‘OB moet Ramaphosa-verslag nou bekendstel’

Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (Foto: ANA)

Mmusi Maimane, die leier van die DA, het Maandag ʼn brief aan die openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, gestuur waarin versoek word dat haar volledige verslag oor pres. Cyril Ramaphosa binne die volgende 48 uur beskikbaar gestel word.

Dít volg nadat die Sunday Independent glo ʼn verslag van die OB onder oë gehad het waarin Mkhwebane vir Ramaphosa skuldig bevind het op aanklag dat hy die parlement “mislei het” en versuim het om ʼn skenking van R500 000 van Bosasa-baas, Gavin Watson, te verklaar. Dié skenking was vir Ramaphosa se ANC- presidensiële verkiesingsveldtog in 2017.

Die koerant het aangevoer dit is ʼn voorlopige verslag wat Donderdag by Ramaphosa ingedien is.

“Die OB se verslag oor pres. Cyril Ramaphosa se Bosasagate-skandaal lê reeds ses maande op haar tafel en moet onmiddellik bekendgemaak word,” het Maimane gesê.

Hy het gesê die klagte is reeds op 23 November verlede jaar by die OB teen Ramaphosa ingedien. Die DA het die OB gevra om te ondersoek of die president die parlement mislei het oor die skenking wat hy van Bosasa ontvang het en of daar enige botsing van belange is met die verhouding tussen die president, sy seun, Andile Ramaphosa, en Bosasa.

“Ek het op 9 April met Mkhwebane vergader om die jongste nuus oor die ondersoek te kry nadat sy aanvanklik aangedui het sy hoop om die ondersoek teen Februarie af te handel. Mkhwebane het toe aan my bevestig dat die prosesse om die saak te ondersoek veel langer sal neem as wat sy aanvanklik gedink het.”

Maimane het gesê die etiese kode vir uitvoerende lede van die nasionale vergadering sê die OB moet ʼn klagte teen een van sy lede ondersoek en ʼn verslag binne 30 dae daarna indien.

“Mkhwebane se verslag is al ses maande laat en sy het nie meer ʼn keuse nie, sy moet dadelik optree en die verslag in die belang van die publiek bekendmaak.”

Maimane het verder gesê indien die verslag onmiddellik bekendgemaak word, sal daar nie verder ruimte vir spekulasies wees nie en kan die publiek en die parlement die president vir sy optrede verantwoordelik hou.

Oupa Segalwe, waarnemende woordvoerder van die OB se kantoor, het gesê Mkhwebane sal nie kommentaar lewer oor die inhoud van enige nuusberig of uitgelekte dokument omdat dit moontlik ʼn nadelige invloed op die ondersoek mag hê.

Mkhwebane het haar Vrydag verder in omstredenheid gehul nadat sy in ʼn toespraak aan die Suid-Afrikaanse Balju-vereniging in Mpumalanga gesê het God het haar in haar pos aangestel en net Hy sal haar kan ontslaan. Haar kantoor het haar volledige toespraak sinnetjie vir sinnetjie getwiet. Die spesifieke twiet oor haar aanstelling het ʼn herrie op sosiale media veroorsaak.

Sy het toe ook erken haar kantoor gaan deur ʼn moeilike tyd en dat sy en haar gesin al doodsdreigemente ontvang het, terwyl haar eiendom glo kwaadwillig beskadig is. Die dreigemente is glo die gevolg van haar ondersoek teen Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings.

Maroela Media het berig die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party het ook Sondag gevra die parlement moet ondersoek instel oor die bevoegdheid van Mkhwebane. Die SAKP het gesê die party is veral besorg oor die deurlopende hofuitsprake van kritiek teen Mkhwebane.

Intussen het nog ʼn organisasie ʼn verslag van die OB betwis. Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) het die Noord-Gautengse hooggeregshof gevra om die OB se bevindinge van onbehoorlikheid en wanadministrasie teen sy oudhoof, adv. Dube Tshidi, tersyde te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Susan ·

Dié pos is te veeleisend vir haar. Haar senuwees gaan dit nooit hou nie.

Maria ·

Nee dit is gladnie veeleisend nie, sy doen geen moeite om ondersoeke reg te doen nie, en haar verslae se inhoud word deur ander bepaal.

Colleen ·

As sy nie partydig is nie sal haar senuwees heel ok wees.

