OB gaan ‘Zumaville’ ondersoek

Die openbare beskermer, Thuli Madonsela. Foto: GCIS

Die openbare beskermer, Thuli Madonsela. Foto: GCIS

Thuli Madonsela, die openbare beskermer, gaan die ontwikkeling van ‘n R2 miljard se dorpie naby president Jacob Zuma se Nkandla-woning ondersoek.

Kgalalelo Masibi, Madonsela se woordvoerder, sê sy het reeds ‘n voorlopige ondersoek gedoen. “Dit is slegs om te bepaal of daar ‘n saak is om te beantwoord.”

Die burgerregte-organisasie AfriForum het in Augustus 2012 ‘n klag by die OB ingedien oor ‘Zumaville’ en Madonsela gevra om dit te ondersoek.

Die dorpie sal sowat 3km van Zuma se Nkandla-woning geleë wees en sal glo sowat R2 miljard kos om te bou. Daar is al vroeër berig dat belastingbetalers minstens die helfte van die projek sal finansier.

Die projek is die breinkind van Masibambisane, ʼn landelike ontwikkelingsorganisasie waarvan Zuma en sy neef Sibusiso “Deebo” Mzobe die voorsitters is.

AfriForum het die OB gevra om ondersoek in te stel aangesien die omstandighede van die projek volgens hulle op ʼn misbruik van mag deur die president neerkom. “Dit is duidelik dat Zuma in sy persoonlike hoedanigheid groot voordeel uit hierdie projek sal trek,” het Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum gesê.

“Die president sit op drie stoele. Hy is die hoof van die uitvoerende gesag in die regering, voorsitter van die regering se vennoot, Masibambisani, in hierdie saak en as burger wat persoonlike belange in Nkandla het, is hy ook ʼn begunstigde in hierdie saak. Dit is besonder oneties, om die minste te sê,” het Roets destyds gesê.

Lees ook:
‘Zumaville’-argiktekte in regsgeding
Planne vir ‘Zumaville’ gaan voort
AfriForum vra Openbare Beskermer om ‘Zumaville’ te ondersoek

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peter Says ·

Waarvoor die ondersoek ??? Niks gaan daarvan kom nie, niks. Dit is net weer n vermorsing van belasting geld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.