OB kap terug oor bewering van sameswering

busisiwe-mkhwebane

Busi Mkhwebane tydens ‘n perskonferensie in Pretoria (2 Februarie 2017) Foto: Jonisayi Maromo/ANA

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), het Donderdag in ʼn verklaring gesê daar is ʼn georkestreerde komplot teen haar kantoor wat poog om die reputasie van die OB en haar onafhanklikheid te diskrediteer.

“Ek was aanvanklik nie van plan om die bewering in die Reserwebank se aanvullende verklarings deur die media te beantwoord nie. Ek voel egter dit is my plig om bewerings dat my kantoor, die presidensie en die Staatsveiligheidsagentskap saamgesweer het om die Reserwebank se mandaat te verander, te verwerp,” het Mkhwebane gesê.

Maroela Media het Dinsdag berig die regspan van die Reserwebank het ʼn verklaring by die hoorgeregshof in Pretoria ingedien wat die OB daarvan beskuldig dat sy bevooroordeeld is en die onafhanklikheid van die Reserwebank ondermyn het.

Die verklaring het verwys na ʼn vergadering wat Mkhwebane met pres. Jacob Zuma se regsadviseurs en die Staatsveiligheidsagentskap gehad het weke voordat sy haar finale verslag oor haar ondersoek na die Reserwebank se 1985 reddingsboei aan Bankorp, nou Absa, bekendgestel het. Die verklaring voer aan moontlike sameswering het plaasgevind en die vergadering met die presidensie se regspan is as “hoogs onreëlmatig” beskryf.

“Ek het inderdaad op 7 Junie met die presidensie vergader, maar wil dit laat boekstaaf deur te sê dat ek nie in hierdie vergadering die voorgestelde wysiging van die Reserwebank se mandaat met die presidensie bespreek het, of hulle daaroor geraadpleeg het nie,” het Mkhwebane gesê.

Oor haar vergadering met die Staatsveiligheidsagentskap het sy die volgende gesê: “Die publiek sal onthou dat CIEX ʼn ooreenkoms met die destydse Suid-Afrikaanse geheimediens, wat nou die Staatsveiligheidsagentskap is, aangegaan het. My vergadering met hulle was ʼn opvolgvergadering nadat die voormalige OB die voormalige hoof van dié agentskap ondervra het oor die voormelde kontrak en hoe die bestuursproses van die kontak hanteer is.

“Die gerugte en verslae wat op verskillende mediaplatforms en op sosiale media geplaas is, is verkeerd en ek verwerp alle gerugte teen my kantoor met die minagting wat die soort bewerings verdien,” het Mkhwebane bygevoeg.

Die OB het gesê sy wil die publiek verseker dat die vergadering tussen haar kantoor, die presidensie en die Staatsveiligheidsagentskap deel van haar grondwetlike mandaat was om ʼn ondersoek te doen. “As deel van my ondersoeke moet en kan ek met enige persoon ontmoet wat met ʼn ondersoek kan help.”

Sy het verder ook die Reserwebank se bewerings dat die OB nie dié bank die geleentheid gegee het om kommentaar op die voorlopige verslag te lewer nie met minagting verwerp. “Ek sal hierdie aantygings volledig aanspreek in ʼn beëdigde verklaring wat op 23 Oktober by die hof ingedien sal word.

“Ten spyte van hierdie komplot sal die OB onafhanklik en onpartydig bly. My kantoor sal voortgaan om ons werk sonder vrees, guns of vooroordeel te verrig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Carel ·

Hierdie is ook ‘n kultuur wat ontstaan het die afgelope paar jaar. Jy kan so verkeerd optree as wat kan kom en wanneer jy kort gevat word kap jy terug dat iemand jou wil diskrediteer. Ons hoop hierdie OB val saam met Zuma.

Alida ·

Stem saam. Daar was baie beter kandidate maar sy het die pos gekry om Zuma te beskerm.

voodoo ·

lyk of die prossie vasbeslote is on die reserwebank we koffers oop te key vir sy gulsige handed voordat by loop. vir diegene wat dink by gaan “val” wha ha ha by weet genoeg van sy minions on the verseker dat sy wil Sam geskiet in die parlement betreffende sy opvolger. so by gaan nog diep skep. by was nie verniet hoof van mkonto en sy geheimediens nie.

Griet ·

Carel, ek stem saam met jou en dit wil ook vir my voorkom dat sy nie regtig weet wat sy doen of moet doen by die OB nie. Plaas dat sy indiensopleiding kry by Adv Thuli en haar geheel en al distansieer van die regering en omsien na die gewone mense

vrikie ·

Geen georkstreerde komplot is nodig om haar reputasie te diskrediteer nie, sy doen dit sommer self. Net nog ‘n zuma lakei

Jos ·

Ja-nee vrikie, jy is so reg, sy doen absoluut niks. Van dat sy aangestel is, is die reserwe bank kwessie en Patricia de Lille saak die enigste wat op haar agenda was en vir my maak die besoeke met presidensie en staatsveiligheid sin soos die reserwe bank beweer. Net daar om haar meester no.1 te beskerm en salaris te vat van belasting betalers. Staatsveiligheid het onlangs ook probeer om Ramaphosa te diskrediteer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.