OB ondersoek bedrog met skoonmaak van skole

‘n Skool word ontsmet. (Argieffoto: Ayanda Ndamane/ANA)

Die VF Plus verwelkom die openbare beskermer (OB) se besluit om die Gautengse departement van onderwys se besteding van R431 miljoen op die ontsmetting van skole te ondersoek.

Maroela Media het in Januarie berig dat die departement in net drie maande sowat R431 miljoen bestee het om skole in dié provinsie te ontsmet.

Die VF Plus het aan die einde van Januarie vanjaar ʼn klag hieroor teen die departement van onderwys by die OB ingedien.

“Die party het reeds in November verlede jaar sy kommer uitgespreek nadat dit aan die lig gekom het dat die departement net in September 2020 R98 miljoen hieraan bestee het,” het Anton Alberts, die VF Plus-leier in Gauteng, gesê. “Die bedrag van R98 miljoen is uitbetaal aan 28 verskillende diensverskaffers waarvan talle lyk of dit rakmaatskappy-name het en dus waarskynlik onlangs gestig is.”

Die verslag oor die reiniging van skole, wat Maroela Media onder oë gehad het, bevat ʼn lys van meer as 200 diensverskaffers wat na bewering diens aan die departement gelewer het deur skole te ontsmet. Van dié ondernemings sluit in “Hot Little Numbers 3” en “I Call the Shots”. Maroela Media kon geen besonderhede van dié maatskappye aanlyn opspoor nie.

Talle van die maatskappye wat tenders gewen het, se name bevat ook die woorde “Trading” of “Consulting”. “Dit is aanduidend van die standaardname wat in rakmaatskappye voorkom,” het Alberts gesê.

Volgens die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, is diep reiniging by skole nie noodsaaklik nie en hoef slegs oppervlaktes behoorlik skoongemaak te word. Bidvest het ook die skoonmaakproses by baie skole geborg en sekere skole het uit hul eie sak daarvoor betaal.

Daarom het die VF Plus in ʼn skrywe aan die OB daarop aangedring dat vasgestel moet word of diepreiniging by skole werklik plaasgevind het, of dit nodig was en of die werk onreëlmatig was.

“Die OB moet ook vasstel of die maatskappye aan wie die tenders toegeken is, in staat was om die dienste te lewer, wie in beheer van die maatskappy is, wanneer die maatskappy gestig is en of dit nie ʼn selfverryking-strategie was nie. Die OB moet ook bepaal of die geld op bedrieglike wyse bestee is en indien wel, hoe die geld teruggekry gaan word.”

Alberts sê gegewe die geskiedenis van die ANC in Gauteng rakende Covid-19-tenders sal die VF Plus die proses noukeurig monitor om alle moontlike ongerymdhede in die ondersoek uit te wys.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sarel ·

Lid van Marorla Media frustrerend om elke keer te moet intrken.

JohanR ·

Sol-Tech het R300 miljoen gekos en daar staan hy hoog trots. R431miljoen om klaskamers skoon te maak. Kan mens maar se eintlik R31 miljoen het gegaan vir klaskamers skoonmaak en R400 miljoen aan die kaders?

Sarel ·

Is sy nie met Sabatsverlof nie buitendien ons weet nou al hier gazn niks van klm.nie

Deon ·

Oral waar hul vingers ingesteek word is daar moeilikheid, dit gaan al so dat ek dink dis n goeie plan om saam met die projek wat gedoen met word te begroot vir n ondersoek, deur die gereg, na die projek voltooi is…. Ons lees hierdie tipe goed dag in en dag uit en sien elke keer duidelik hoe skelm ons regering is. Dis amper nie eers meer of bedrog gepleeg gaan word nie, nie maar waar en hoe

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.