OB-pos: Finale vyf kandidate bekend

Regter Sharise Weiner. Foto: Facebook

Regter Sharise Weiner. Foto: Facebook

Die ad hoc-komitee wat op die been gebring is om ʼn nuwe openbare beskermer (OB) aan te wys, het Donderdag sy vyf finale kandidate aangewys.

Die vyf kandidate is regter Sharise Weiner, ʼn hooggeregshofregter wat sedert 1978 ʼn lid van die Johannesburgse balie is, regter Siraj Desai, ʼn hooggeregshofregter in die Wes-Kaap, Busisiwe Mkhwebane, ʼn voormalige senior bestuurder by die departement van binnelandse sake en tans ʼn ontleder by die staatsveiligheidsagentskap, Muvhango Lukhaimane, ʼn pensioenfondsberegter en prof. Bongani Majola, ʼn advokaat wat tot onlangs assistent sekretaris-generaal by die Verenigde Nasies was.

Daar is aanvanklik 73 benoemings en aansoeke ontvang. Sewe kandidate, insluitend oudpres. Nelson Mandela se vrou, Graça Machel, staatsaanklaer adv. Gerrie Nel en die voormalige minister van finansies Nhlanhla Nene, het hul benoemings van die hand gewys.

Talle ander kandidate kon nie betyds in die hande gekry word om hul benoemings te bevestig nie en ʼn totaal van 59 kandidate is uiteindelik oorweeg. ʼn Kortlys van 14 kandidate is opgestel waarna daar verlede week tydens ʼn marathon-sessie onderhoude met al die kandidate gevoer is en op die vyf kandidate besluit is.

Dr. Makhosi Khoza, voorsitter van die komitee, het vroeër gesê ʼn vergadering sal vir volgende week geskeduleer word waartydens besluit sal word wie Thuli Madonsela gaan opvolg. Volgens Khoza wil die komitee die proses deeglik hanteer en sal hulle op 31 Augustus ʼn kandidaat aan die Nasionale Vergadering voorhou om moontlik as nuwe OB aangewys te word.

ʼn 60%-meerderheid van die Nasionale Vergadering moet ten gunste van die kandidaat wees waarna pres. Jacob Zuma ʼn aanstelling sal maak.

Regter Siraj Desai en Willie Hofmeyr, hoof van regsdienste in die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), was van die bekende kandidate vir die pos, en so ook Kevin Malunga, huidige adjunk-openbare beskermer en Mamiki Goodman (née Shai), ʼn voormalige adjunk- openbare beskermer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Kobus ·

Buiten vir die eerste dame, wat van meet af as meer as opgewasse vir die taak gesien is, kan ek net my persoonlike opinie lig en dit is, HKGK. Die rooi ligte begin flikker.

Kobus ·

Nie naby nie.

Hoekom is die Keogh dame nie daar, het sy uitgeval omdat haar organisasie die regering hof toe gevat het oor Al Bashir???

JANNIE SWART ·

EK STEM SAAM MET BEN. REGTER DESAI SAL BESLIS MY STEM OOK KRY.HY IS’N ERVARE REGSGELEERDE EN SY REKORD AS ADVOKAAT SPREEK BOEKDELE.HY SAL BESLIS DIE AANGEWESE PERSOON WEES.

Louwrens ·

Ai tog Jannie. Jy moet eers mooi lees voor jy kommentaar lewer. Ben ondersteun vir Regter Sharise Weiner, NIE vir Regter Sirja Desai nie.
Ek self hoop ook maar Regter Weiner kry die pos, maar ek het my bedenkinge.

Jan maak n Plan ·

Dit sal verseker iemand wees wat sal maak soos wat Zuma en sy maatjie wil he daar moet gemaak word. Weereens is die ANC se ore toe, maar wag hulle kry eersdaags weer slae. Soos my oums altyd gese het- As jy nie ore het nie moet jy maar voel.

Joann ·

Jan ek stem saam. Die arme blanke dame staan nie kat se kans. Moet n zuma maatjie wees. Mag die Vader ons genadig wees.

Doris ·

n Mens kyk na n persoon dan kan jy besluite neem en ek myself dink Regter Charise is die ideale persoon vir die nuwe OB pos, want sy sal die wa deur die drif kan trek en goeie werk doen.

Doris ·

n Mens kyk na n persoon dan kan jy besluite neem en ek myself dink Regter Charise is die ideale persoon vir die nuwe OB pos, want sy sal die wa deur die drif kan trek.

Tinktinkie ·

Maroela, ‘n voorstel: sal dit moontlik wees om ook ‘n tyd by die datum van publikasie te sit? Baie dankie

Cjan ·

Kan nie verstaan dat die kommentaars wat gelewer is mense se name so verkeerd spel nie. Moes n paar keer truggaan om te sien wie is wie. Groot verskil tussen n “S” en n “C”. Hoop vir Weiner.

Dirk de lange ·

Weet die helfte van julle wie die mense is as julle so komentaar lewer? Ek het nie eers n benul wie wie is nie. Sorry ! Nou maak julle almal of julle weet. Asseblief.

Mauritz ·

Almal is nie oningelig nie. Ek het ongeveer 7 ure bestee om elkeen se inligting en geskiedenis deeglik na te gaan en te bestudeer.

Doris ·

Cjan ——jammer Sharise oor ek jou naam met n C i.p.v. n S geskryf het.

E.K. ·

Desai?? Nee dankie – die DA het gisteraand op die nuus uitgewys hoe hy by sy onderhoud vertel het hy haat die wit middelklas – hoe sal hy dan eerlike werk lewer as hy al klaar “biased” is??

Kobus ·

Ek sien die ANC het gister hard baklei (geveg) sodat hy een van die vyf kan wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.