OB eis optrede teen Gordhan oor ‘onwettige, geheime eenheid’

Pravin Gordhan. Foto: ANA

Die openbare beskermer (OB), Busisiwe Mkhwebane, het Vrydag verskeie regeringsfunksies, onder meer pres. Cyril Ramaphosa en die polisie, versoek om teen Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, op te tree vir sy rol in die destydse stigting van die sogenaamde “rogue” eenheid in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

Die OB het vroeër vandag ʼn verslag op ʼn mediakonferensie in Pretoria bekend gemaak waarin sy die president versoek om kennis te neem van verskeie bevindinge oor Gordhan, destyds die minister van finansies. Mkhwebane hou in die verslag vol dat Gordhan destyds die Grondwet asook die uitvoerende etiese gedragskode oortree het en dring nou daarop aan dat Ramaphosa binne 30 dae teen Gordhan optree.

“Die speaker van die Nasionale Vergadering moet binne 14 dae ná ontvangs van hierdie verslag Gordhan se oortreding van die etiese gedragskode … na die gesamentlike etiekkomitee verwys,” het Mkhwebane gesê.

Sy het ook verder die nasionale polisiekommissaris, Khehla Sitole, gemaan om binne die volgende 60 dae teen Gordhan, Ivan Pillay, voormalige adjunkkommissaris van die SAID, en amptenare wat by die SAID se intelligensie-eenheid betrokke was, op te tree.

So ook teen Gordhan se opvolger by die inkomstediens, Oupa Magashule.

Mkhwebane het bygevoeg dat sy “uitsien na die volle implementering van regstellende aksie in al hierdie verslae”.

Die OB ondersoek die beweerde stigting van ʼn intelligensie-eenheid in oortreding van die land se intelligensiekode tydens Gordhan se ampstermyn as kommissaris van die inkomstediens in 2007.

“Die bewering dat Gordhan tydens sy ampstermyn as kommissaris van die SAID ʼn intelligensie-eenheid op die been gebring het wat teenstrydig was met die voorskrifte van die Suid-Afrikaanse Intelligensiediens, word gestaaf,” het die OB gesê. “Volgens nasionale wetgewing is die SAID nie een van die nasionale intelligensiestrukture ooreenkomstig die Wet op Nasionale Strategiese Intelligensie (NSI) nie en kan die SAID slegs met ander wetstoepassingsagentskappe binne die beginsels van koöperatiewe regering saamwerk om dit te bereik,” het Mkhwebane gesê.

Volgens Mkhwebane het Pillay die sogenaamde “rogue” eenheid gestig sonder dat die Nasionale Intelligensie-agentskap (NIA), nou bekend as Staatsveiligheidsagentskap (SSA), betrokke was.

Sy sê verder dat bewyse daarop dui dat die SAID ʼn eenheid tot stand gebring en bedryf het wat inligting vinnig versamel het.

Volgens Mkhwebane moes Gordhan daarvan geweet het en was hy dus deeglik daarvan bewus dat die eenheid reeds aan die gang was. “Pillay het direk aan Gordhan gerapporteer,” sê sy.

Die stigting van die eenheid met Gordhan se goedkeuring was dus teenstrydig met artikel 209 van die Grondwet wat stipuleer dat slegs die president sulke geheime inligtingversamelingseenhede mag stig, meen die OB.

Sy het verder opgemerk dat Magashula onder eed gejok het toe hy die bestaan van dié eenheid ontken het.

“Al is die eenheid nooit die ‘rogue’ eenheid genoem nie, was die operasies en funksies daarvan soortgelyk aan dié van die aksyns- en grensbeheereenheid, ʼn eenheid wat bestaan ​​het. Gordhan se optrede soos bedoel in die stigting van die intelligensie-eenheid is onbehoorlike en teenstrydig met artikel 209 van die Grondwet en kom dus neer op wanadministrasie soos verwoord in artikel 182 (1) van die Grondwet asook magsmisbruik soos verwoord in artikel 6 (4) (ii) van die Openbare Beskermerwet.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Sarel ·

Maar sy tree nog steeds nie op teen Magshule nie. Zuma en Gordhan het mos hoeka nie klaar gekom nie.

Johan ·

Indien daar wel so ‘n eenheid bestaan het, en dit belastingontduiking bloot gelê het, moet die Minister en hierdie span medaljes kry!

PJ ·

Stem saam Johan en dan kry sy geen bedrog by dy die Vrede melk plaas debakel

Kobus ·

Ek vermoed sy oortree weer haar mandaat met die opdrag aan die Kommisaris van Polisie

Andreas ·

Hulle moet haar in haar pos hou, dalk vaar sy so goed dat almal weer glo net wit mense is onkreukbaar en is bevoeg om die land te bestuur (kom ons sê maar saggies vir Julius se onthalwe), maar wat ‘n plesier sal dit nie wees nie

PJC ·

Hierdie OB dink sy het die hef in die hand en is daarom nou baie rammetjie uitnek terwy JZ intussen breed glimlag daar in nKandla. Sy is oortuig daarvan dat sy op haar eie vir Gordhan en CR gaan ontsetel en hulle sal dus baie vinnig met haar ń plan moet maak. Hulle sal ook moet onthou dat al die JZ gesindes in die ANC haar ondersteun vandaar dat sy so selfversekerd is op die oomblik.

