OB kort R3 miljoen vir Gupta-ondersoek

Atul Gupta (Argieffoto)

Atul Gupta (Argieffoto)

Die openbare beskermer het Dinsdag haar versoek, dat sy ekstra geld benodig om ʼn ondersoek te doen oor ʼn moontlike staatsvergryp, herhaal.

Thuli Madonsela se kantoor het gesê sy het R3 miljoen by die ministerie van finansies versoek, maar wag nog vir ʼn antwoord.

“Sy het gesê sy gaan minstens ʼn ekstra R3 miljoen benodig,” het Oupa Segalwe, woordvoerder vir Madonsela se kantoor, gesê.

Hy het gesê buiten die feit dat dit welbekend is dat die openbare beskermer se kantoor onderbefonds is en te min personeel het, is ʼn aparte begroting noodsaaklik weens die aard en ingewikkeldheid van die saak.

Segalwe het daarop gewys dat die Demokratiese Alliansie Madonsela versoek het om die staatsvergryp te ondersoek en of pres. Jacob Zuma in dié verband die uitvoerende etiekkode verbreek het. Sy het ook ʼn klag ontvang van die Die Dominikaanse Orde van Katolieke Priesters (DOCP) om alle regeringskontrakte en mynlisensies te ondersoek wat met die Gupta-familie verbind kan word.

Madonsela het die klagtes ontvang ná Mcebisi Jonas, adjunkminister van finansies, in Maart gesê het die welgestelde familie het hom genader om die voormalige minister van finansies, Nhlanhla Nene, te vervang. Zuma het Nene kort daarna onverwags afgedank en die finansiële markte geskud.

“Sy sal kenner moet inkontrakteer weens die omvang van die ondersoek” het Segalwe aan die African News Agency verduidelik.

Madonsela het aan verslaggewers in Johannesburg bevestig sy het die regering versoek vir bykomende finansies om die ondersoek te doen en sy wag nog op ʼn reaksie. “As ons die hulpbronne kry, sal dit baie makliker wees om die ondersoek te bespoedig.”

Segalwe het gesê dit sal nie akkuraat wees om te sê die ondersoek is reeds in volle swang nie, aangesien die instansie nog wag vir ʼn antwoord van die regering.

Die openbare beskermer het tot dusver bevestig die ondersoek val binne die instansie se jurisdiksie en die gewone stap is gedoen om formeel die betrokke partye in kennis te stel van die klag.

Segalwe het bevestig dat Madonsela die president skriftelik in kennis gestel het in dié verband.

Mmusi Maimane, leier van die Demokratiese Alliansie, het Dinsdag ʼn skrywe gerig aan Michael Masutha, minister van justisie, om te versoek dat hy self verantwoordelikheid sal neem om seker te maak dat bykomende finansies beskikbaar gemaak word vir Madonsela om haar die geleentheid te bied om met die ondersoek voort te gaan. “Die minister van justisie moet sy bestaande begroting herprioritiseer om dié fondse beskikbaar te maak,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Lance ·

Ag kry maar die geldjie by zuma …hy moet nog sy nkandla betaal

christine ·

Hulle gaan beslis nie dat sy geld kry nie, dis verseker. Sal maar n vonds moet stig. Hulle wil die een juis nie laat ondersoek nie. Dan SAL ons dit maar SELF moet doen.

rudi ·

Madonsela moet experts kry? Sy is dan veronderstel om een te wees. Mense hemel haar op omdat sy teen ANC is maar sy is nog erger as hul. Sy is EFF ondersteuner. Daar kan vinnig vasgestel word of daar gronde is vir n regsaak. Sy gaan weer maande/jare werk aan n patetiese verslag soos Nkandla

Kobus. ·

Ai, sons kan ‘n mens maar net lag oor van die kommentaar wat mense lewer. Hulle verwag dan dat jy daarop moet reageer, en wil dan hê jy moet jou mentaliteit laat daal tot hulle vlak, want dit gee hulle rede om hulle naam verder te slaan met ‘n plank, en dan gewoonlik met die hele Wendy huis. Lekker room.

Theuns ·

Die ANC Regering is Zuma. Zuma is die ANC regering. Dit lyk my die ouens wat die Regering bewimpel het se logika het glad nie gewerk nie? Die ANC, ‘n Politieke party, kies die President net omdat hulle die wenners van ‘n verkiesing was? Al die mense van Suid Afrika moes die President gekies het! Die ANC President kies die OB? Nou verwag ons die OB moet geld kry by ZUMA om hom te vervolg? So is daar baie voorbeelde van mense wat aangestel is om na hulle eie belange te kyk! Vat maar die parlementere voorsiter? Hierdie persoon moes deur al die partye gekies word en moes verkieslik iemand van buite gewees het. Die regering weet nie eers hoe die Konstitusie van Suid Afrika vertolk moet word nie. Nou word die land deur hofsake regeer wat die eenigste manier is om te red wat te redde is en dit kos Geld, baie Geld! Dit is eintlik nie eers nodig om n ondersoek na ZUMA se korrupte verhouding met die GUPTAS was te doen nie en die gevolglik Staats Kaping. Almal weet dit het gebeur en dit gebeur nog steeds. Die Zuma En Zuptas gaan net hulle strategie verander!

Jan Jooste ·

Die Seriti kommissie het by die R 140 miljoen gemors om wapentransaksies te “ondersoek”. Regter Farlam het R 153 miljoen gemors om die Marikana-salgting te “ondersoek”. KPMG het R 23 miljoen gemors om die onwettige bedrywighede by SARS te “ondersoek”. Dit is gepas dat R 3 miljoen gebruik word deur die Openbare Beskermer wat reeds ‘n rekord het van sinvolle uitkomste.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.