OB gaan skenking van Mandela-standbeeld ondersoek

'n Standbeeld van oudpresident Nelson Mandela. Foto: Ter illustrasie/Nardus Engelbrecht/SAPA

‘n Standbeeld van oudpresident Nelson Mandela. Foto: Ter illustrasie/Nardus Engelbrecht/SAPA

Die Openbare Beskermer (OB) het op versoek van die VF Plus besluit om ongerymdhede te ondersoek rondom die Nelson Mandela-standbeeld van meer as R6 miljoen wat die vorige ANC-stadsraad van Johannesburg verlede jaar aan die Palestynse stad Ramallah geskenk het.

Volgens adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus en partyleier in Gauteng, het sy party die OB tien maande gelede, aan die begin van Mei verlede jaar, gevra om die moontlikheid van tenderbedrog met die skenking te ondersoek.

“Die OB is in besonder gevra om ondersoek in te stel of Johannesburg sy eie tenderregulasies verbreek het met die aanstelling van Dali Tambo se maatskappy Koketso Growth om die projek te bestuur.”

Alberts het gesê die uitgawe is boonop aangegaan in ʼn tyd waarin die stadsraad geld moes leen om sy diensleweringskostes te dek. “Die spandabelrige vermorsing is verder gevoer deurdat ʼn afvaardiging van die stadsraad onder leiding van die burgemeester, Parks Tau, self na Ramallah gereis het om die bronsbeeld te onthul.”

Die OB is daarom ook gevra om te ondersoek of daar wel toestemming was vir die afvaardiging om die reis te onderneem, hoeveel mense deel van die afvaardiging was en hoeveel dit die belastingbetaler gekos het.

Alberts het gesê dit is ʼn oorwinning vir skoon regering en vir die Joodse gemeenskap in Israel en Suid-Afrika aangesien die ANC met uitsprake en dié soort optrede oënskynlik duidelik kant kies vir die Palestyne in die komplekse kwessie tussen Israel en Palestina.

Hy het gesê dit sou jammer wees indien dit sou blyk dat die ANC op onreëlmatige wyse geld beskikbaar gestel het om sodoende hul solidariteit met die Palestyne te bewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

M A ·

Is dit nie ironies hoe die anti-kolonisasie kampvegter se standbeeld so ultra-westers aangetrek is nie?

Delia ·

Ek persoonlik dink dis baie realisties…..trek jou baadjie aan, maak een knoop vas, lig jou arm op, ek kyk hoe ‘ongekreukel’ lyk hy nou…..
Ek’s nie ‘n Mandela ‘fan’ nie, maar daar’s niks verkeerd met die standbeeld nie….

sioux ·

wat maak sy klere saak? ek wonder eerder wat kan die standbeeld aan die lot van die Ramallah vemeenskap doen? kon die geld nie beter aangewend word tit voordeel van die erfbelasting en munisipale dienste betalers van Johannesburg nie?

sioux ·

at asseblief? wat maak die toestand van sy klere saak? kon die geld nie beter aangewend word tot voordeel van die erfbelasting en munisipale dienste betalers van Johannesburg nie? as Mandela beelde aan ander nasies geskenk moet word, maar die Mandela foundation dit befonds.

MANIE ·

Die anc het mos die geneigdheid om hulle te skaar aan die kant van die uitvaagsels van ons wereld en onderdrukkers van mense regte. Snaaks vir n sogenaamde bevrydings organisasie.Kyk maar China, Kuba en Zimbabwe

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.