OB kap terug oor dagvaarding aan Gordhan

Pravin Gordhan. Argieffoto

Die openbare beskermer (OB) het Maandag teruggekap oor bewerings dat sy haar dagvaarding aan min. Pravin Gordhan om voor haar te verskyn juis so beplan het om saam te val met sy verskyning voor die kommissie van ondersoek na staatskaping.

Adv. Busisiwe Mkhwebane het in ʼn verklaring beweer sy het vier keer aan Gordhan, tans minister van openbare ondernemings, geskryf en hom versoek om te reageer op bewerings dat hy onregmatig Ivan Pillay, voormalige adjunkkommissaris van die Inkomstediens, se vroeë aftreepakket goedgekeur en later toegelaat het dat Pillay weer by die SAID aangestel word.

Mkhwebane sê Gordhan het versuim om op haar versoeke te reageer. Sy het hom daarna gedagvaar om op 14 November voor haar te verskyn en antwoorde op haar vrae te verskaf.

“Die OB is ingevolge die wet by magte om enigiemand opdrag te gee om ʼn verklaring in te dien of voor haar te verskyn om getuienis te lewer of ʼn dokument in te dien wat verband hou met ʼn kwessie wat ondersoek word,” het Oupa Segalwe, Mkhwebane se waarnemende woordvoerder, gesê.

“Daar word beweer dat die dagvaarding beplan is om saam te val met die minister se verskyning voor die Zondo-kommissie. Dit is onwaar. Toe [Gordhan] op 22 Oktober op die OB se dagvaarding reageer het, het hy aan die OB onthul dat hy op 15 November voor die Zondo-kommissie moet verskyn. Die OB was nie hiervan bewus toe sy 20 dae vantevore die dagvaarding aan die minister laat beteken het nie.”

Segalwe het ook beklemtoon dat Mkhwebane se ondersoek tans slegs voorlopig is om te bepaal of daar meriete is om ʼn volledige ondersoek na die bewerings van stapel te stuur. Daarom word Gordhan eers ʼn geleentheid gegun om op die bewerings te reageer.

“Gedurende ʼn voorlopige ondersoek versamel die OB alle relevante bewyse by enigiemand wat moontlik in ʼn posisie is om hiermee behulpsaam te wees. Ingevolge die wet is die OB by magte om enige beweerde of vermoedelike wangedrag of onreëlmatighede te ondersoek. Dit sluit in bewerings wat spruit uit mediaberigte.”

Segalwe sê die OB verwag daarom die volle samewerking van staatsamptenare en lede van die uitvoerende gesag wanneer sy sulke bewerings ondersoek. Hy het ook beklemtoon dat die wet daarvoor voorsiening maak dat enigiemand wat sonder ʼn geldige rede weier om gehoor te gee aan opdragte van die OB, of weier om antwoorde op vrae te verskaf of valse antwoorde op vrae verskaf, skuldig is aan ʼn oortreding en hieroor vervolg kan word.

Op ʼn vraag of Gordhan geregtig is op regsverteenwoordiging wanneer hy voor die OB verskyn, het Segalwe gesê die wet maak voorsiening vir regsadvies maar nie vir regsverteenwoordiging nie. “Dit beteken ʼn prokureur of advokaat kan nie namens die persoon praat wat voor die OB verskyn nie,” het hy gesê.

Segalwe het gesê Mkhwebane “sien uit na Gordhan se verskyning voor haar” en sal nie verder oor die saak kommentaar lewer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Anoniem ·

As sy maar net so verbete agter die Guptas en Ace Magashule se bloed aan was toe sy die Estina melkplaas debakel ondersoek het….

Die OB moes hulle mos betrek het volgens hierdie verklaring: “Gedurende ‘n voorlopige ondersoek versamel die OB alle relevante bewyse by enigiemand wat moontlik in ‘n posisie is om hiermee behulpsaam te wees… Dit sluit in bewerings wat spruit uit mediaberigte.”

Net nog ‘n spyker in haar kis.

Arak ·

Dit is nou gaaf om al die ondersoeke toe doen, maar gaan iemand ooit vervolg word vir al die skelm/bose streke, of is vervolging net vir ons gewone mense beskore? Sover ek weet is niemand vervolg vir die staat se moord van die psigiatriese pasiënte in Gauteng, so as die staatsamptenare nie eers vir daardie moorde aanspreeklik gehou kan word nie, is daar enige kans dat geregtigheid ooit weer sal seëvier? Dit raak moeilik om in die gesag van die wet te glo met sulke blatante dubbele standaarde.

riaan ·

Gerieflik om reels en wette toe te pas as dit jou pas maar dit te ignoreer as dit jou nie pas nie??

Hierdie OB is so ver van objektief as kan kom. Sy hoort nie in daardie kantoor nie siende dat sy keer op keer haar ware partydige en bevooroordeelde kleure (rooi of is dit geel groen en swart?) gewys het.

Mors ons belastinggeld op die nikseggende saak terwyl ernstige misdrywe deur ampies en politisie agterwee gelaat word!

Pateties

Johann cb ·

Het die OB ‘n persoonlike vendetta teen Mnr Gordhan? Hoekom word sy integriteit wéér bevraagteken? Omdat hy een van min is wat realisties dink? Alles in belang van SA! Kom tot julle sinne, mense! Vervolg oortreders!

jjobson ·

Wie is reg PG (u edele) of MG (die verleentheid selfspeler) of weg.

ne ·

Hoeveel ondersoeke moet nog gedoen word? Die mense bly praat oor die en daai ondersoek maar niks gebeur nie! Is almal kop in een mus? Gaan ons mooi land tengronde daarvan dat die meerderheid hulle verryk uit belasting gelde? Wat gaan oorbly????

Alida ·

Hulle mag regsadvies he maar dit mag nie n prokureur of Advokaat wees nie. Wie is dan by magte om regsadvies te gee.

Lerato ·

So Gordhan het aan Pillay ‘n skamele pensioen van R1. 1m toegestaan.

Dis ver onder wat so ‘n knap amptenaar werd is.

Maar dieselfde Pillay wou mos die ANC dwing om invoer belasting op duisende T-hempde te betaal. Wat ‘n cheek!

Alida ·

Wanneer kom die baasbrein aan die beurt? Ons kan nie wag vir he he om te verskyn en te getuig nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.