OB laat vaar verskeie hoë-profiel politieke ondersoeke

Busisiwe Mkhwebane, die Openbare Beskermer (Foto: ANA)

Die Openbare Beskermer (OB) het gedurende die eerste kwartaal van 2020 altesaam 13 ondersoeke afgelas nadat haar kantoor bevind het dat die bewerings in dié ondersoeke ongegrond is. Dit sluit in ʼn klag oor ʼn omstrede kontrak tussen Transnet en die Anglo-filiaal Kumba, wat deur Maria Ramos, destydse uitvoerende hoof van Absa, onderteken is.

Adv. Busisiwe Mkhwebane, OB, het Maandagmiddag tydens ’n mediakonferensie gesê haar kantoor het ’n ondersoek laat vaar na bewerings van wanadministrasie, korrupsie en verskansing van monopolieë met betrekking tot die kontrak wat 25 jaar gelede tussen Transnet en Kumba aangegaan is.

Die OB het in 2016 aangedui dat sy die meriete van ʼn versoek deur Mzwanele “Jimmy” Manyi oorweeg om Ramos vir korrupsie en wanadministrasie te ondersoek.

Maria Ramos (Foto: ANA)

“Al die aantygings wat in die klag vervat is, was ongegrond. Daar is gevolglik geen regstellende stappe in hierdie saak geneem nie,” het Mkwebane nou bevestig.

’n Ondersoek na bewerings dat die Wes-Kaapse LUR vir gesondheid, Nomafrench Mbombo, voordele of borgskappe tydens ʼn spesiale verjaarsdagviering in September 2016 ontvang het, is óók afgelas.

“Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat die LUR geen voordeel, geskenk of borgskap soos beoog in die uitvoerende etiese kode ontvang het ten opsigte van die geselligheid wat op 10 September 2016 in die Radisson Blue Hotel in Kaapstad gehou is nie,” het die OB verduidelik.

’n Ondersoek na bewerings dat die voormalige minister van landbou, bosbou en visserye, Senzeni Zokwana, die parlement in 2018 mislei het, het ook die afgelope kwartaal in die slag gebly.

Volgens dié bewerings het Zokwana in Junie 2018 wanvoorstellings gemaak in antwoord op ’n parlementêre vraag oor die onregmatige verwydering van perlemoen by winkels. “Dié bewerings is ongegrond,” het Mkhwebane gesê.

Die OB se kantoor het verder sy ondersoek na bewerings van magsmisbruik deur die eens waarnemende burgemeester van die Stad Tshwane, Kgosientsho Ramokgopa, en destydse stadsbestuurder, Jason Ngobeni, laat vaar. Dié bewerings het betrekking op ʼn tugproses wat teen Andile Dyaka, ʼn voormalige finansiële hoof van die stad, gevolg is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Jr ·

Verbaas my glad nie met haar rekord teen die ANC en al die eier op haar gesig. Nou moet plus punte weer verdien word.

Sarel ·

Begalwe vir Ramos is die ander almal Politieke figure. Laat jou dink.

Louw ·

Maria Ramos se geskiedenis bewys sy is n baie belangrike politieke pawn.

Jack ·

Daar behoort ‘n meganisme te wees wat die OB in staat sal stel om die koste wat sy aangegaan het ten opsigte van ongegronde klagtes , kan verhaal. Al hierdie geliegery vir politieke voordeel moet endkry. Waarom moet die belastingbetaler daarvoor opdok?

Maroela Burger ·

geen vervolgings van enige ANC lede sal ook gedoen word nie. Sy is nou maar soos alle ANC topbestuur onbevoeg vir dit waarvoor hulle aangestel is nie.

4ntj13 ·

Mkhwebane = politieke puntesoeker en waarheid-verduisteraar

Die Wolf ·

Beskerm maar net haar joppie, anders is die poering dae verby.

Eerlik ·

Hierdie madam kom nie naby Thuli Madonsela se toewyding en ervaring nie! Dis tyd dat sy gaan!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.