OB moet Ramaphosa se belange ondersoek, sê DA

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: PresidencyZA/Twitter

Mmusi Maimane, leier van die Demokratiese Alliansie, het gesê hy sal die Openbare Beskermer versoek om ondersoek in te stel ná pres. Cyril Ramaphosa glo versuim het om ʼn konflik van belange te verklaar tussen hom, sy seun Andile en Bosasa.

Maimane het gesê hy het Ramaphosa se verklaring oor sy belange vir die 2018/19- finansiële jaar hersien sedert hy in Februarie 2018 aangestel is as president. Die president moet jaarliks, kragtens die Uitvoerende Etiekkode, die besonderhede van sy finansiële belange bekend maak aan die sekretaris van die kabinet, dr. Cassius Lubisi.

“Ek kan bevestig dat pres. Ramaphosa versuim het om ʼn duidelike konflik van belange te verklaar wat tussen hom, sy seun Andile en die korrupte stelselbestuursmaatskappy Bosasa bestaan,” het Maimane tydens ʼn toespraak by die Uniegebou in Pretoria gesê.

“Dit is ons mening dat pres. Ramaphosa sy eie kabinet mislei het en daarom die Uitvoerende Etiekkode verbreek het. Ek sal die Openbare Beskermer nader om formeel dié weglating te ondersoek as deel van haar voortgesette ondersoek oor die Ramaphosas en Bosasa.”

Maimane het gesê die konflik van belange is baie duidelik. “In die aanloop tot Cyril Ramaphosa se verkiesingsveldtog as ANC-president, het die uitvoerende hoof van Bosasa, Gavin Watson, R500 000 ‘geskenk’ aan die veldtog. Nadat Ramaphosa aangestel is, het sy seun Andile minstens R2 miljoen van Bosasa ontvang vir ‘strategiese en finansiële raadgewende dienste’.

“Een van sy eerste aksies as president was om Arthur Fraser aan te stel as die direkteur-generaal van korrektiewe dienste. ʼn Man met ʼn twyfelagtige rekord kon dus toesig hou oor winsgewende tenders in ʼn staatsdepartement vir wie Bosasa nog steeds baie werk doen.

“Ons kan nie die feit ignoreer dat Bosasa ANC-politici die afgelope twee dekades omkoop nie. Bosasa-kontrakte met die ANC-regering beloop meer as R10 miljard. Net soos Zuma-Gupta, volg die Ramaphosa-Bosasa-verhouding die standaard ANC-driehoek van korrupsie: die ANC-aan-bewind gee winsgewende tenders aan makkers wat amptenare omkoop, wat in ruil die ANC finansier.”

Maimane het gesê daar is nog te veel wat onbekend is oor die verhouding. “Wat ons wel weet is:
– Cyril Ramaphosa het ʼn ‘skenking’ van R500 000 van Bosasa-hoof Gavin Watson ontvang as deel van sy ANC-presidensiële veldtog;
– Andile Ramaphosa het ʼn kontraktuele ooreenkoms met Bosasa vir ‘raadgewende dienste’, waar hy ongeveer R2 miljoen ontvang het tydens sy pa se eerste jaar as president;
– Pres. Ramaphosa het aan die parlement gesê daar was geen ongerymdhede in die kontrak wat hy gesien het (tussen Andile en Bosasa) nie;
– Andile Ramaphosa se sakevennoot wou ʼn R400 miljoen-lening van Eskom bekom in ʼn stadium toe sy pa aan die hoof gestaan het van Eskom se omkeerstrategie.”

Maimane het gesê van Bosasa tot Eskom-leningsooreenkomste trek Andile onregmatig voordeel uit die feit dat sy pa president is. “Dit is net soos oudpres. Jacob Zuma se seun Duduzane wat voordeel getrek het uit twyfelagtige sakekontrakte wat deur sy pa se politieke vriende gereël is.”

Maimane het gesê daar is ʼn “kring van geheimhouding” tussen die Ramaphosas, die ANC en Bosasa. “Dit is noodsaaklik dat dié geheime onthul moet word en dat Suid-Afrika die volle waarheid hoor oor hierdie korrupsieskandaal waarby die president betrek word. Die DA sal korrupsie met 15 jaar tronkstraf straf, en dit nie beloon met nog vyf jaar in die presidensie nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Alida ·

Ai tog en as hy skuldig is wat dan? JZ het 800 klagtes van bedrog en wat nog en hy dans en sing nog al die pad. Die wasgoedlyne kreun onder die vuil wasgoed.

Ja Nee ·

Die DA bly blaf met min byt. Sal nie meer my stem mors nie!

fred ·

waarom kan hy nie lieg nie as al die ander dit doen? hy is deel van dieselfde korrupte groep….

Vat hom kort ·

Oorhandig hom aan n trubiaal, gee hom R1 000 000 boete of 10 jaar tronkstraf. Ons wod onder daai kam geskeer…dubbele standaarde …e o ja het jy n polisieklaring om voort te gaan met jou en jou top 6 se geknoeiery.

Andreas ·

As Cyril se seun onafhanklik van Cyril met Bosasa sake gedoen het, is daar mos nou niks vir Cyril om te verklaar nie, tensy hy in samespanning met sy seun betrokke was. (Dit is nou buiten waar hy self skenking ontvang het.)

Michelle ·

Nee kyk as die president moet ondersoek word of as daar vermoede is dan moet daar nie gesit en raai word nie as hy niks het om weg te steek nie, sal hy mos se is reg laat hy en sy seun ondersoek word maar hy moet eintlik niks se nie. Hy is nie verhewe bo die wet nie hy moet ondersoek word want waar daar rook trek brand daar gewoonlik ‘n vuur.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.