OB gaan Molefe se ‘goue handdruk’ ondersoek

Brian Molefe Foto: ANA

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer, het ingestem om ondersoek in te stel na die “goue handdruk” van R30 miljoen wat Brian Molefe, die voormalige hoof van Eskom, van die kragvoorsiener ontvang het.

DA-LP Natasha Mazzone het Maandag gesê die party het die OB versoek om die saak te ondersoek ná dit aan die lig gekom het dat die Eskom-raad die uitbetaling aan Molefe goedgekeur het nadat hy net 18 maande lank die uitvoerende hoof van Eskom was.

“Dit is onaanvaarbaar dat individue soos Brian Molefe, wat diep in die Guptas se sak is, so beloon word – nie ter wille van goeie werk vir die mense van ons land nie, maar eerder met miljoene om die belange van een familie te bevorder,” het Mazzone gesê.

Sy het gesê die DA het die versoek gemaak na aanleiding van die publiek se verontwaardiging oor Molefe se “goue handdruk” wat later ʼn “prestasiebonus” genoem is en nog later ʼn “pensioenuitbetaling”.

“Hierdie belaglike uitbetaling is ʼn growwe misbruik van openbare geld, veral nadat Molefe bedank het ‘in belang van goeie korporatiewe bestuur’ toe sy noue bande met die Guptas in die verdoemende staatskapingverslag aan die lig gekom het. Molefe verdien nie die R30 miljoen nie. Inteendeel, hy verdien nie ʼn sent nie. Hy moet elke sent van daardie R30 miljoen aan Eskom terugbetaal.”

Mazzone het gesê Eskom is in erge finansiële moeilikheid en die geld kan baie help om broodnodige stabiliteit by die kragvoorsiener teweeg te bring. Sy het gesê die DA sal aanhou baklei om die diepgewortelde korrupsie by Eskom uit te roei.

“Suid-Afrikaners verdien staatsamptenare wat werk om landsburgers se lewe te verbeter, nie individue wat net daarin belangstel om hul eie sakke vol te stop nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Robert Naude ·

Nuus rapportering is ook maar dubbelsinnig in die pers. Tv nuus het berig die uitbetaling is gestop deur die minister, Lynne Brown. Laas week op die tv gesê hy kry R9mij vir 8maande se werk. Nou word weer gesê hy het die uitbetaling ontvang.
Wie se berig gewing is korrek en wat moet jy glo?
Lyk my joernalistiek is ook maar net daar vir die sensasie en nie korrekte feite nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.