Johann cb ·

Dit sal ‘n skok wees as daar waarheid in die bewerings steek. Die ekonomie gaan reeds onder talle skokke gebuk.

JV ·

Klink soos n heksejag. Sy probeer alles om van Pravin ontslae te raak.

Kallie ·

Is Gordhan en Pillay wel engeltjies? Die saak moet nou na ‘n punt toe.

Andreas ·

Ek is baie, baie negatief teenoor die vrou, van voor dag een af, maar as daar waarheid in steek, spaar niemand nie, maak die land vir eens en vir altyd skoon!

Maljan ·

As daar waarheid insteek gee almal in die eenheid die erkenning wat hulle verdien. Was dit hulle wat oa Malema se misbetaling van paye blootgelê het? Kan Zuma nie vervolg word omdat hy inligting soos hierdie lek nie? As hy nie ten volle bewus van van die sogenaamde eenheid nie, waar het sy haar inligting vandaan gekry? Wanneer gaan sy David Mabuza ondersoek en onskuldig vind?

humor ·

Die nuutgestigte inteligensiediens was sekerlik suksesvol om sekere persone erg te knyp anders sou sy nie so benepe wees om van Gordon ontslae te raak nie.

fred ·

is die man rêrig n engeltjie?
Stem toe dat Pillay aftree met miljoene in sy sak en n dag later weer aangestel word met n vet salaris……is dit aanvaarbaar????

Petrus ·

Vra ek ook Fred. Indien die twee menere onskuldig is het hulle mos niks te vrese nie. Maar nee, hulle veg nou verbete om uit die hof te bly. Ek vertrou geen ANC politikus nie.

M ·

Totaal teenoorgestelde van Nugent Kom. Wie glo ons …. n Regter met n briljante reputasie of n Zuma kader wat haarself n PP noem …. mmm

John ·

Bewys van misdrywe tov belasting is ‘n sekere manier om mense voor stok en swaard te kry en dit wil ten alle koste verhoed word. Diegene wat ‘weet’ moet gestil word. Om ondersoeke na misdrywe binne SARS te probeer keer, is ‘n bewys van moontlike vergrype.

Carl Jordaan ·

Hierdie eenheid het destyds n klomp belasting ontduikers wat SARS miljoene geskuld het vasgetrap. Dit sou not etlike ander ook vasgetrap het en vir die staat biljoene kon inbring. Dit was bloot te suksesvol en het n paar vrinne van sekere politici ontstel. Hulle ondergang het in hulle sukses gele. Dit is sekerlik nie verkeerd om ontduikers vas te vat nie, behalwe in Suid Afrika, waar korrupsie hoogty vier.

Peet J ·

Volgens inligting doen die OB deeglike ondersoek na onkostitusionele optredes deur indiwidue.Wil ook graag aan Mnr. Gordhan vra of daar al goedkeuring verleen is dat Transnet pesioenarisse hulle voorlopige agterstallige pensioenbetaling kan ontvang i.v.b. met die skikingsooreenkoms.

Dirk Breytenbach ·

Wonder self daaroor, dis ‘n menseregte vergryp maar min mense steur hulle daaraan. Teen die tyd dat hulle betaal word is daar net ‘n handjie vol oor. Weereens ‘n skande vir die SA regering en SA in geheel.

Dirk Breytenbach ·

Dit voel of ons in ‘n skisofreniese land woon, hoeveel keer moet Gordhan nog vrygespreek word deur kommissies van ondersoek of weier om vervolg te word deur die NVG gebaseer op bewyse wat oor en oor aangebied word met gepaardgaande vermorsing van geld? Verder lyk dit asof niemand aan niemand in die regering rapporteer nie. As niemand die OB kan aanspreek nie sal hy/sy permanent deur enigiemand misbruik kan word om vir politieke agendas, onder die dekmantel van onafhanklikheid, en sodoende briljante mense soos Gordhan vir ewig besig kan hou in litigasie terwyl diegene besig moet wees om die land te red van verdere agteruitgang. Ons het nou genoeg gehad van die speletjie van die OB asook tandelose kommissies van ondersoek asook die SAPD se onvermoë om die “1000” sake wat vervolgingsgereed is deur te voer. Hoekom moet burgers van die land besig gehou word met die snert wat oor en oor in die pers gerapporteer word, dit dien geen doel nie en onderskat Suid Afrikaners se intelligensie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.