OB genader met nuwe inligting oor Phala Phala  

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Stefan Heunis/AFP)

Die DA het aan adv. Kholeka Gcaleka, waarnemende openbare beskermer (OB), geskryf om die inligting wat hy van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) verkry het oor pres. Cyril Ramaphosa se “vuil dollar” aan haar te voorsien.

Die SAID het Maandag bevestig dat hy geen rekord van die verklaring van buitelandse valuta, wat die Soedannese sakeman Hazim Mustafa glo by sy aankoms in Suid-Afrika ingevul het, kon vind nie.

Mustafa het die $580 000 (sowat R10,5 miljoen) glo gebruik om 20 buffels op Ramaphosa se Phala Phala-wildsplaas in Limpopo te koop. Hy het vroeër luidens mediaberigte aangedui dat hy die geld wel verklaar het.

John Steenhuisen, DA-leier, het gesê die DA se aanvanklike versoek aan die OB vir ʼn ondersoek na die Phala Phala-aangeleentheid het gesentreer rondom ‘n moontlike oortreding van die uitvoerende etiekkode.

“Ons glo egter nou dat hierdie nuwe inligting ook kan dui op oortredings van bykomende wette. As sodanig het ons dit onder die aandag van adv. Gcaleka gebring aangesien die SAID-verklaring ʼn invloed op die aanvanklike ondersoek kan hê wat nog deur haar kantoor aan die gang is.”

Die DA meen die Phala Phala-aangeleentheid begin en eindig nie by Ramaphosa nie, maar dat ʼn aantal departemente, wetstoepassingsagentskappe en staatsentiteite betrokke was.

DA-leier John Steenhuisen. (Foto: DA/Twitter)

“Dit is van kardinale belang dat ons uitpluis wat werklik op 9 Februarie 2020 by Phala Phala gebeur het, en dit alles saamvoeg om te verseker dat president Ramaphosa, soos enige ander Suid-Afrikaner, nie bo die reg verhewe is nie en volle aanspreeklikheid aanvaar.

“Die veelvlakkige aard van die diefstal en die daaropvolgende toesmeer daarvan gee ook geloofwaardigheid aan die DA se beroep vir ʼn ad hoc-komitee in die Nasionale Vergadering om die saak volledig uit te pak en te ondersoek.”

Steenhuisen meen Ramaphosa het tot op hede die howe “misbruik” om die verdoemende artikel 89-verslag om te keer, en om enige en alle meganismes vir parlementêre aanspreeklikheid te ontduik.

“Dit is in die belang van alle Suid-Afrikaners om vas te stel hoe die Phala Phala-sage inmekaar steek.

Dit is deurslaggewend vir demokratiese en parlementêre aanspreeklikheid, veral in die nasleep van die Zuma-presidentskap wat ʼn bespotting gemaak het van Suid-Afrika se instellings en die oppergesag van die reg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Wendy ·

Jy sal nooit iets daarvan hoor nie dis n ge heen en weer en dt sal onder mat ingevee wrd kyk maar

Republikein in die Wes Kaap ·

Jip. En daar is alweer analiste wat voorspel dat Ramaphosa se doppie geklink is. Die ANC beheer die diepste werking van die staat en sal enige ondersoek uitrek en laat doodloop. Dan hoor ons bewyse het verdwyn.

Johann ·

Om te dink dis die Prez van Sa wat hier betrokke is? ‘n Skelm korrupte leunaar. En as daar EEN “bank” siuasie was ,was daar beslis ander ook. Dis die ding van weg kom met iets. Jy gaan aanhou wegkom. SHAME ON YOU! Disgrace vir RSA.

Danie ·

Geld maak reg wat krom is.Die ou het n vinger in die pie in alle staats dept.Sy kaders sorg vir hom en hy vir hulle.Tyd sal hom inhaal en uitsorteer.

Sean ·

Soos die wapen skandaal al meer as 20 jaar vat om af te handel sal niks gebeur hier nie

Genis ·

Die hartseer van als is, hulle (die kaders) sien nie fout darmee.. Hulle wil nie aan reels en regulasies voldoen nie… En die ou tronkvoels,van die eiland, dink alles kom hulle toe en is vir hulle beskore.

Casper ·

Die ANC gaan dalk nou wegkom met skelmstreke maar nie by die stembusse nie.Die mense is vuisvoos onder beurtkrag,tekort aan water en gebrekkige sanitasie.Die mense sien dit alles raak en besef die ANC bedrieg en belieg hulle.Hier by ons moes hoedman skarrel om weg te kom na die mense sy brigade met klippe bestook het.Hy besoek misdaadtonele maar spreek nie die oorsake aan nie.

Koos 100 ·

Casper, alhoewel jy reg is gaan die ANC weer en weer in verkiesings wen, want 1. Hulle maak staat op die stem van die een wat hulle kan beheer met ‘n kospakkie en maatskaplike toelaes. 2. Die wat dik is vir die ANC het geen ander alternatief om voor te stem nie, en stem daarom glad nie. 3. Die OVK is ‘n regerings instansie en aanstellings daar word deur die regering gedoen. 4. Die ANC sal omkoop, moor, dreig en enige iets doen om aan bewind te bly, want hulle regeringslede kan niks ander doen as om politikuste te wees nie . 5. Koalisies sneuwel omdat daar eerste na onsself en dan na die mense omgesien word, as daar geld oor is.
Ek dink daar kan nog baie hierby gevoeg word.

Republikein in die Wes Kaap ·

Jy is reg Koos. Kiesers wat keelvol is vir die ANC sal eerder wegbly van die stembus. Dit sal nog vir dekades so bly.

melaney ·

Volgens vanoggend se nuus kuier Peter Hain van VK weer in SA. Hy noem al die staats departemente wat in die niet verdwyn het. Hy moedig “The people of the struggle” om teen die regering op te staan en terug te veg. Hy vergeet dat hy destyds deel was van “The struggle”. Hy sal nie nou erken dat hy deel gehad het daarin nie. Net so min sal Ramaphosa erken waar hy die geld vandaan gekry het nie. Ons kan tjank soos ons wil, die waarheid sal nooit openbaar gemaak word nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die Lord moet die optogte in London lei.

Wat op dees Aarde ·

Hierdie hele Phala Phala fiasko laat my baie dink aan die destyde Pres. Nixon van die VSA met die Watergate Skandaal… Maar Ramaphalaphala is té lafhartig om die regte ding te doen en te bedank soos wat Nixon gedoen het.

Papsak ·

Dit gaan maar net onder die mat in gevee word weer maar verder sal hy niks oor kom nie hulle doen mos niks verkeerd nie

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Ek het geen vertroue in en respek vir Suid-Afrika se staatspresident nie. Finish en klaar.

Antjie1 ·

net soos Zuma aanspreeklik gehou was vir sy oortredings , daar sal niks van kom nie , as Ramaposa aanspreek gehou word vir sy oortredings, dan moet zuma ook , want hy was ook skuldig aan baie dinge , dis nie regverdig dat die een kan weg kom met sy dade en die ander ene nie, what goes for one , must go for all…..punt
……..net my 5 sent

Esme ·

Daar is al soveel Kommissies wat alles ondersoek en geen skuldiges word in hegtenis geneem nie. Alle korrupsie verdwyn soos mis voor die son en daar is meer onwettige transaksies as wettige transaksies wat orals plaasvind. Aai, waarheen het ons mooi land verdwyn?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.