OB moet bedank, versoek AfriForum

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die Openbare Beskermer. (Argieffoto: Twitter)

AfriForum het Busisiwe Mkhwebane, die Openbare Beskermer (OB), vandag versoek om te bedank. Dié burgerregteorganisasie beskou haar as onbekwaam vir die amp ná onlangse verdoemende ontwikkeling waarin sy betrokke is.

Die Valke is tans besig om Mkhwebane vir meineed te ondersoek, terwyl die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) verlede week ’n ondersoek na haar belastingsake van stapel gestuur het – wat tot 2011 teruggaan. Die druk op Mkhwebane het dié week toegeneem toe Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering, ’n mosie goedgekeur het om ’n geding in te stel om van Mkhwebane ontslae te raak.

In Julie 2019 het die Konstitusionele Hof in die Absa/Bankorp-saak bevind dat die OB se ondersoekmodel in geheel gebrekkig is, dat sy oneerlik was oor haar afsprake tydens die ondersoek en dat sy ’n aantal valshede tydens die verloop van die regsgeding voorgehou het. Sommige van die regters het selfs gesê dat Mkhwebane te kwader trou opgetree het, oneerlik en partydig was, verskeie valshede versin het, geen begrip van haar grondwetlike pligte het nie en onder eed gelieg het.

Die OB se amp verleen aan haar die mag om enige optrede in staatsake of in openbare administrasie te ondersoek in enige sfeer van die regering wat daarvan verdink word of na bewering onbehoorlik is of enige onbehoorlikheid of partydigheid tot gevolg kan hê. “Suid-Afrika het behoefte aan ’n onpartydige, gerespekteerde en bekwame OB in 2020, wanneer Suid-Afrika se demokratiese instellings deeglik getoets gaan word met kwessies soos onder meer onteiening sonder vergoeding en nasionale gesondheidsversekering wat op die horison lê en wag,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte by AfriForum.

“Neem ’n mens die 2020-SAID-ondersoek, die parlementêre mosie en ’n legio ander verdoemende uitsprake deur hoë gesag in 2019 teen haar in ag, kan ’n mens nie anders nie as om te wonder of Mkhwebane se gedrag nie inderdaad die presiese antitese van haar pligte as Openbare Beskermer is nie. Die Konstitusionele Hof se fel uitspraak laat dit heel duidelik blyk dat Mkhwebane enorme skade aan die aansien en status van haar amp aanrig. Op ’n fundamentele vlak behoort sy die toonbeeld van betroubaarheid, geloofwaardigheid en integriteit te wees. Die bogenoemde voorbeelde oortuig AfriForum egter dat sy eenvoudig nie oor die vereiste eienskappe beskik wat haar integrale amp vereis nie,” voeg Van Zyl by.

Omdat die OB egter deur die president op aanbeveling van die Nasionale Vergadering aangestel word, is daar genoeg ruimte vir partydige, strategiese aanstellings wat die regerende ANC tot voordeel strek. AfriForum doen daarom ’n beroep op die parlement om die aanstelling van ’n nuwe OB op onpartydig wyse te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.