OB looi Prasa oor onwettige tenders en besteding

Foto: @POWER987News/Twitter

Foto: @POWER987News/Twitter

Lucky Montana, geskorste uitvoerende hoof van die Passasierspooragentskap (Prasa), het die maatskappy miljoene rande gekos weens die onbehoorlike en onwettige toekenning van tenders en onbehoorlike aanstellings tydens sy ampstermyn.

Adv. Thuli Madonsela, die openbare beskermer (OB), het dié bevindings gemaak in haar verdoemende verslag oor Prasa, getiteld ‘Derailed’, wat Maandag in Pretoria bekend gestel is.

Madonsela het bevind bewerings dat Montana onbehoorlik die kontrakte van Prasa-bestuurders beëindig het, het meriete. “Die bewering dat mnr. Montana onbehoorlik die dienste van vyf van sy bestuurders beëindig het soos wat in hierdie verslag genoem word, is gestaaf. Mnr. Montana het die dienste van vyf uitvoerende bestuurders tussen 2008 tot 2013 beëindig sonder om behoorlike prosedures te volg,” het Madonsela gesê.

Die ongegronde afdankings het daartoe gelei dat die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) van die besluite omgekeer het. “Prasa het gevolglik arbeidsgeskil-skikkings ten bedrae van R3 816 735 betaal, hoofsaaklik as gevolg van prosedurele onreëlmatighede in die dissiplinêre stappe wat teen die betrokke amptenare geneem is.”

Madonsela het ook in haar verslag verwys na tenders wat aan Siyangena Technologies toegeken is om hoëspoed-passasiershekke by treinstasies te verskaf. Volgens die verslag is ʼn tender van R1,95 miljard aan die maatskappy toegeken en is die regte tenderprosesse nie gevolg nie wat neerkom op wanadministrasie en onbehoorlike optrede.

Madonsela het ook bevind ʼn tender van R256 miljoen is onbehoorlik aan Siemens toegeken. In die verslag word daar ook verwys na ongerymdhede rakende kontrakte vir skoonmaak- en veiligheidsdienste. Sy het bevind dat Prasa se aanstelling van ʼn mediamaatskappy om die Metrorail-tydskrif te publiseer en te versprei onbehoorlik was en sonder die nodige tenderproses plaasgevind het. Die kontrak is ook in Maart vanjaar verder verleng ondanks waarskuwings van die OB.

Volgens Madonsela het Prasa sy begroting vir die 2009/2010-boekjaar met meer as R500 miljoen oorskry. Die verslag verwys ook na Prasa wat geboue in Braamfontein gehuur het en die geboue 20 maande voordat die huurkontrak verval het, nie meer gebruik het nie, maar nogtans daarvoor betaal het.

Madonsela het intussen ʼn beroep op Dipuo Peters, minister van vervoer, gedoen om op te tree. “Die minister van vervoer moet verseker dat die Prasa-raad die dade van wanadministrasie en onbehoorlike gedrag wat in die verslag genoem word oorweeg en behoorlik dissiplinêre aksie neem teen Prasa-beamptes na wie se optrede in die verslag verwys word.”

Klik hier vir alle vorige berigte oor Prasa op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Francois ·

Ek wil net weet…wie gaan die klomp geld terug betaal…Wat van Montana, “PAY BACK THE MONEY”?

Peet Schabort ·

Lucky Montana was vir PRASA nie ‘n ‘lucky packet’.

Johann Marx ·

As ek my lëe beursie laat rondlê en iemand steel dit, kry hy net ‘n lëe beursie. As ek ‘n R1000 daarin sit, en dit laat rondlê en iemand steel dit, kry hy ‘n beursie met R1000 in. Waarom steel hierdie mense so baie geld? Want daar is so baie geld om te steel……

Piet Pompies ·

Baie van ons werk elke dag met groot bedrae geld en die geleentheid om te steel of bedrog te pleeg is altyd daar. Gierigheid maak party mense dom en hulle sal sulke geleenthede gebruik om geld onwettig te bekom. So gaan dit met Regerings beamptes, gierigheid, status en uitspattige lewens styl is aan die orde van die dag. Hoe meer ons steel, hoe meer wil ons hê!

neelsie ·

Lucky trap nou water soos n drenkeling in sy eie poel van leuns.
Die “lucky packet” se lekkergoed het nou opgeraak!Hoop die reg gaan sy gang, regverdiglik.
Hierdie treurige regering moet nou sy werk begin doen!!Sit net en vet word in parlement..

alex ·

Lucky dit wil vir my voorkom jy is nie meer die lucky ou nie.

Ou Lucky is ook maar net nog ‘n groot dief soos die ander van hulle gemeenskap.

scalla ·

Ondersoek ook sommer al die amptenare/werkers se kwalifikasies, ek weet van een wat nou ewe skielik n doktors graad het, wonder waar het hy dit gekoop/gekry, korrup verby

Edmund ·

Hoe lank nog gaan die publiek (Jan Taks) net moet instaan vir die onbehoorlike besteding deur totaal onbevoegde personeel in hooggeplaasde posisies? In hierdie geval ry PRASA bestuur op die SOUSTREIN

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.