OB moet Mbalula, mislukte eNatis-stelsel ondersoek

Fikile Mbalula, minister van vervoer. (Foto: Dept. van vervoer)

Die burgerregtegroep AfriForum het ʼn formele klag by die Openbare Beskermer (OB) ingedien waarin hy vra dat ʼn ondersoek na wanbestuur en moontlike korrupsie teen die minister van vervoer en sy departement gedoen word.

AfriForum het terselfdertyd ʼn webblad bekend gestel waar mense hul teenkanting kan plaas teen voorgestelde gewysigde gelde vir dienste wat die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) wil instel. Min. Fikile Mbalula het die wysigings verlede week in die Staatskoerant aangekondig.

Een van die voorstelle is dat motoriste voortaan R250 opdok net om ʼn aanlyn bespreking vir die hernuwing van ʼn rybewys te maak. Die aflewering van só ʼn kaart beloop R99, aanlyn registrasie van ʼn voertuig deur die eienaar sal ingevolge die voorstelle R700 beloop en ʼn aanlyn kennisgewing vir verandering van eienaarskap van ʼn voertuig sal jou ook R700 uit die sak jaag.

Die departement het sy eNatis-stelsel – die nasionale elektroniese administrasiestelsel vir verkeersinligting – in 2007 in werking gestel. AfriForum sê ná 14 jaar funksioneer die stelsel egter steeds nie behoorlik nie en dwing die gebruik daarvan wetsgehoorsame burgers om omkoopgeld te betaal net om ʼn afspraak te maak.

Die organisasie vra nou die OB om ondersoek daarna in te stel.

“Die departement se ondoeltreffendheid het ook die deur oopgelos vir opportunistiese derde partye wat nou blykbaar die enigste mense is wat suksesvol ʼn afspraak kan maak,” sê Jacques Broodryk, veldtogbestuurder by AfriForum.

“Hierdie partye vra lede van die publiek enigiets van R240 en meer om ʼn afspraak vir die hernuwing van rybewyse te maak.”

Rybewyse wat tydens die inperking verval het, se hernuwing is boonop vir die derde keer uitgestel. Mbalula het die spertyd vir die geldigheid van rybewyse wat tussen 26 Maart verlede jaar en 31 Augustus vanjaar verval het, tot 31 Maart volgende jaar verleng.

Broodryk sê dit bevestig opnuut die chaotiese toestand waarin die land se rybewyshernuwingstelsel verkeer.

Duisende motoriste kan boonop steeds nie afsprake vir rybewyse óf hernuwings maak nie.

“Die dorre toestand van die ANC-gereguleerde rybewysstelsel verander wetsgehoorsame burgers in misdadigers,” sê Broodryk.

“Die ANC het weer eens gewys dat hy inderdaad ʼn omgekeerde Midas-aanraking het wat alles waaraan hy vat in ʼn katastrofiese mislukking laat ontaard. ʼn Party met sy rekord het geen reg om daarop aan te dring dat lede van die publiek nóg meer moet betaal om te vergoed vir die regerende party se mislukkings nie.”

Die Automobiel-Assosiasie (AA) het intussen ook sy petisie bekend gestel waar mense beswaar teen die voorgestelde wysigings kan maak.

Die AA het die wysigings as ʼn belediging vir burgers en rowery van motoriste bestempel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Dup ·

Die A en C kan eintlik baie geld maak met die verkoop van bemesting want alles waaraan hulle raak,verander dadelik in (kuns)mis.

Mariana ·

Ons weet almal dat hierdie ding ook sal deurgaan en ons maar net sal moet betaal. Dis soos die naamsveranderinge, wat die ministers wil hê sal so wees. En intussen is dit die mense van die land wat moet opdok.

Pablo ·

Wanneer alles finaal ineenstort sal die ANC dit gebruik as n verskoning om staatsbeheer oor alles in te stel. Daar is geen toekoms in die land vir jong en hardwerkende mense nie.

Hardekwas ·

Etol is op sy knieë gedwing deur weiering om te betaal. Dieselfde kan hier vermag word as al.al weier om hul lisensiekaarte te hernu. Dit is in elk geval net n kader onderneming wat meer boewe moet betaal.

Frederik C ·

Hulle roof motoriste reeds by die pomp. As hul die motoriste by die toetsstasies ook kan beroof, sal hulle beweer dat die ekonomie besig is om te herstel.

SjN ·

Klomp kulkunstenaars, alles waaraan hul raak verander in bollie.

Wynand ·

Die geboelie deur ANC op landsburgers ken geen einde. Wander moet fooie betaal word vir skole

Sarel ·

Die OB?? …mort ook verval van Transnet se Infrastruktuur ondersoek

Prikkie ·

Fikile, dit lyk my noudat Carel weg is, is jy nou die weakest link!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.