OB moet Nkandla-leningsaansoek ondersoek

Pres. Jacob Zuma se privaat woning in Nkandla, KwaZulu-Natal Foto: @power987news, Twitter

Pres. Jacob Zuma se privaat woning in Nkandla, KwaZulu-Natal Foto: @power987news, Twitter

Volgens die VF Plus kom ontstellende tekens na vore dat die ANC en pres. Jacob Zuma die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) se fondse as hul persoonlike spaarvarkie gebruik, en die party gaan die openbare beskermer (OB) vra om dit te ondersoek.

Die OBK bestuur die staat se pensioenfonds.

“In die jongste voorval het dit aan die lig gekom (Rapport, 31 Julie) dat die OBK ʼn aandeel van 25,26% het in die VBS Mutual Bank, voorheen bekend as die Venda Bouvereniging waar pres. Zuma glo geld wil leen om sy Nkandla-skuld te betaal,” het Anton Alberts, woordvoerder van die VF Plus, gesê.

Die deel wat Zuma volgens ʼn bevel van die OB moet terugbetaal vir niesekuriteitsopgraderings aan sy huis in Nkandla, KwaZulu-Natal, beloop R7,8 miljoen.

“Teen ʼn rentekoers van slegs 10% sal dit R75 270 per maand beloop, of by benadering R903 000 per jaar. Dit terwyl Zuma se totale salarispakket voor aftrekkings R2,8 miljoen per jaar is,” het Alberts verduidelik.

“In 2014 het die media berig oor ʼn transaksie waar die OBK sowat R3 miljard belê het in ʼn feitlik bankrot oliemaatskappy, Camac Energy. Daar is berig dat ene mnr. Kase Lawal, ʼn Amerikaner van Nigeriese afkoms en kennis van pres. Zuma, in beheer is van die maatskappy. Daar is nooit weer hieroor berig nie, en dit is nie bekend of die maatskappy steeds bestaan nie. Dit was egter van meet af duidelik dat die transaksie ʼn reuse dobbelspel met pensioengeld was en daarom ongeoorloof,” het hy bygevoeg.

Vroeër vanjaar was daar groot ontevredenheid toe ʼn ekonomiese ontwikkelingsplan vir Pretoria goedgekeur is met geld komende van die OBK en die aankondiging dat “slegs swart mense” daarby baat sal vind.

Alberts het gesê die geld van die fonds behoort aan mense van Suid-Afrika wat daarvoor gewerk het, en die staat en pres. Zuma kan nie onbehoorlik of riskant daarmee omgaan nie.

“Die OB moet nou ʼn vergrootglas hierop plaas en moet vasstel presies hoe wyd en diep die president en die ANC verbintenisse met die OBK het. Dit moet onverwyld gedoen word aangesien dit rampspoedig sal wees indien daar te laat agtergekom word die fonds is geplunder.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Frederik ·

Wel, die OBK moet sterk staan, want hul het R18 miljard pensioengeld weggedobbel net op Gauteng se tolprojek. Hul is ook reg as hul sê dat hul projekte wil aanpak waarby slegs swart mense baat gaan vind, maar hul noem nie watter swart mense nie. Camac Energy behoort dalk 100% aan swart mense, maar nie Suid Afrikaanse swartes nie.

Jeni ·

Wat is die termyn van hierdie lening? My man wat dieselfde ouderdom as Zuma is en `n staatspensioen kry, kan nie `n verband kry nie. Hoe werk dit?

Rapes ·

Nie nst die OB maar ook die ontvanger moet die sake ondersoek. Die persone wat hom geld belowe het vir die skuld , moet as ‘n inkomste gesien word en moet daarop belas word.

hans ·

Dringende ondersoek asb. Ek en duisende ander het baie jare bygedra tot die pensioenfonds en ons maandelikse pensioenbetalings moet nie op enige manier in gevaar gestel word nie.

Theuns ·

Dit hou net nie op nie! Zuma ons eie , gewetenlose, populistiese eienaar van Suid Afrika!Hy het self gese hy het dom mense wat vir hom stem. Die opposisie sit egter met die selfde probleem met mense wat nie vir hulle wil stem nie omdat hulle reken dit is die enigste manier om n wenner by die stembus te wees!?

johann cb ·

Na hierdie beriggewing, wil ek weet wat word van al die geld wat vir inkopiesakke betaal word. Nie eens Gordhan kon dié vraag in die Parlement antwoord nie – die geld gaan na die staat, ja, maar wáár in die staat? Watter “bank”? Die bedrag behoort nou sedert 2004 miljarde rand te beloop. Kan iemand miskien lig werp op die saak?

Uiltjie ·

VF+ soek sommer net aandag! Iemand het Dan nou die dag openlik gese hulls sal die geld betaal! Die verkiesing is verby, loop soek op n ander plek vir aandag!

Pieter ·

1000 de spoorweg pensioen trekkers sal nie saam stem nie. FV+ is die enigste party wat vir die blankes (minderheid groepe), sonder om te vra vir wie hulle stem, opstaan. O ja, so ook vir die bruin mense van korektoewe dienste. Wat het die DA gedoen? Hulle versoek jou om weens hul groote om vir hulle te stem, wat van om liewer volgens jou oortuiging en die party se beleid?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.