OB gevra om Telkom se Maseko te ondersoek

telkom_01Thuli Madonsela, Openbare Beskermer, is versoek om ondersoek in te stel oor Johannesburgse stadsbeamptes se beweerde ingemeng by die metropolisie se ondersoek na Telkom se uitvoerende hoof, het Business Times Sondag berig.

Oupa Segalwe, Madonsela se woordvoerder, het aan die koerant gesê die ondersoek sal fokus op die stad Johannesburg en die metropolisie se beweerde versuim om die saak te hanteer toe dit aanvanklik aan die lig gekom het.

Sipho Maseko, Telkom se uitvoerende hoof, word vir bedrog ondersoek oor hy glo vervalste nommerplate gebruik het. The Star het in Julie berig dat Maseko sy vorige motor se nommerplate gebruik het. Mabena Motshoane, ʼn sakeman, het Maseko se Range Rover gekoop en wettiglik die nommerplate gebruik.

Maseko het glo verkeersboetes van R30 000 gekry maar die rekeninge is vir Motshoane gestuur. Motshoane het toevallig op ʼn dag verby Maseko op die hoofweg gery en gesien Maseko het dieselfde nommerplate as hy. Hy het ʼn saak by die metropolisie en polisie aanhangig gemaak.

Metrobeamptes is na Maseko se huis in Houghton, Johannesburg maar Maseko het glo geweier dat hulle na sy motor kyk.

Die beamptes is glo beveel om Maseko se huis te verlaat nadat daar aan hulle gesê is dat Trevor Fowler, die stadsbestuurder, in die saak ingegryp het.

Metrobeamptes is glo ʼn paar dae later toegelaat om Maseko se motor te sien maar die nommerplate is glo toe reeds verander.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.