OB ontken berigte oor staatskapingondersoek

busiswe-mkhwebane

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer.

Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), het Donderdag berigte ontken dat sy versoek het die verwysingsraamwerk van die kommissie van ondersoek na staatskaping moet uitgebrei word om so ver terug te dateer as 1994.

Pres. Jacob Zuma het verlede week aangekondig dat hy, soos deur die Noord-Gautengse hooggeregshof beveel, ʼn kommissie van ondersoek op die been sal bring om die bewerings rondom staatskaping te ondersoek soos aanbeveel in die regstellende stappe wat in Mkhwebane se voorganger, Thuli Madonsela, se staatskapingverslag vervat is.

Die kommissie sal gelei word deur adjunkhoofregter Raymond Zondo.

Kort ná die aankondiging het Mkhwebane ʼn beroep op Zuma gedoen om te verseker dat die verwysingsraamwerk van die ondersoek nie beperk is tot die kwessies wat ondersoek of geïdentifiseer is in die staatskapingverslag nie. Mkhwebane het gesê “geen steen moet onaangeroer gelaat word” om die saak te ondersoek nie en dit sal voorkom dat enige verdere bewerings by haar kantoor aangemeld word.

“Nadat die OB die bewyse wat voor haar en in die openbare domein is nagegaan het, doen die OB ʼn beroep op die president om te verseker dat die verwysingsraamwerk breed genoeg is om die kaping van alle staatsinstansies en maatskappye in staatsbesit in te sluit, sodat die vermoë van die kommissie om die volle omvang van staatskaping in Suid-Afrika te ontbloot nie op enige manier beperk word nie,” het Mkhwebane destyds gesê.

Donderdag het Mkhwebane gesê haar verklaring is deur verskeie mediaberigte en kommentators verkeerd geïnterpreteer.

Sy het gesê het gesê sy is van mening dat die staatskapingverslag en die hofbeslissing nie die kwessies wat ondersoek moet word beperk nie, maar eerder as ʼn beginpunt vir die kommissie dien.

“Nêrens in die verklaring wat ek op 10 Januarie 2018 uitgereik het, het ek gesê daar is ʼn behoefte vir ʼn historiese ondersoek wat terugdateer tot 1994 nie. Om die omvang van die ondersoek te verbreed is verwant aan die kwessies wat in die staatskapingverslag geïdentifiseer is vir verdere ondersoek,” het Mkhwebane gesê.

“Sommige van die kontrakte wat in die staatskapingverslag ondersoek is, dateer egter soveel as 30 jaar of meer terug, byvoorbeeld by Eskom, daarom sal dit noodsaaklik wees om vas te stel wat gebeur het, wat moes gebeur het en aan watter voorskrifte daar voldoen moes gewees het.”

Mkhwebane het ook gepleit vir meer hulpbronne vir haar kantoor en gesê die kantoor gaan gebuk onder beperkte hulpbronne en geld, ten spyte daarvan dat dit ʼn belangrike rol in Suid-Afrika moet vervul.

“Die tekort aan hulpbronne en die onvoldoende geld wat toegeken is vir die ondersoek na die staatskapingbewerings was die kern van die besluit deur die voormalige OB om aan te beveel dat die staatskapingbewerings ondersoek word deur ʼn geregtelike kommissie van ondersoek wat behoorlik gefinansier is en die nodige hulpbronne het,” het Mkhwebane gesê.

“Die regering het versuim om hierdie instansie van behoorlike hulpbronne te voorsien. In die huidige finansiële jaar, ondanks die feit dat ek versoeke en motiverings ingedien het vir ʼn begroting van minstens R800 miljoen, het die nasionale tesourie hierdie instansie se begroting met R8 miljoen gesny.

“As gevolg hiervan en gegewe die aard van die kwessies wat oorgedra is en die hulpbronne wat beskikbaar is, sal ek nie al die bewerings van staatskaping, soos aangemeld ná die bekendmaking van die staatskapingverslag, onmiddellik kan ondersoek nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Andre Marais ·

En wie gaan en of is by magte om die OB te Ondersoek ? Gevra vir R800 Miljoen en is “gesny” MET net R8 Miljoen – goeie genade daar is dan R720 Miljoen Beskikbaar of Toegeken en sy kan nie daarmee doen wat sy moet doen nie ? Iets klink nie vir My heeltemal reg hier nie ! ! ! !

snoefie ·

Haar hulpbeonne was onbeperk toe sy haar neus in die reddingsboei wat Absa se nerwe gered het, gesteek het. daar gaan staatskaping by eskom nou, volgens haar, dertigjaar terug, apartheid toe. voor guptas SA toe gekom het. jaag weg. sy is onbevoeg. dalk kan Trevor manuel n goeie job daar doen.

Hennie ·

Dis tyd dat Cyril dir riool rotte uit”flush”…maar helaas, hy weet hy sal saam afspoel…

zoom zoom ·

Die OB weet nie of dit oggend of aand is nie. Sy is net ‘n ander vorm van ‘n PR vir sy zuma familie en sy gupta tjomma’s

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.