OB oorval deur Covid-19-verwante klagtes

Die Oos-Kaap se omstrede motorfiets-ambulanse is een van die projekte in die Openbare Beskermer se visier. (Foto: Dr. Zweli Mkhize/Twitter)

Die kantoor van die Openbare Beskermer (OB), adv. Busisiwe Mkhwebane, sê hy is die afgelope vier maande oorval deur klagtes oor onder meer die gedrag van amptenare en ʼn versuim om dienste te lewer wat met die Covid-19-pandemie verband hou.

Oupa Segalwe, die OB se woordvoerder, het gesê ʼn versuim om dienste te lewer vorm die grondslag vir die meeste klagtes. Tot 450 mense het die OB reeds genader om te kla omdat hul aansoeke vir die spesiale toelaag van R350 per maand volgens hulle onbillik afgekeur is.

Die departement van maatskaplike ontwikkeling het in April aangekondig die spesiale toelaag gaan betaal word aan werkloses wat geen ander toelae of werkloosheidsvoordele ontvang nie.

Die OB beoog om met die minister van maatskaplike ontwikkeling oor die probleme te vergader om ʼn spoedige oplossing te probeer vind.

Mkhwebane het reeds met verskeie ander ministers, asook die ouditeur-generaal en die spesiale ondersoekeenheid oor Covid-19-verwante kwessies vergader.

Segalwe sê in die meeste gevalle beweer die klaers dat hulle onvoldoende redes gegee is vir hoekom die aansoeke afgekeur is. In ander gevalle is die aansoeke afgekeur omdat die aansoekers glo vir ʼn ander vorm van inkomste kwalifiseer – iets wat hulle betwis.

Die peperduur grensdraad wat tussen Suid-Afrika en Zimbabwe opgerig is om die verspreiding van Covid-19 te stuit – en reeds veral – word ook ondersoek.

Mkhwebane ondersoek in hierdie stadium ook die verkrygingsproses wat gevolg is met die toeken van ʼn tender van R37 miljoen om ʼn heining tussen Suid-Afrika en Zimbabwe op te rig. Die heining is opgerig om die verspreiding van Covid-19 te help bekamp.

Die OB ondersoek ook ʼn klagte oor die Gautengse regering se informasie-en-kommunikasietegnologietender van R30 miljoen.

In Mpumalanga word beweerde tenderongerymdhede wat met die nou geslote Zithabiseni-kwarantynfasiliteit verband hou, ondersoek. Die fasiliteit is ná talle klagtes oor die haglike omstandighede daar – en ʼn gevolglike hofbevel – gesluit.

In KwaZulu-Natal word beweerde ongerymdhede in die verkryging van persoonlike beskermende toerusting deur die onderwysdepartement ondersoek. “Daar word beweer dat die departement die toerusting teen opgeblase pryse aangekoop het,” het Segalwe gesê.

In die Oos-Kaap ondersoek die OB bewerings dat ʼn lodge wat as ʼn kwarantynfasiliteit gebruik word, besit word deur ʼn lid van die provinsiale uitvoerende raad. Ondersoek word ook ingestel na beweerde tenderongerymdhede wat met ʼn R400 miljoen-tender vir e-leer-toerusting verband hou.

Die OB het intussen self besluit om ondersoek te doen na die provinsie se omstrede motorfiets-ambulans-projek en die moontlikheid dat staatsgeld wanbestee is. Die projek het R10 miljoen beloop en ʼn herrie ontketen. Die motorfietse is nog nie in gebruik geneem nie.

Die provinsie se LUR vir gesondheid, Sindiswa Gomba, het later apartheid die skuld vir die departement se probleme gegee.

Amptenare van die OB se kantoor onderneem vandeesweek ook oorsigbesoeke aan verskeie Oos-Kaapse hospitale ná bewerings van verslegtende toestande by staatsfasiliteite.

Die OB se kantoor stel ook ondersoek in na die toekenning van ‘n tender aan Zithabiseni om as kwarantynfasiliteit gebruik te word. Die kamp is intussen gesluit. (Argieffoto)

Die OB ondersoek ook verskeie ander diensleweringsklagtes wat insluit die verskaffing van water en sanitasie, die repatriasie van Suid-Afrikaners, afvalbestuur, die verspreiding van kospakkies, toegang tot behuising, toegang tot gesondheid, inisiasies en kulturele gebruike.

ʼn Spesifieke komitee wat bestaan uit tien senior ondersoekers sal die Covid-19-verwante klagtes ondersoek.

“Ons het deurlopend ʼn beroep op die burokrasie gedoen om versigtig te werk te gaan met die besteding aan Covid-19-verwante goedere en dienste. Ons het benadruk dat ʼn afwyking van normale verkrygingsprosesse nié beteken dit is nou die kans om te plunder nie. Ons bekyk ook die moontlikheid dat ons ondersoeke op eie inisiatief van stapel kan stuur,” het Mkhwebane gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Althes ·

Gulsigheid, gierigheid en skande!!! Proudly brought to you by the ANC.

Sarel ·

Gaan sy Magashule en sy familie ondersoek…dink nie so nie…geen vertroue in haar en haar ondersoeke nie

Adeline ·

Die hele voos vrot korrupte anc regering en sy president asook die vele vertakkings en munisipaliteite moet ondersoek word – Almal is korrup en moontlik niks van kom nie – daar is nie plek in die tronke nie

M ·

Verottende vrot rotte ….. stink …. mens kan nie naby hulle waag nie ????????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.