OB maak ʼn fout, sê kenners

busisiwe-mkhwebane

Busisiwe Mkhwebane, die OB, tydens ‘n perskonferensie in Pretoria (2 Februarie 2017) Foto: Jonisayi Maromo/ANA

Die openbare beskermer (OB) se voorstel om die mandaat van die Reserwebank te verander, dreig om “Pandora se kis oop te maak vir nuwe risiko’s in Suid-Afrika se reeds kwesbare ekonomie”.

Dit is die mening van prof. Raymond Parsons, ʼn ekonoom verbonde aan die Noordwes-Universiteit se sakeskool, wat sy stem by vele kenners en organisasies gevoeg het wat reken adv. Busisiwe Mkhwebane, die OB, se aanbevelings rondom die verandering van die Grondwet om die primêre doel van die Reserwebank aan te pas was onwettig en val buite haar magte.

Mkhwebane het Maandag gesê die Grondwet moet gewysig word om seker te maak die Reserwebank bevorder gebalanseerde en volhoubare ekonomiese groei, terwyl dit terselfdertyd die sosio-ekonomiese belange van die land se burgers beskerm. Sy het die Reserwebank gekap in ʼn verslag waarin sy bevind het Absa, voorheen Bankorp, het in die laat 80’s en vroeë 90’s ʼn onwettige skenking van die Reserwebank ontvang. Mkhwebane het verder bevind Absa moet die skenking van R1,125 miljard terugbetaal, en gesê die Reserwebank het saam met die regering sy plig versuim teenoor Suid-Afrikaners omdat hulle nie stappe gedoen het om die geld van Absa te verhaal nie.

Die sosialemedianetwerk Twitter het gister behoorlik gegons soos geldkenners die OB aangevat het oor haar aanbeveling rondom die verandering van die Reserwebank se grondwetlike mandaat.

George Glynos, ekonoom en besturende direkteur van ETM Analytics, het getwiet die OB het haar mandaat heeltemal oorskry: “Sy weet nie wat sy nie weet nie, tot haar eie verleentheid is sy heeltemal naïef.”

“Miskien moet die OB eerder korrupsie ondersoek en monetêre beleid en die Reserwebank los vir die mense wat iets oor die ekonomie weet, want sy doen nie,” het Philippe Burger, ʼn professor in ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat, getwiet.

Matthew Molyneux, wat tans vir ʼn meestersgraad in beleggingsbestuur aan die Universiteit van Kaapstad studeer, het in sy reaksie op die OB se aanbevelings oor die Reserwebank op Twitter gesê dit sal beslis lei tot verdere wisselvalligheid in die rand.

Parsons het gesê die Reserwebank is ʼn hoogs gerespekteerde instelling, plaaslik en in die buiteland, en word beskou as ʼn belangrike “bastion van institusionele krag gedurende moeilike ekonomiese tye”.

“Alhoewel dit onwaarskynlik is dat enige verandering dadelik sal gebeur, is dit sleg dat hierdie saak nou geopper word in ʼn tydstip waar die land se ekonomie reeds sukkelend is. Dit lei tot onnodige bykomende elemente van onsekerheid in die ekonomiese debat in ʼn tyd waar Suid-Afrika dit die minste kan bekostig en vertrouensvlakke eerder ʼn hupstoot kort.”

Die rand het Maandag met sowat 1,7% verswak na meer as R13 teenoor die dollar ná Mkhwebane se opmerkings oor die Reserwebank.

Parsons het gesê dit is onverklaarbaar hoekom die OB haarself op die komplekse gebied van monetêre beleid waag, en aanbevelings maak oor hoe die Grondwet spesifiek rakende die Reserwebank se mandaat verander moet word.

“Soos die OB se kantoor self, moet die onafhanklike rol van die Reserwebank gerespekteer word,” het Parsons aangevoer.

Die Bankevereniging van Suid-Afrika (BASA) het ook gesê hulle meen die OB het ʼn fout gemaak om aanbevelings te maak rondom die verandering van die grondwetlike mandaat van die Reserwebank.

“Die OB se opmerkings is besonders verontrustend. Ek dink sy het in haar gretigheid om haar onafhanklikheid en tande te wys, ongelukkig te ver gegaan. Dit is nie die OB se rol om aanbevelings in hierdie opsig te maak nie,” het Cas Coovadia, die besturende direkteur van BASA, gesê.

“Die Reserwebank sit bo-op ʼn bankstelsel wat wêreldwyd hoog aangeskryf word. Ons moet alles in ons vermoë doen om hierdie stelsel te beskerm wat ons reeds goed gedien het in moeilike tye, insluitende die wêreldwye finansiële krisis.

“Ons moet alles in ons vermoë doen om die land se ekonomie uit sy rommelstatus te lig en die kommentaar van die OB is net so jammer as onverantwoordelik omdat dit ons aandag van hierdie belangrike taak aflei,” het Coovadia bygevoeg.

Die onafhanklike sakeregtewaghond, AfriSake, het sy skok uitgespreek oor die OB se aankondigings. Armand Greyling, regs- en beleidsanalis by dié organisasie, het gesê die “absurde aanbevelings” sal die Reserwebank geheel en al van sy lewensnoodsaaklike onafhanklikheid stroop.

