaker en hoofsweep van die DA-beheerde stadsraad van George, asook aan die voorsitter van die DA-koukus in George, dat daar nie voortgegaan word met die aanstel van ʼn direkteur: korporatiewe dienste vir die munisipaliteit totdat toestemming om die aanstelling te maak toegestaan is deur die federale dagbestuur van die DA nie.

Die ANC-leier in die Wes-Kaapse wetgewer, Cameron Dugmore, wat die klag ingedien het, het aangevoer dis kragtens die ministeriële gedragskode onbehoorlik dat die LUR ingemeng het by die aanstelling van ʼn munisipale amptenaar.

As verweer het Bredell aangevoer hy het die brief getuur aan DA-lede in sy rol as provinsiale voorsitter van die DA ter vervulling van sy politieke mandaat om te verseker dat die wettige aanstelling van bevoegde, senior, strategiese of politieke personeel plaasvind sodat die DA se verkiesingsbelofte van kundige en effektiewe administrasie waar die party regeer, beslag kan kry.

Bredell het aangevoer hy het nie ingemeng by die aanstelling nie. Hy het bloot die betrokkenes aan hul rol kragtens die DA se interne reëls herinner.

Volgens Bredell is die doel van die siftingsproses binne die DA om toe te sien dat vrot appels van ander munisipaliteite nie aanstellings kry in DA-munisipaliteite nie, want hulle is moeilik om te verwyder as hulle eers aangestel is.

In hierdie geval het gerugte volgens Bredell die rondte gedoen dat een van die kandidate op die kortlys ʼn kriminele rekord het, en Bredell het aangevoer dat die doel van die brief strook met sy oorsigrol as LUR.

Die openbare beskermer het Dugmore gelyk gegee en bevind “’n LUR oortree die ministeriële gedragskode as sy of haar optrede as ʼn lid van ʼn politieke party, ter bevordering van die belange van die party, in konflik is met sy of haar statutêre verantwoordelikhede om behoorlike en effektiewe bestuur deur ʼn munisipaliteit te verseker in sy of haar rol as ʼn LUR”.

In hierdie geval het Mkhwebane bevind dat Bredell se politieke betrokkenheid in die aanstelling van ʼn senior amptenaar deur die stadsraad in elk geval sy onpartydigheid in geval van ʼn appèl (wat hy in sy hoedanigheid as LUR moet aanhoor) in die gedrang bring.

Sy het bevind sy optrede het sy plig om behoorlike regering in die munisipaliteit te verseker, in konflik geplaas met sy private belang, die belang van die politieke party wat hy verteenwoordig, en is ʼn verbreking van die ministeriële gedragskode.

Haar bindende bevinding oor remediërende stappe teen Bredell vereis dat Winde as premier ʼn kopie die verslag by die provinsiale wetgewer indien, asook enige kommentaar wat die premier sou wou indien, en ʼn verslag van enige optrede wat geneem is of geneem sal word.

Winde moet Mkhwebane binne 30 dae in kennis stel of haar remediërende stappe gedoen is, en watter stappe teen Bredell gedoen is of gedoen gaan word.

Dugmore het gesê die verslag volg op verskeie bewerings dat Bredell as LUR in DA-belang optree. Nou moet hy afgedank word.

Die ANC sal by die speaker van die wetgewer, Masizole Mnqasela, aandring op ʼn openbare debat oor die verslag. Die verslag sal ook aan dr. Nkosazana Dlamini-Zuma as minister van samewerkende regering, die Nasionale Raad van Provinsies, die parlementêre portefeuljekomitee oor samewerkende regering en die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging (Salga) voorgelê word vir optrede.

In reaksie het Winde gesê hy het die verslag ontvang. Hy en die provinsie se regspan bestudeer die verslag van 26 bladsye en sal te gelegener tyd ʼn finale verklaring daaroor uitreik.

“Dit is egter reeds duidelik dat die remediërende stappe beperk is tot die ter tafel legging van die verslag in die wetgewer, met die kommentaar, indien enge, van my kant.

“Dit is dus absoluut duidelik dat mnr. Dugmore desperaat probeer om gesubstantiveerde en ongegronde bewerings oprakel om sensasie te verleen aan die werklike bevindings van die verslag. Hy beywer hom ook vir remediërende stappe wat glad nie deur die openbare beskermer aangevra word in die verslag nie. Dit is teleurstellende gedrag van die ANC, maar ongelukkig nie verrassend nie. Mense moet asseblief die hele verslag lees voordat hulle tot gevolgtrekkings kom,” het Winde gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Renier johannes

Plaas van kriminelle vang baklei julle eerder onder mekaar patetties

Die Wolf

Dugmor probeer maar net nog n bietjie aansien herwin. Weet die skrif is aan die muur vir sy korrupte party.

Baardman

Haar bevindings is nie die papier werd waarop die verslag geprint word nie

Jaco

Dit het maar in die ou SA ook gebeur, in die staatsdiens en by groot Afrikanerbesighede soos Sanlam en Volkskas: die Nasionale Party en die Afrikaner Broederbond het by daardie aanstellings ingemeng en gesorg dat hulle Broeders die jobs kry. Toegegee, bekwaamheid het toe ‘n groter rol as nou gespeel, maar die beginsel van politieke inmenging by aanstellings en jobs vir politieke pêlle was presies dieselfde as nou.

Manie

Dit klink eerder vir my asof Bredell net sy werk reg wou doen en seker maak dat verkeerde kaders nie aangestel word nie. Die einste OB verskyn mos vandag in die hof.