OB loop hofbloutjie oor Zille-twiet

Helen Zille. (Foto: Tracey Adams/African News Agency)

Die appèlhof het in die guns van Helen Zille beslis nadat die hooggeregshof vroeër haar aansoek om adv. Busisiwe Mkhwebane, die Openbare Beskermer (OB), se verslag oor ʼn omstrede kolonialisme-twiet tersyde te laat stel, van die hand gewys het.

Zille het in Maart 2017 op Twitter gesê: “For those claiming legacy of colonialism was ONLY negative, think of our independent judiciary, transport infrastructure, piped water etc.” [sic]

Zille was in daardie stadium premier van die Wes-Kaap en Mkhwebane het later in ʼn ondersoek bevind die twiet is ʼn oortreding van die etiese kode van die uitvoerende gesag. Zille het haar daarna tot die appèlhof gewend.

Dié hof het vandag in ʼn uitspraak Zille se appèlaansoek gehandhaaf.

Die kern van die kwessie was of die twiets oor kolonialisme die bepalings van die etiekkode van die uitvoerende gesag en die Grondwet geskend het. Die OB het in haar verslag bevind hoewel die twiet in goeder trou en binne die premier se reg op vryheid van uitdrukking gemaak kon word, dit steeds ʼn gedeelte van die bevolking kon aanstoot gee en pyn en lyding veroorsaak vir slagoffers van apartheid en kolonialisme. Volgens die OB kon Zille se twiets waarskynlik rassespanning, verdeling en geweld in Suid-Afrika verhoog.

Zille het in die appèlhof onder meer aangevoer die OB se verslag skep ʼn gevaarlike presedent oor vryheid van uitdrukking en veral politieke uitsprake. Sy het aangevoer dit is belangrik vir die demokrasie dat almal, veral diegene in openbare ampte, nie afgesit moet word om aan oop debatte oor kwessies van openbare belang deel te neem nie, veral as hul menings as omstrede of afstootlik deur sommige beskou word.

Die appèlhof het bevind die OB se gevolgtrekking, dat die twiets nie onder beskermde uitsprake val nie, was verkeerd en dat sy ook verkeerdelik tot die gevolgtrekking gekom het dat die etiekkode oortree is.

Die hof het voorts bevind daar was geen bewyse dat die twiets die kantoor van die premier ondermyn het nie en dat dit sonder daardie feite moeilik was om ʼn grondslag te vind vir die gevolgtrekking dat die etiekkode oortree is. Zille het ook nie die Grondwet oortree nie, het die hof bevind.

“Die beskikbare getuienis het ooglopend nie die OB se bevinding en remediërende optrede gesteun nie. Daar was dus geen rasionele verband tussen die OB se besluit en die redes vir die besluit nie,” het die hof bevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Althes ·

Dis goeie nuus! Ek weet nie waaroor al die drama gegaan het nie.
Almal dra Westerse klere, bly in westerse huise, ry Europese/Westerse voertuie en koop daardie produkte.

B-Man ·

Almal? En meeste “westerse” klere word in China vervaardig.

Misky ·

Hulle moes opgetree het teen Mandela se kleindogter, Zindzi Mandela en wat sy al alles kwytgeraak het op sosiale media. Sjoe, hulle is darem vreeslik fyngevoelig.

Sonia ·

die gedeelte van die land vir wie kolonialisme aanstoot gee moet maar weer dink oor al die voordele daarvan wat hulle vandag so graag geniet en as dit nie voorsien word nie dan breek of verbrand hulle alles

Piet ·

Dit het glad nie oor kolonialisme gegaan nie. Dit was ‘n geval waar die blinde leiers ‘n geleendheid gegryp het om die oposisie ‘n lae hou te kon gee.

Pablo ·

Goeie nuus vir Zille maar wat n sirkus vir die land se regstelsel

Jr ·

Ooh Sisiwe nog n bloedneus. Ek dink dis nou saak 5423 wat teen jou gaan. Maar ek hou nie meer tel want dit raak nou die norm vir jou

Mieke ·

Reg so… maar Malema se “kill the boer” is sommer niks…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.