OB gevra om Vrystaat-onderwys te ondersoek

fedsas-SAMRK-vrystaat-onderwysdept-2018-01-19

Fedsas het Vrydag ‘n klag teen die Vrystaatse onderwysdepartement by die SA Menseregtekommissie en openbare beskermer ingehandig. Foto: Fedsas/Twitter.

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) het Vrydag ʼn klag oor die Vrystaat-onderwysdepartement se herhaalde versuim om openbare skole se jaarlikse oordraggeld te betaal by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) en die openbare beskermer (OB) gelê.

“Elke jaar, sonder uitsondering, begin Vrystaatse skole die nuwe skooljaar sonder geld vir bedryfsuitgawes soos water, elektrisiteit en skryfbehoeftes. Provinsiale onderwysdepartemente is verantwoordelik om twee keer per jaar geld van die nasionale tesourie aan skole te betaal, maar dit gebeur egter nie in die Vrystaat nie,” het dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van Fedsas, gesê.

Volgens Deacon is veral sogenaamde geen-fooi-skole se voortbestaan direk aan hierdie oorbetalings gekoppel.

“Bykomend vertraag die departement ook die aanstelling van talle skoolhoofde en posvlak 1-onderwysers (al het beheerliggame die aanbevelingsprosesse tydig en korrek afgehandel), is aanstellings nie gemaak nie en het talle skole in die Vrystaat heropen sonder permanente skoolhoofde of genoeg onderwysers.

“Die Vrystaatse onderwysdepartement het groot feesgevier oor dié provinsie se matrieks se uitstekende prestasie. Die departement se aandeel in hierdie sukses is egter bitter klein. In die meeste gevalle laat amptenare kinders in openbare skole in die steek deur hulle te ontneem van selfs die mees basiese benodigdhede soos drinkwater, toiletgeriewe en klasonderwysers.”

Volgens Fedsas probeer hulle al vir jare om die saak direk met die departement op te los. “Al ons oproepe tot samewerking val egter op dowe ore. Skole moet dikwels die bietjie geld tot hul beskikking vir regskoste aanwend om hul geld uit die departement te probeer kry. Daarom het Fedsas besluit om namens ouers en leerders in die Vrystaat die MRK te vra om hierdie aangeleentheid te ondersoek.

“Terselfdertyd sal die OB ook genader word om antwoorde te probeer kry oor hoekom die provinsiale departement telkens versuim om geld van die nasionale tesourie aan skole te betaal. Die geld behoort nie aan die departement nie – sy enigste rol hierin is om die geld aan skole te betaal. Die vraag is dus: Waar is hierdie geld?”

Die federasie het ook sy prokureur opdrag gegee om ʼn aanmaning aan die Vrystaatse onderwysdepartement te stuur om te eis dat die geld binne twee weke oorbetaal moet word. Deacon het gesê Fedsas sal die hooggeregshof ook nader indien dit nie gebeur nie.

In Maart vind die driejaarlikse verkiesing van lede van skoolbeheerliggame weer plaas en hy het ouers versoek om aan die proses deel te neem. “Met die kwalik bedekte pogings om in te meng met ouers se reg om besluite oor hul kinders se opvoeding deur middel van die voorgestelde wysigingswetsontwerp op basiese onderwys en herhaalde wanadministrasie op provinsiale vlak, is dit duidelik dat skoolgemeenskappe meer betrokke moet raak by die beheer en bestuur van skole indien ons wil vermy dat staatsbeheerde skole weer aan die orde van die dag raak. Dit is tyd vir ouers en ander rolspelers om hul stem dik te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Henk ·

Wat van die OB ondersoek Lesufi, die EFF en Gauteng onderwys?

FG ·

Sal daar iets van kom. Ons besigheid voorsien ook `n sekere produk aan die skole en moet soms maande wag vir ons betalings. Kos word voorsien deur die regering aan leerlinge op `n daaglikse basis aan skole en hul moet die produk / item gebruik om die kos te maak.. Ons sukkel dan naturlik ook om ons aankope / uitgawes te betaal. Dus moes ons noodgedwonge nou oorgaan op `n KBA stelsel. Ek moet by voeg ook dat dit net sekere instansies / skole is wat by ons, die gereelde sondaars is. Dit se vir my die mense werk onoordeelkundig ( privaat / eie gebruik) met hul toegekende toelaag.

PJC ·

Ek dink dit gaan tydmors wees. Hierdie OB ondersoek net wat sy wil en wanneer sy wil.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.