OB reageer op Ramaphosa se toespraak

Adv. Busisiwe Mkhwebane (Foto: ANA)

Die Openbare Beskermer (OB) is vol vertroue dat die bevindinge in haar verslag oor pres. Cyril Ramaphosa feitelik korrek en die produk van ʼn onafhanklike en onpartydige proses is ondanks die president se bewerings dat dit nié die geval is nie.

Oupa Segalwe, woordvoerder van die OB, het Sondag in ʼn verklaring gesê adv. Busisiwe Mkhwebane hou voet by stuk rakende haar bevindinge oor Ramaphosa hoewel sy steeds sy besluit om die verslag dringend in die hof te laat hersien, verwelkom.

Maroela Media het vroeër berig Ramaphosa het Sondagaand gedurende ʼn mediakonferensie by die Uniegebou in Pretoria Mkhwebane se bevindinge teen hom as feitlik verkeerd en irrasioneel bestempel. Hy wil nou haar verslag dringend in die hof laat hersien.

Segalwe het gesê Mkhwebane neem kennis van dié besluit en verstaan dat dit in die president se volle reg is om die verslag te laat wil hersien.

“Soos sy al voorheen gesê het, moet enige hersieningsproses met ʼn interdik gepaardgaan om die inwerkingstelling van voorgestelde remediërende optrede vir eers stop te sit,” lui die verklaring.

Segalwe sê in die verklaring dat Mkhwebane egter vol vertroue is dat haar bevindinge die rasionaliteitstoets sal slaag en wel met die wet strook.

Luidens die verklaring het die OB ingevolge die Grondwet die mag om enige beweerde onbehoorlike gedrag in staatsake óf die openbare administrasie in enige regeringsfeer te ondersoek, rapporteer en dan op te los.

Die OB het ook ingevolge wetgewing verskeie magte waarop sy gedurende haar ondersoek na Ramaphosa staatgemaak het, aldus Segalwe.

“Sy twyfel nie daaraan dat sy haar magte uitgeoefen en haar pligte sonder vrees, guns of vooroordeel verrig het soos deur die Grondwet vereis word nie.”

Luidens die verklaring sal Mkhwebane poog om die hof te help om tot die korrekte beslissing te kom deur haar saak te verdedig.

Sy waarsku politieke partye en burgerlike samelewingsorganisasies om nie by die saak in te meng nie aangesien dit teen artikel 181 van die Grondwet is wat bepaal dat geen persoon of staatsentiteit met die funksionering van die OB mag inmeng nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Cherokee ·

Vir my is dit soos om twee onbekende spelers dop te hou sonder enige lojaliteit jeens een van hulle. Bloot net interessant.

lewies ·

Sy moet weer gaan kyk wat die woord “vooroordeel” beteken. Miskien dink sy dat die’ woord as emosie nie bewys kan word nie, maar dit is moontlik. HAT. 1016 “Oordeel wat nie op kennis of redenering berus nie; onredelike voorkeur of afkeer van iets; onlogiese houding van vyandigheid teenoor ‘n enkeling, groep of ras; vooropgestelde, voorbarige mening: ‘n Mens moet sonder vooroordeel kennis neem van die feite. Vooroordele” koester.

Pensioenaris ·

Sy gaan weer op haar neus kyk en ook in hierdie saak tweede kom. Kan die vrou met haar eentonige stem en afgeleesde toesprake nie maar asb bedank en plek maak vir iemand wat nie bevoordoordeeld is nie? Sy kos die belastingbetaler net hope geld en is ‘n pion van die Zuma brigade.

Koos ·

Eish, gaan baklei in die hof, nie in die media nie asseblief, want netnou verloor jy jou hofsaak en dan kry die media weer die skuld dat hulle jou veroordeel het!
Ons het genoeg van die openbare gevegte onder Zuma gehad, en waar het dit ons gebring?
Ek weet nie, ek onthou nie, ek was nie daar nie, ek word geteiken ens!

Justice ·

Daar is `n baie dun skeidslyn tussen vol vertroue en arrogansie.

Gert van Wierdapark ·

Het die me OB maar die Vrede Gupta Melk-koei projek maar met dieselfde ywer ondersoek, sou honderde miljoene Rande beter aangewend kon gewees het!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.