OB kap verbete terug oor proses teen haar

Die Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Twitter)

Die beleërde Openbare Beskermer (OB) het die speaker van die parlement, Thandi Modise, daarvan beskuldig dat sy haar grondwetlike regte skend.

Adv. Busisiwe Mkhwebane het Dinsdag gesê sy het ʼn prokureursbrief aan Modise se kantoor gestuur waarin sy ook eis dat die parlementêre proses om haar uit haar pos te verwyder opgeskort word totdat haar kommer oor sekere aspekte daarvan na haar goedkeuring uitgestryk is.

Sy het Modise daarvan beskuldig dat sy in die media kennis geneem het van die voorneme om haar uit haar pos te verwyder. Mkhwebane voer aan dit kom neer op ʼn skending van haar reg op privaatheid en waardigheid.

Modise se kantoor het Vrydag ʼn mosie goedgekeur om te begin met die proses om Mkhwebane te verwyder. Haar termyn as OB is gekenmerk deur verskeie voorvalle waar die howe skerp kritiek op sommige van haar bevindings gelewer het.

Die DA se hoofsweep, Natasha Mazzone, het in Desember, drie dae nadat die parlement formele reëls aanvaar het om die hoof van ʼn hoofstuk 9-instelling uit ʼn pos te verwyder, gevra dat Mkhwebane uit die kussings gelig moet word.

Mkhwebane het gesê haar brief aan Modise sit haar kommer uiteen oor hoe die reëls opgestel is, asook oor die grondwetlikheid van die voorgestelde proses.

Die OB sê die parlement het ʼn plig om die waardes van die Grondwet en die beginsels van natuurlike geregtigheid te handhaaf.

Sy wag nou op Modise se antwoord en sê sy hoop die kwessie kan in der minne opgelos word. “As die speaker nie reageer nie, sal ons met die regspan vergader en verdere stappe doen. Ek dink egter nie dit sal daardie punt bereik nie.”

Mazzone het teruggekap en gesê die DA is nie verbaas oor die OB se verklaring nie omdat dit “weer eens demonstreer dat sy ʼn besonderde swak begrip van die wet het”.

Sy sê die DA se mosie maak dit baie duidelik waarom die party glo Mkhwebane nie bevoeg is om die amp te beklee nie.

“Die werklikheid is dat Mkhwebane nog nooit juis geneë was dat haar optrede dopgehou word nie en sy sal met hand en tand keer dat sy verantwoordbaar gehou word,” het Mazzone gesê.

“Mkhwebane se jongste stellings bewys net hoe karig haar begrip van die wet is en bevestig dat dit die korrekte besluit is vir die DA om te vra dat sy uit haar pos verwyder moet word.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dries

Sy het haar graad in zimbabwe gekry

JV

Klou soos n neut aan n wolkombers.

Scalla

Een skuldige moet oor n ander skuldige se lot beslis, een groot sirkus.