“Dit sal die bank onderdanig aan die regering maak, wat gevolglik sal poog om die banksektor te nasionaliseer en om regeringsoogmerke te bevorder, eerder as volhoubare ekonomiese groei tot die voordeel van alle Suid-Afrikaners. Haar optrede en uitlatings kom neer op uiterste onkunde en volkome onbekwaamheid wanneer dit kom by die velde van reg en ekonomie,” het Greyling gesê.

Greyling het bygevoeg enige poging om die Grondwet te wysig rakende die hoofoogmerk, magte, funksies en onafhanklikheid van die Reserwebank sal met regsaksie deur AfriSake beantwoord word in die strewe na die beskerming, handhawing en bevordering van die beginsels van die vrye mark en die Grondwet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Jan maak n Plan ·

Hoor Hoor – stem 1000% met jou saam. Wonder soms waar sy haar graad gekoop het?

Johann ·

Absurd onbevoeg en onbekwaam om eers te dink aan Bankerse verwante bedryf en beleid! Maar sy dans liederlik na hoof handpop koning Zuma om haar aanstelling te regverdig as deel van sy Zumaikie Mania!!!!! Om te dink dat haar dom astrante uitlatings SA NOG skade aanrig en sy sit bloot terug en trek haar skouers op!!!!!

Verwonderd ·

Die ratte begin stadig maar seker te draai in die planne wat nummaone gemaak het toe hy vir Pravin vervang het. Hy doen dinge mos nie voor die hand liggend nie maar met tyd, ontkenning en onder die tafels deur. Ek wonder of hy dink almal is dom en kan hom nie sien nie…?

Leendert ·

Ja, sy is werklik nie opgewase vir die taak nie, of dit was maar al die tyd haar plan om die twee groot visse vir die Staat te vang, alternatiewelik, ‘n weerligafleier vir Staatskaping en Zuma te wees.

Leendert ·

Ek dink Zuma sit vandag agteroor op so ‘n groot gemakstoel, dan slaan met die een hand op die knie, en lag vir wat die klomp onbevoegdes, wat hy aangstel het, aanvang, dat die trane so van die wange af stroom.

Bang ·

Dit maak my bang. Moet ek my geld onder my bed begin bere? Of is dit nog veilig om by banke te bele,veral Standard Bank se fix deposit!!! Hierdie goed maak my wonder.

Johann cb ·

Die advokaat is noukeurig deur die Regering gekies en aangestel! Sy weet presiés wat om te doen – sy gee alles, soos deur JZ beplan, nét so vir die regerende party! Wat ‘n goeie keuse Mnr Zuma – voordat jy die tuig neerlê, beplan jy om laaste te lag. Baie slim om “ander” te kry om die werk te doen, terwyl 55 miljoen Suid-Afrikaners moontlik gaan krepeer! Oulike skuif, slim nogal, moet ek toegee. Maar wees versigtig dat slim nie sy baas vang nie…
Aan die res van ons: byt vas, daar sál nog uitweg kom, al is die pil non bitter…sterkte almal!

Jan ·

Gwede Mantashe sê ook sy het haar mandaad oorskry, maar NEE sê BM, die nuwe OB, en as dit so is, is dit vir die hof om te besluit. Jig, dus kan sy wild en wakker besluit neem, agteroor sit dat die howe verder vir haar onbevoedheid instaan en dit regstel. Min gepla, want dis dan hoe dit werk.

Adam ·

Die wereld is besig om mal te word. Sy het nie ‘n idee van die ekonomie of finansies nie, Wereldwyd is die kwaliteit van leiers bedenklik. In SA laat die President toe dat die Guptas nie net belasting ontduik nie, hulle ontvang sommer van SARS, in Amerika word ‘n Oros advertensie President, Engeland verkies ‘n waspop tot eerste minister, Rusland het ‘n goedkoop weeegawe van die Terminator en Noord-Korea word geregeer deur ‘n speenvark. Geen wonder die muppet protector praat snert nie.

Jakobus ·

Kyk hierdie land en die ANC is nou eers deurmekaar. Almal is kwaad vir almal. Gigaba moet aan die poterfeuljekommitees verduidelik oor die Guptas, ander ouens daag net nie op vir verslagdoening nie, die SAL is in ‘n gemors, Eskom sit sonder base. En intussen het dit ‘n ‘free for all’ geraak soos enigeen, van Mbalula af wat van sports na polisie toe is, ‘n geveg met die Vrystaatse premier op tou het. Intussen vreet die hele spul mekaar op oor BM se oorboordgaan met haar mandaad.

Ag man, dis lekker in die army, van Tempe …..

Ouman ·

Sy het net een doel en dit is om die Zuptas te help om die SARB te kaap. Sy is in vir ‘n groot skok en gaan sleg daarvan afkom. Het sy geen skaamte of gewete nie. Mens wonder of sy werklik enige regskennis het. Sy behoort vervolg te word vir die skade wat sy aan die ekonomie veroorsaak het. Sal nie verbaas wees die GuptaLeaks ook inligting oor haar aanstelling bevat nie.

CHRISTA ·

Ek wonder of sy werklik ‘n graad in regte het of het sy ook ‘n graad soos “dr” Pallo Jordan?

Rupert Ashford ·

Die poppie maak nie foute nie. Dit is berekende planne wat deel is van numba wan en die Guptas ze strategie. Wonder watse kickbacks kry sy…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.