OB moet ‘kaping’ van opkomende boer se plaas bekyk

Die LUR vir landbou in die Wes-Kaap, Ivan Meyer, sê ‘n onafhanklike ondersoek moet na die toekenning van die staatsplaas gedoen word. (Foto: Facebook)

Die Wes-Kaapse LUR vir landbou, Ivan Meyer, vra die Openbare Beskermer (OB) om ondersoek in te stel na die onwettige uitsetting van Ivan Cloete, ʼn opkomende bruin boer, van die plaas Colenso naby Darling.

Meyer het vandeesweek die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling se aankondiging dat hy ʼn ondersoek na die verloop van gebeure doen verwelkom, maar sê dit is net gepas dat ʼn onafhanklike instelling die situasie ook ondersoek.

Die departement het die plaas Colenso amptelik aan Cloete toegeken. Dieselfde stuk grond is daarna in ʼn oënskynlike knoeiproses aan ʼn MK-veteraan gegee en Cloete is beveel om die plaas te ontruim. Die nuwe begunstigde het glo noue politieke bande en is reeds ʼn suksesvolle sakeman.

Meyer sê dit is in die belang van aanspreeklikheid en deursigtigheid dat die minister van landbou, Thoko Didiza, ʼn volledige lys van alle plase in staatsbesit in die Wes-Kaap bekend maak – asook die name van die begunstigdes wat deur die departement se grondhervormingsprogram daarby baat.

“Ons moet die versekering kry dat grondhervorming nie gebruik word as ʼn manier om politici en hul vriende ten koste van hardwerkende en verdienstelike kandidate te bevoordeel nie,” sê Meyer.

Hy waarsku ook dat die departement nie ʼn herhaling van Cloete se behandeling kan bekostig nie.

“Dit kan die een bedryf destabiliseer wat die afgelope twee kwartale positief tot die ekonomie bygedra het.

“Om produktiewe bona fide-boere soos Ivan Cloete met polities gekoppelde mense te vervang, bring Suid-Afrika se voedselsekerheid in gedrang.”

Meyer sê landbou is ʼn belangrike deel van die ekonomie en daar kan nie toegelaat word dat die “staatskaping van boerderygrond” voortgesit word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pieter ·

Die is net begin geen verskil tussen ANC en ZANU PF nie. Ons wil nie standpunt in neem nie.

Casper ·

MK veteraan en hy is ‘n suksesvolle sakeman.Wat wil hy met die plaas maak.Hy het in sy lewe nog nooit geboer nie.Hierdie plaas gaan in die hande van ‘n minister val.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.