OB laat glo verslae wysig om politici te beskerm

Adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Die Openbare Beskermer (OB) se verslag oor die Vrede-melkplaasprojek is glo verander om bevindings teen Vrystaatse politici uit te sluit.

Adv. Nditsheni Raedani, wat van Oktober 2008 tot Desember 2018 in die kantoor van die OB gewerk het, het Donderdag dié getuienis gelewer voor die parlement se artikel 194-komitee wat belas is met die proses oor die moontlike verwydering van Busisiwe Mkhwebane as OB.

Raedani is in sy dienstydperk by die OB van gewone ondersoek na senior ondersoek bevorder. Hy het aan die komitee gesê hy is, sover hy kan onthou, in 2017 na Mkhwebane se kantoor oorgeplaas om onder meer saam met ʼn klein span gehalteversekering van ondersoekverslae te doen.

Raedani beweer die konsepverslag rakende die Vrede-melkplaasprojek is gewysig om bevindinge van finansiële wangedrag uit te sluit. Hy het getuig die konsepverslag van September 2017 het ʼn bevinding van finansiële wangedrag teen die rekenpligtige beampte ingesluit, maar die daaropvolgende verslag van November 2017 het nie daardie bevinding bevat nie.

Hy het verder bevestig dat die OB se kantoor bewyse het van Ace Magashule, voormalige Vrystaatse premier, en Mosebenzi Zwane, voormalige LUR vir landbou in die Vrystaat, se rol in die projek. Hy onthou dat daar in ʼn stadium bevindings teen hulle was.

Daar was ook ʼn vergadering wat Mkhwebane met Magashule gehad het waar hy as senior ondersoeker slegs vir ʼn sekere deel van die vergadering toegelaat is. Hy het dit baie vreemd gevind dat Mkhwebane die vergadering vroeër beëindig en verder privaat met Magashule vergader het.

Die komitee het gehoor dat van die noemenswaardige veranderinge wat aan die verslag aangebring is, onder meer insluit die verwydering van die bevindings van growwe onreëlmatigheid, magsmisbruik, oortreding van die Grondwet, onbehoorlike gedrag en wanadministrasie ten opsigte van die rekenpligtige beampte se verkrygingsaktiwiteite.

Raedani het gesê terwyl vorige weergawes van die konsepverslae aangevoer het dat die departement versuim het om aan toepaslike verkrygingsvoorskrifte te voldoen, is daar in die finale verslag tot die gevolgtrekking gekom dat die departement nooit ʼn openbaar-private vennootskap met Estina aangegaan het nie.

Volgens Raedani het die span wat die Vrede-ondersoek amptelik moes voltooi, gemeen dat daar gronde was om te bevind dat die sluiting van die Vrede-ooreenkoms die betrokke verkrygingsvoorskrifte oortree het, asook dat die gedrag van die rekeningkundige beampte onbehoorlik was en die pryse van goedere en dienste vir konstruksie en verkryging opgeblaas is.

Die veranderinge aan die finale verslag het volgens Raedani gespruit uit hul vergadering met Mkhwebane. Hy het gesê Mkhwebane het hulle opdrag gegee om dié veranderinge aan te bring, hoewel hy nie daarmee saamgestem het nie. Hy beweer hy het Mkhwebane gewaarsku oor wat regskenners oor die verslag sal sê, asook dat haar veranderinge probleme sal veroorsaak. Mkhwebane het glo gesê sy gee nie om nie.

Die komitee het ook gehoor dat die OB se kantoor “toksies” was. Raedani het aan die komitee gesê die rede waarom hy die kantoor van die OB as ʼn onaangename werksomgewing beskou het, was sy opvatting dat hy deur Mkhwebane geteiken is.

Hy het gesê hy het vergelding gevrees omdat hy ʼn vakbondlid was. Raedani het gesê hy wou nie gehad het sy naam moes “deur die modder gesleep” word nie en dat hy daarom besluit het om te bedank.

“Ek het ʼn gevoel gehad dat ek gespring het voordat ek gestamp is,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Hennie ·

Hier is die titel van haar Autobiografie wat sy gerus in die tronk kan skryf: Satan’s dumbest daughter!

Ligloop ·

Genade genade hier is baie geld weg en nou kos dit ons nog geld om na die sirkus te kyk.

Nie Verbaas ·

Sy speel vir tyd om nie haar voordele te verloor nie en staat duld dit. Hoeveel getuienis soek hulle nog dat sy totaal onbevoeg is? Maar nee, kader beskerm kader. Sy moet toegesluit word.

Samuel ·

Nie so maklik toesluit nie. Al sou die parlementêre komitee besluit sy is onbevoeg, moet dit met ‘n twee derde meerderheid in die parlement goedgekeur word.

Tanniepetoors ·

En Mpofu maak al hierdie getuienis af as irrelevant ten opsigte van haar onbevoegdheid. Hy is stadig maar seker self besig om seker te maak sy gaan definitief werkloos wees. Dankie tog!

Koos 100 ·

En die EFF vra wat sy verkeerd gedoen het. Hulle ondersteuners moet baie bekommered wees!

Peter ·

Kader krimineel, en ons betaal dat sy soos ‘n koningin lewe

Jackie ·

Hoe het die on bevoegde vrou die werk gekry. Aan gestel om zuma se belange te bevorder

domheks ·

‘OPENBARE BESKERMER” wonder of die vrou weet waarvoor dit staan? Om die publiek te beskerm nie die skelm kaders nie! Dit is in elk geval die belastingbetalers se geld wat haar salaris betaal!

Jr ·

Hoekom poer poer julle nog. Sit haar in die pad huistoe of liewerste TRONK TOE. MI “SIES OB

Henry ·

Ons het juis n ob om al die skelms uit te wys. Wat helo dit om so n instelling te hè as hulle net eenvouding due waarheid verdraai

Kokerboom ·

Hoekom is die posisie so onaantasbaar??? Stel onmiddelik reg!!!

JohanR ·

Sy ht van die begin af vir die ANC gewerk! Vir die ANC was Thuli Madonsela ‘n GROOT fout.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.