OB hof toe gevat oor Mandela-verslag

Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (Foto: ANA)

Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), het die Oos-Kaapse provinsiale regering se besluit verwelkom om haar verslag oor die onreëlmatige besteding aan oudpres. Nelson Mandela se begrafnis deur ʼn hof te laat hersien.

In haar verslag van meer as 300 bladsye het Mkhwebane bevind miljoene rande is onreëlmatig deur die Oos-Kaapse regering bestee. Die verslag is in Desember bekend gestel en Mkhwebane het voorgestel dat Malusi Gigaba, in daardie stadium die minister van finansies, vir Jacob Zuma, destydse president, moet versoek om die spesiale ondersoekeenheid (SOE) opdrag te gee om dié onreëlmatighede te ondersoek.

Volgens Mkhwebane het sy kennis geneem dat Marion Mbina-Mthembu, direkteur-generaal van die Oos-Kaapse provinsiale regering, besluit het om van die bevindinge van die verslag deur ʼn hof te laat hersien.

Mkhwebane het gese Mbina-Mthembu is veral omgekrap oor die OB se bevinding dat die provinsiale regering onbehoorlik geld van ʼn R300 miljoen-fonds wat aan die Oos-Kaapse ontwikkelingskorporasie (ECDC) vir onder meer infrastruktuurontwikkeling toegeken is, gebruik het om vir die begrafnis te betaal.

Mkhwebane het gesê sy staan by haar bevinding dat die provinsiale uitvoerende komitee die besluit geneem het om die geld te gebruik nadat Mbina-Mthembu, as destydse hoof van die provinsiale tesourie, hulle aangeraai het om dit te doen. Volgens Mkhwebane was Mbina-Mthembu se aanbeveling irrasioneel en onwettig en kom dit op onbehoorlike gedrag en wanadministrasie neer.

Mkhwebane het ook gesê sy het nie bevind daar is R300 miljoen aan die begrafnis self bestee nie, maar dat sy net verwys het na die geld wat gebruik is vir iets waarvoor dit nie bestem was nie. Die ouditeur-generaal het vroeër bevind dat R35,9 miljoen deur die provinsiale regering aan die begrafnis bestee is.

Mkhwebane het verder haar kommer uitgespreek oor mediaberigte waarvolgens Mbina-Mthembu glo gesê het die openbare beskermer is “idioties”. Mkhwebane het Mbina-Mthembu gewaarsku dat dit teen die wet is om die openbare beskermer te beledig en dat sy ʼn boete of tronkstraf daarvoor opgelê kan word.

Mandela is op 5 Desember 2013 in die ouderdom van 95 in sy huis in Houghton, Johannesburg, oorlede. Sy oorskot het eers in staatsie in die Uniegebou in Pretoria gelê voor hy in Qunu, sy tuisdorp in die Oos-Kaap, begrawe is.

Die ondersoek na die koste van Mandela se begrafnis is reeds deur Mkhwebane se voorganger, adv. Thuli Madonsela, begin, maar deur Mkhwebane voltooi.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

piet ·

Daar is mense wat nie eers n kis kan bekostig nie. Was die kis van goud gemaak.
R35 milj vir n begrafnis. Dit is belaglik. n begrafnis kos tussen R8000 en R20 000. Hoeveel mense gaan van honger dood . Dit is skandelik.

Ben ·

Die regering is onder geen omstandige hede verantwoordelike vir enige persoon se begrafnis kostes nie. Die persoonlike familie is daarvoor verantwoordelik. Hierdie is korrupsie.

SjN ·

Weereens n bewys dat daar geen benul van geldwaarde bestaan nie, hoeveel arm mense kon baat vind met die R35 m.

Genieve ·

Wie het hierdie vrou gekies as OB haar lytaal spreek boekdele in die sin dat sy weet nie wat haar pos behels nie..en hier gaan ons mense dood van die honger.

marous ·

Om na iemand te verwys as idioties is darem verskriklik vernederend . Onverklaarbaar waarom die man nie toegesluit is nie … of dalk heel verklaarbaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.