OB in beskuldigdebank vir meineed

Adv. Busisiwe Mkhwebane, OB, staan tereg op drie aanklagte van meineed. (Foto: NVG)

Suid-Afrika se openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, het Donderdag in die beskuldigdebank van die Pretoriase streekhof gesit waar sy vlugtig verskyn het op drie aanklagte van meineed.

Die Valke het die beleërde OB in Desember gedagvaar om in die hof te verskyn nadat die direkteur van openbare vervolging besluit het om met vervolging teen Mkhwebane voort te gaan.

Die saak teen haar is vanoggend tot Maart uitgestel.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) voer aan Mkhwebane het in November 2017 onder eed gelieg toe sy onregmatig en doelbewus ʼn beantwoordende verklaring in ʼn hofsaak afgelê het. Die NVG sê in die verklaring het Mkhwebane aangevoer dat sy net een vergadering met oudpres. Jacob Zuma op 25 April 2017 gehad het, terwyl sy geweet het dit is nie waar nie.

Die NVG voer voorts aan Mkhwebane het op 26 April 2018 ook onder eed verklaar – in ʼn verklaring ter stawing van haar aansoek tot regstreekse toegang of verlof tot appèl na die konstitusionele hof – dat sy op 7 Junie 2017 ʼn tweede vergadering met Zuma gehad het. Sy het aangevoer die doel van die vergadering was om Zuma se reaksie op ʼn voorlopige verslag te kry, terwyl sy geweet het dat dit nie so is nie.

Die NVG sê ook Mkhwebane het op 5 Junie 2018 in ʼn beëdigde verklaring aangevoer dat sy nie die finale verslag met Zuma op 7 Junie 2017 bespreek het nie, terwyl sy geweet het dit is nie waar nie.

Die kwessie hou verband met die sogenaamde Absa-Bankorp-saak wat gehandel het oor ʼn lening wat die reserwebank in die 1980’s aan Absa gemaak het. Die betrokke partye, onder meer Zuma as destydse president, die reserwebank en Absa, is gevra om insette oor die OB se voorgestelde remediërende opdragte te lewer.

Mkhwebane het in haar finale verslag daaroor onder meer aanbeveel dat die spesiale ondersoekeenheid ʼn bedrag van R3,2 miljard van Bankorp (Absa) moet verhaal. Sy het ook die parlement aangesê om stappe te doen om die Grondwet te wysig om die mandaat van die reserwebank te verander.

Die aanbevelings is tydens ʼn hersieningsaansoek in die hof omgekeer.

Die kantoor van die openbare beskermer is ʼn onafhanklike instelling wat die konstitusionele demokrasie moet ondersteun en versterk en dit speel ʼn administratiewe oorsigrol met die mag om wangedrag in die staat te ondersoek, daaroor verslag te doen en aanbevelings te maak.

Mkhwebane was die afgelope paar jaar egter self herhaaldelik in die spervuur oor haar hantering van verskeie ondersoeke en is reeds etlike kere in die howe gekasty oor haar ondersoekwerk en bevindings. Talle daarvan is tot dusver in die howe omgekeer. Dit sluit in nie net die Bankorp-saak nie, maar ook haar bevindings oor die Estina-suiwelplaas en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se sogenaamde geheime ondersoekeenheid, oftewel die “rogue unit”.

Die parlement het verlede jaar ook ʼn paneel aangewys wat ʼn aanbeveling moet doen oor die moontlikheid van ʼn prima facie-saak vir die verwydering van Mkhwebane uit haar amp. Dit het gevolg op ʼn mosie van die DA waarin dié party aanvoer dat Mkhwebane ongeskik vir haar pos is.

Mkhwebane se kantoor het vroeër vandeesweek gesê sy gaan met sabbatsverlof “om te rus” en dat sy tot 31 Maart met verlof is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Snowball

I think, therefore I am. – Descartes
I lie, therefore I am. – ANC

Inkpot

Die vraag is, hoekom is sy nog steeds daar?
Nou gaan sy “rus” boonop mét betaalde verlof.
Only in South Africa!

Stefan

Hierdie ding van meineed moet baie meer opgevolg en streng gestraf word.
Dit sal baie hofsake baie viniger laat klaar maak as daar nie ‘toegelaat’ word dat daar so maklik gelieg word nie.

SomeOne

ek sal die stelling onthou indien ek weer in die moeilikheid is by my werk, “sabbats verlof”

Hennie J

Baie meer veelseggend as die hoop op n suksesvolle vervolging, is haar regsverteenwoordiger. Ek lees iewers dit is niemand anders as die eff se mpofu nie. Dit se baie of hoe?