OB ondersoek KwaZulu-Natalse LUR oor virussyfers

(Foto: Ayanda Ndamane/ANA)

Die Openbare Beskermer (OB) ondersoek die LUR vir gesondheid in KwaZulu-Natal se moontlike oortreding van die etiekkode vir lede van die uitvoerende gesag, nadat die DA haar oor die Covid-19-statistieke verkla het.

Oupa Segalwe, die OB se woordvoerder, het bevestig dat die ondersoek handel oor die LUR se beweerde weiering om Covid-19-statistieke aan die publiek bekend te maak.

Dr. Rishigen Viranna, die DA in KwaZulu-Natal se woordvoerder oor gesondheid, het die besluit om Nomagugu Simelane-Zulu te ondersoek, verwelkom.

Simelane-Zulu het onder skoot gekom omdat sy nie die plaaslike syfers oor die Covid-19-pandemie wou bekend maak nie. Volgens die DA kon dié syfers gedragsveranderings onder mense aangemoedig het wat weer tot ʼn daling in infeksiesyfers kon lei.

Volgens Viranna het die DA reeds aan die begin van die afsonderingstydperk gevra dat plaaslike munisipaliteite en subdistrikte se daaglikse Covid-19-statistieke bekend gemaak word, maar daar het dadels van gekom.

“Ons vra sedert die begin van Maart vir plaaslike syfers en inligting oor brandpunte,” het Viranna gesê.

“Die eThekwini-streek het byvoorbeeld nagenoeg drie miljoen inwoners en om inligting op so ʼn groot vlak bekend te maak, help mense nie werklik nie. Dit is nie genoeg dat hulle in die openbaar hul gedrag verander nie.”

Volgens Viranna is die versoek bloot ʼn herhaling van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) asook die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Advieskomitee, prof. Abdul Salim Karim, se stellings oor hoe belangrik dit is om inligting bekend te maak.

“Premier Sihle Zikalala en LUR Simelane-Zulu het die inligting tot hulle beskikking en steeds is die gedetailleerde inligting oor Covid-19-statistieke onbekend,” het Viranna gesê.

Volgens korrespondensie van die OB is die premier reeds ingelig dat sy LUR ondersoek word.

“Simelane-Zulu moet nou antwoorde verskaf op haar voortgesette versuim om die belangrike inligting bekend te maak,” het Viranna gesê.

Die woordvoerder van die KwaZulu-Natalse departement van gesondheid, Agiza Hlongwane, het in reaksie gesê “daar is redes hoekom die inligting op hierdie manier bekend gemaak word”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

koos10 ·

Ja jong, as hulle die geskorste burgermeester van Durban kan inguldig as LUR dan is alles moontlik of onmoontlik in KZN.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.