PJC ·

Hierdie OB weet presies waarmee sy haar besig hou want sy is deel van die Zuma groep. Hierdie ding gebeur op ń baie slegte tydstip vir CR maar ook vir die land. Die DA se versoek was soos manna uit die hemel vir die OB . Die huidige leierskap by die DA is te dom om te weet dat dit hulle nie aan bewind gaan plaas nie maar dat dit die land in totale chaos kan dompel. Hulle tydsberekening is pateties.

Chris du Preez ·

Stem heeltemal saam met jou. Musi is nou besig om in onnoselheid in Zuma se hande te speel

John Scott ·

@PJC……ek stem heelhartig met jou saam . Ek wonder of die DA sommegemaak het oor wat die uitkoms gaan wees as CR die trekpas moet kry.

Johanna Botha ·

Jy beskerm gladnie die publiek nie voel eintlik uitgelewer met die vrou …..JUST GO !

Hans, ·

Hulle gaan dit in die hof tersyde laat stel met nog n ander liegstorie en dan haar ongeskik laat verklaar vir haar pos in elk geval. Hierdie land was lank nog nie gereed vir demokrasie nie. Die verkose leiers dink steeds hul word ingestem om voorsiening vir hulself te maak. Van eerlikheid en eerbaarheid is daar geen begrip nie.

Hanna Hoekom ·

Hierdie OB dra glad nie die publiek se belange op die hart nie. Sy is bloot in haar pos sodat grootkoppe met korrupsie kan wegkom. Zuma het jou aangestel, nie God nie! En dink asb twee keer voor jy weer iets onbegonne kwytraak.

Hanna Hoekom ·

Hierdie OB dra glad nie die publiek se belange op die hart nie. Sy is bloot in haar pos sodat grootkoppe met korrupsie kan wegkom. Zuma het jou aangestel, nie God nie! En dink asb twee keer voor jy weer iets onbegonne kwytraak.

kolla ·

Dankie tog vir die DA. As die DA nie prosesse aan die gang sit nie, gebeur daar ook niks nie. Definitief ‘n party wat DOEN en nie net praat nie. Dit maak hulle ongewild by diegene wat gewoond is om weg te kom met dinge, maar volhard asseblief want julle is die enigste party wat iets beteken.

Maria ·

Dis nog n groot foutvan die DA. Hulle hamer op die goeie faksie, en as die soegte faksie sou oorvat is dit baie erger. Die DA maak aanmekaar strategiese foute.

Dirk ·

Die OB faksie is Zimbabwe scenario en CR faksie is Venezuela scenario. Op die ou einde is albei maar ewe sleg, die een word net langer uitgerek as die ander een. As CR moet “fall”, dan moet hy, want wat ookal moet gebeur, sal gebeur of ons gereed is of nie!

Gert van Wierdapark ·

Haar CR verslag is deel van die Zupka strategie waar by min Gordhan ingesluit is. Sy het Vrede met ernstig sake, vra maar vir die OVS kaartman, vriend YS met sy soustrein melk-koeie projek!? Sy is so goed ingeburger dat nie eens die Proteas se swak vertoning haar van stryk af sal bring nie. Haar gunsteling liedjie is skynbaar:”I don’t like cricket, I love it”. Sy ken van foutballe want sy boul dit deurlopend met vers-lae wat nog “panel beating” nodig het, voor dit in leer 13 geliaseer behoort te word!

John ·

… maar sy wil die voorsitter van die konferensie bly. Wat beoog die DA met sy strategie?
Mmmmusi glo steeds dat hy die president-in-waiting is en dat sy party se swak vertoning te wyte is aan die swak aksies van die wit lede van die bestuur; die feit dat baie wittes die party verlaat het, bloot gebeur het omdat hy nie meer hardhandig met die wit beterweters te werk gegaan het nie. Mmmmmusi wil skreeu en vingerwys soos ‘n fanatieke prediker wat sy Bybel by die huis gelos het. Hy is nie president-kaliber nie.

Selfbeskermer ·

Hierdie vrou is besig om die staatskapers te beskerm. Dit lyk ook of iemand in n posisie glad nie vewyder kan word nie, maak nie saak hoe hopeloos hulle is nie. Laat die publiek self die openbare beskermer kies.

Basjan ·

R500 000 is “kleingeld”as jy dit vergelyk met die miljarde rande wat by ander ondersoeke betrokke is. Hoekom word hierdie “klein” bedraggie nou gebruik om die president in beskuldiging te plaas? Iewers is iets nie pluis nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.