OB Maandag weer in hof om ondersoek te stuit

Adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Twitter)

Die hooggeregshof in Kaapstad sal Maandag die openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, se jongste aansoek aanhoor om die parlementêre ondersoek na haar bevoegdheid vir die amp te probeer stuit.

ʼn Soortgelyke aansoek van ʼn groep genaamd Democracy in Action sal terselfdertyd aangehoor word.

Die OB se aansoek betwis die geldigheid van die parlement se nuwe reëls. Sy vra die hof om te verklaar dat die reëls onregmatig, ongrondwetlik en ongeldig is, lui ʼn verklaring van die parlement.

Artikel 194 van die Grondwet gee aan die parlement die mag om ampsdraers van “instellings wat die demokrasie steun”, uit hul poste te verwyder. Dit sluit in die openbare beskermer en die ouditeur-generaal.

Thandi Modise, speaker van die parlement, het verlede maand verdere betooghoofde ingedien in reaksie op dié van die OB wat in Desember verlede jaar ingedien is.

Volgens die parlement maak die Nasionale Vergadering slegs voorsiening vir die sogenaamde operasionalisering van die gronde waarop hoofstuk 9-ampsdraers uit hul poste verwyder kan word.

Modise voer onder meer aan dit was verkeerd van Mkhwebane om vergelykings tussen die kantoor van die OB en dié van regters te tref.

Die Wes-Kaapse regterpresident John Hlophe het hom vroeër op versoek van die DA aan die saak onttrek.

ʼn Onafhanklike paneel het vroeër prima facie-bewyse van onbevoegdheid en wangedrag gevind en het aanbeveel dat die parlement met ʼn ondersoek begin om vas te stel of sy uit die pos verwyder moet word.

Mkhwebane word ook van regsverydeling beskuldig, aanklagte wat spruit uit die sogenaamde Absa/Bankorp-ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kokerboom ·

ASB kan die kader maar nie asb nou verwyder word? Hoe lank moet ons nog na haar gesanik luister? Dis onbegryplik dat die President nie nou maar ruggraat kry en die land verlos van die onbevoegde kader. Wat maak haar so verhewe bo ander ANC boewe?Hierdie is ‘n sprekende voorbeeld van regime se absolute disrespek vir belange van land

DIABLO ·

Ai, Thuli Madonsela. Ek mis jou elke dag. Jy was n yster!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.