OB ‘kry samewerking van meeste’ in staatskaping-ondersoek

Thuli Madonsela. Foto: Werner Beukes/SAPA

Thuli Madonsela. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die openbare beskermer, Thuli Madonsela, het bevestig dat die meerderheid van die partye hul samewerking gee in haar kantoor se ondersoek na bewerings van ʼn staatskaping, het DA-leier Mmusi Maimane Sondag gesê.

Maimane het gesê hy het einde Augustus skriftelik ʼn vorderingsverslag versoek oor haar ondersoek na beweerde staatskaping in Suid-Afrika en “spesifiek die bewerings wat met die bekende Gupta-familie verband hou”. Madonsela het op 14 September gereageer deur te bevestig dat die ondersoek voortgaan en dat sy volle samewerking “van die meeste betrokke partye” ontvang.

Madonsela het ook in haar brief aan Maimane gemeld dat lywige inligting en dokumente aan haar gegee is wat nagegaan moet word. Volgens Maimane is dit ʼn aanduiding van “hoe diep pres. Jacob Zuma se program van staatskaping en sy rol in die ondermyning van die land se grondwetlike demokrasie strek”.

In die lig hiervan het die DA Madonsela se aankondiging verwelkom dat sy ʼn dagvaarding aan die sekretaris van die kabinet gestuur het, waarin sy verklarings van ministers en notules van kabinetsvergaderings eis, vanaf November verlede jaar tot April vanjaar.

In die DA se versoek aan die openbare beskermer (OB) om die Guptas se onbehoorlike invloed op die staat, sy entiteite en Zuma te ondersoek, het die DA gevra dat die OB spesifiek ondersoek of Zuma die Wet op die Etiek van Uitvoerende Lede oortree het deur hom aan enige situasie bloot te stel waar daar konflik tussen sy amptelike verantwoordelikhede en sy privaat belange kan wees.

Die DA het voorts gevra dat daar ondersoek word of Zuma enige inligting wat aan hom toevertrou is, gebruik het om homself te verryk of ʼn ander persoon onbehoorlik te bevoordeel, asook of Zuma ooit op enige manier opgetree het wat die geloofwaardigheid en integriteit van sy kantoor en die regering in gedrang kon bring.

“Vroeër vandeesmaand het die ANC in die nasionale vergadering teen ʼn mosie gestem om ʼn ad hoc-komitee aan te stel om bewerings van staatskaping te ondersoek. Dit is net nog ʼn geval waar die ANC vir Jacob Zuma en sy eie belange bo Suid-Afrika en sy mense stel,” het Maimane gesê. “Die DA bly toegewyd daaraan om te verseker dat korrupsie in alle vorme ondersoek word en dat diegene wat mense van geleenthede ontneem verantwoordbaar gehou word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Theuns ·

My ondervinding met die ANC en sy kornuite is dat hulle nie Notules van Vergaderings neem nie.Punt. Al lyk dit so. Aan die begin van vergaderings word die vorige Notules ook nie gelees om te verseker dat dit korrek neer “gepen” is nie en dat die nodige “Aksies” ten uitvoer gebring is nie! Daar is ook nie ‘n bevestiging van bywoning nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.