OB-kantoor slaan vure dood ná verslag

Adv. Busisiwe Mkhwebane, Openbare Beskermer. (Foto: OB/Twitter)

Die kantoor van die Openbare Beskermer (OB) het Suid-Afrikaners Dinsdag verseker dat sy kantore steeds in volle werking is – dít ondanks nóg ʼn verdoemende bevinding teen adv. Busisiwe Mkhwebane.

Die paneel wat aangestel is om te besluit of daar meriete is in die pogings om Mkhwebane van haar amp te onthef, het Maandag sy verslag daaroor aan die parlement oorhandig. Luidens die verslag het die paneel bevind daar is wel prima facie-bewyse dat Mkhwebane onbevoeg vir die pos is.

Oupa Segalwe, OB-woordvoerder, sê die kantoor het kennis geneem van die verslag.

“Die verslag is ʼn verklaring oor die beweerde bestaan van prima facie-bewyse teen die OB en nie die bevinding van enige wandade nie. Die hofproses rakende die saak is steeds aan die gang,” sê Segalwe.

“Die OB is vol vertroue dat die parlementêre en geregtelike verrigtinge, voor die hooggeregshof en Konstitusionele Hof, uiteindelik daartoe sal lei dat sy van enige beweerde oortredings vrygespreek word.”

Die OB-kantoor het terselfdertyd gesê sy dienssentrums is steeds ten volle in bedryf en die voortgesette parlementêre proses het geen regstreekse uitwerking op sy werksaamhede nie.

“Personeel by al 18 dienssentrums landwyd is steeds hard aan die werk en hanteer alle klagtes van wanadministrasie en onvanpaste gedrag in ooreenstemming met die kantoor se grondwetlike mandaat,” sê Segalwe.

Die paneel is in November verlede jaar aangewys ná verskeie striemende hofbeslissings teen Mkhwebane. Haar bevoegdheid vir die pos is sedert haar aanstelling in 2016 boonop herhaaldelik bevraagteken.

Mkhwebane het op 15 Januarie met sabbatsverlof gegaan wat tot 31 Maart duur.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Vettiemaragartos ·

Wat is sabbatsverlof en word ‘n werknemer steeds betaal gedurende die verlof?

Johnny ·

Dis nou seker die “nuwe” Afrikaans vir “sabbatical”, wat destyds, toe ons nog ordentlike Afrikaans gepraat het, bekendgestaan het as “langverlof”. Maar deesdae vertaal hulle mos die goed lettergreep vir lettergreep, sonder om eers die betekenis van die woord te verstaan.
En dié is nogal ‘n Afrikaanse blad . . .

Hennie J ·

Soos ek dit verstaan is elke kader geregtig op sabbatsverlof. Dit beteken elke werksdag is vir hulle n sabbat en hulle hoef nie te werk nie. Hulle kry wel vol betaling en mag gedurende sodanige verlof wel voortgaan om te plunder en te roof, solank dit nie hulle gemoedstoestand belemmer nie.

Pietertjie ·

Hoe maak dit sin? “Ons is onbevoeg, maar werk nog steeds volstoom.” Waaraan werk hulle?

Jack ·

Waaraan werk hulle? Seker om nog beter en meer doeltreffend onbevoeg te wees?

jzjz05 ·

Sal ook graag wil weet wat is sabbatsverlof, het in my 78 jaar nog nooit daarvan gehoor nie

Sarel ·

Wie ondersoek bedrog en wan administrasie van fonde tydens Covid.19

Pieter ·

Klink vir my dit is om te gaan bid om nie van haar amp onthef te word nie

henndrik ·

Ek is baie bly oor die uitslag van die verslag maar ek reken dit dui ook aan dat die wat vir haar gestem het eintlik ook onbevoeg is vir daardie taak

Jr ·

Mees sukksesvolle advokaat – AS U SAKE VERLORE IN AG NEEM. DALI KORT OP DIE HARKE

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.