OB-komitee weer vertraag oor Mkhwebane-regshulp  

Adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Die parlement se artikel 194-komitee, wat belas is met die proses oor adv. Busisiwe Mkhwebane se moontlike verwydering as Openbare Beskermer (OB), moes die afgelope week weer sy verhoor uitstel weens Mkhwebane se gebrek aan regsverteenwoordiging.

Mkhwebane het sedert die begin van April al reeds verskeie kere voor die komitee verskyn sonder regsverteenwoordiging nadat die kantoor van die OB dit aan die begin van Maart duidelik gemaak het dat hy net tot einde Maart vir haar regskoste kan betaal. Nieteenstaande dit is ʼn verdere R4 miljoen beskikbaar gestel.

Die OB en die OB se kantoor het nie saamgestem oor die benadering wat gevolg moet word om te verseker dat die regspan na die verhore terugkeer nie. Voordat die kwessie egter opgelos is, het die komitee korrespondensie ontvang van die OB se prokureurs, Seanego Attorneys, dat hulle om professionele redes nie meer namens Mkhwebane optree nie.

Qubudile Dyantyi, komiteevoorsitter, het gesê die komitee het kennis geneem van Mkhwebane se bevestiging dat sy Seanego se mandaat beëindig het. Mkhwebane het aangevoer sy weet nie wat die professionele redes is nie, maar sy was nie bereid om toestemming te gee wat Seanego sou toelaat om daardie redes te deel nie.

Fatima Ebrahim, regsadviseur van die komitee, het die komitee ingelig dat die OB se kantoor ook versoek is om ondersoek in te stel na die verkryging van hulp van die kantoor van die staatsprokureur, aangesien Mkhwebane glo aangedui het dat sy geen beswaar daarteen het om deur die staatsprokureur verteenwoordig te word nie.

Mkhwebane het egter aan die komitee gesê dit is nie waar nie en dat sy nie ingestem het om die staatsprokureur te gebruik nie. Mkhwebane het gesê sy het haar eie prokureursfirma wat sy sou verkies en ook aangedui dat adv. Dali Mpofu steeds bereid is om voort te gaan met die verhore en dat hy haar voorkeuradvokaat bly.

Die komitee het verder gehoor dat die prokureur-generaal die OB se kantoor ingelig het dat hy weens ʼn botsing van belange nie namens Mkhwebane kan optree nie. Tydens samesprekings onder komiteelede was dit duidelik dat daar gemengde menings oor die saak is. Sommige lede het gesê dat Mkhwebane die geleentheid moet hê om die regshulp te kry wat sy verlang. Die ander sienings was dat die komitee “agteroor gebuig het” om Mkhwebane te akkommodeer en dat dit net nog ʼn vertragingstaktiek van haar kant af is.

Dyantyi het benadruk dat die probleem nie finansiering vir regkoste is nie aangesien die OB se kantoor ʼn verdere R4 miljoen hiervoor beskikbaar gestel het. Hy het gesê die enigste kwessie waaraan die komitee nou moet aandag gee, met die hulp van die prokureur-generaal, is Mkhwebane se regsondersteuning. Die komitee sal sy werk hervat sodra Mkhwebane se regshulp gefinaliseer is.

Daar is vroeër berig Mkhwebane se regskoste bring nou die finansiële volhoubaarheid van die kantoor van die OB – wat reeds ʼn uiters beperkte begroting het – in die gedrang.

Die komitee is op 16 Maart 2021 in die lewe geroep om ʼn grondwetlike ondersoek te doen na die OB se geskiktheid om haar amp te beklee en was veronderstel om teen einde Mei sy werk af te handel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.