OB eers nie uit pos verwyder

Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (Foto: ANA)

Die parlement se portefeuljekomitee oor justisie het Woensdag besluit om eers te wag met ʼn ondersoek na die openbare beskermer se geskiktheid om die amp te beklee, wat daartoe gelei het dat die DA die komitee daarvan beskuldig het dat hulle hul oorsigplig versuim.

Die komitee het met vyf stemme teen een ten gunste van die ANC-LP Moloko Maila se voorstel gestem om ten minste tot die uitspraak van die hooggeregshof in Pretoria te wag in die aansoek om Busisiwe Mkhwebane se verslag oor die Vrede-suiwelplaas in die Vrystaat ongrondwetlik te verklaar en ter syde te stel.

Die EFF het buite stemming gebly met hul LP Thilivhali Mulaudzi wat gesê het hy moet eers die party se hoofsweep raadpleeg. Net die DA-LP James Selfe het teen die voorstel gestem.

Die DA en die Raad ter Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet (Casac) het die aansoek oor die Vrede-suiwelplaas ingedien. Dié partye het in Oktober aangevoer dat Mkhwebane nie omsigtig opgetree het in die ondersoek nie en in gebreke gebly het om hooggeplaaste politici te ondersoek wat geïmpliseer word in die korrupsie en geldwassery wat dié landbouprojek gekelder het.

Die DA vra al maande lank dat die komitee met stappe begin om Mkhwebane van haar amp te onthef. Hulle meen sy is nie opgewasse vir die taak nie en noem veral die striemende bevinding van die hof oor haar verslag rakende die Absa/Bankorp-saak.

Selfe het gesê hy glo die komitee het sy plig versuim en dat die ANC-koukus blykbaar enige begeerte kwyt is om die openbare beskermer te ondersoek.

“Blykbaar sluit mense die geledere in die aanloop tot volgende jaar se verkiesing en vermy hulle omstredenheid wat daaruit kan voortspruit om aandag aan die saak te gee.”

Selfe het bygevoeg die DA sal wag tot die hooggeregshof uitspraak oor die Vrede-saak lewer en dan weer sy mening oor Mkhwebane voor die komitee lug.

“Na gelang van die hofuitspraak wat ons kry, sal ons beslis die saak weer voor die komitee aanroer, want dit was duidelik vir ons tydens die hofverrigtinge dat die openbare beskermer se ondersoek na die Vredeplaas ʼn bespotting van geregtigheid maak.”

Mkhwebane het aan die komitee gesê die DA het geen grond om te vra dat sy van haar amp onthef word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

jaco ·

as die begunstigdes van die vrede suiwelprojek wit was, kon ek nog die swak hantering van hierdie skandaal verstaan. dis dan immers n “straf” op die wit mense vir apartheid. dis tog maar die ANC se redenasie oor wit mense
wat ek egter nie verstaan nie, is dat die ANC regering vere voel vir die patetiese lot van die swart begunstigdes van hierdie projek. Hoe is dit dan dat hulle hulle rasgenote so sleg behandel???

Adam ·

Jaco, die meerderheid ANC ondersteuners reageer net soos Afrikaners. Solank dit met jou goed gaan voel jy vere vir jou buurman. Dink jy die Ruperts en die Wiese’s ( en ek noem dit met alle respek en met inagneming van hulle filantropiese dade) slaap onrustig oor karwagte se lot.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.