OB-saak: ‘Ramaphosa het grondwetlike plig misluk’

Pres. Cyril Ramaphosa tydens die debat oor die begrotingsrede in die Nasionale Vergadering (17 Julie 2019). (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Die hooggeregshof in Pretoria het Donderdag gehoor pres. Cyril Ramaphosa gebruik vertragingstaktiek om nie stappe teen Pravin Gordhan te doen nie en dat hy die kantoor van die Openbare Beskermer ondermyn.

Regsverteenwoordigers vir Ramaphosa en adv. Busisiwe Mkhwebane het mekaar die stryd aangesê oor of die president verplig is om op te tree ná die OB se opdrag dat stappe teen Gordhan gedoen moet word oor ʼn vroeë pensioenuitbetaling aan die voormalige adjunkhoof van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), Ivan Pillay.

Die EFF was ook deel van die hofverrigtinge, ter ondersteuning van Mkhwebane. Die party se leier, Julius Malema, het die verrigtinge saam met ander senior leierskap bygewoon.

Adv. Vincent Maleka, namens die EFF, het aan die hof gesê dat Ramaphosa misluk het om sy grondwetlike plig na te kom om eenheid in die verskillende staatsinstellings te bevorder.

Volgens Maleka het Ramaphosa guns getoon teenoor Gordhan en die kantoor van die Openbare Beskermer in gedrang gebring,

“Die president het geweier om sinvol te reageer op die regstellende optrede van die Openbare Beskermer, en minister Gordhan toegelaat om hof toe te gaan.

“’n Verantwoordelike en verantwoordbare president sou Gordhan gebel het en vir hom gesê het dat hy van plan is om die regstellende optrede van die Openbare Beskermer uit te voer, en hom [Gordhan] gevra het om redes te gee oor hoekom hy dit nie moet doen nie,” het Maleka aangevoer.

Adv. Hamilton Maenetje, namens Ramaphosa, het aangevoer Ramaphosa het voldoen aan Mkhwebane se instruksie dat hy ʼn plan verskaf waarin die stappe wat hy gaan doen, uiteengesit word. Die OB het beveel dit moet binne 30 dae na die bekendmaking van die verslag gebeur.

“Die president het dit gedoen. Hy het ʼn plan voorgelê waarin verduidelik word dat hy gaan wag vir die uitslag van Gordhan se hersieningsaansoek oor die Pillay-verslag voordat enige stappe teen hom [Gordhan] gedoen gaan word,” het Maenetje gesê.

Adv. Dali Mpofu, namens Mkhwebane, het Ramaphosa se betoog ʼn grap genoem en gesê die OB is die enigste persoon wat die plan van optrede kon goedkeur.

Mpofu het ook na Ramaphosa se hofstukke gekap en gesê eerstejaarstudente sou dit teenstrydig vind.

“[Ramaphosa] sê hy het gehoor gegee aan die regstellende optrede, maar soek ook ʼn interdik om nie daaraan te voldoen nie en die regstellende optrede teen Gordhan uit te stel.”

Adv. Michelle le Roux, namens Gordhan, het aangevoer die president kan nie tugstappe implementeer tot die hersieningsproses afgehandel is nie.

“Dit is in dié stadium vir die president onmoontlik om rasioneel te besluit oor gepaste optrede,” het sy gesê.

Uitspraak in die saak word op 8 Augustus gelewer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

John ·

Die OB en die NVG, waar verskil dit in opdragte? Is die OB onaantasbaar en verhewe bo die reg, wat bloot bevindings maak en opdragte gee, terwyl die NVG ondersoeke loods, aankla en voor die hof bring. Die OB hardloop ‘n boedoe-hof: jy is skuldig en koebaai. Waar is die konsep: onskuldig totdat die skuld bewys is? Sluit die kantoor, dit is ‘n one-man-band en net wanklanke klink op, daarby ruik dit vreeslik na Zzzzz-oorblyfsels deur die Afrika-son vergiftig.

Tanya ·

Die pragtige skoon Siud Afrika wet geen misdaat gehst het nie het nou ver ander in hel mooi gedoen Julle almal

Cherokee ·

Interessante taal wat jy skryf Tanya! Dit herinner sterk aan Afrikaans! Van waar is jy en watter taal is dit waarin jy skryf? Dit moèt ‘n Flaamse taal wees, …seker daarvan!

Ja swaer ·

Wat ‘n grap – die sg OB word verteenwoordig deur een vd EFF se topbestuur. Dis mos ooglopend dat sy pro EFF is

Anoniem ·

Werk hierdie eff narre nie vir hulle salarisse soos ons nie heeldag in die hof en toi toi. Ek dink in elk geval hierdie ob weet nie wat sy doen nie en so ook ramaposa uit ge vang nou is daar die een veskoning na die ander gaan doen julle werk wat julle duisende rande voor betaal word en hou op om ons geld te mors.

Vic ·

Dir everything-for-free party steek weer hul neuse in sakies wat niks met hulle uit te waai het nie. Hulle gaan weer bloedneus kry saam met die OB. Laat die reg sy gang gaan sê ek.

Sanite ·

Die EFF kef saam want hulle moet blootstelling probeer kry. Witvoetjie soek vir wat die OB dalk van hulle kan oopkrap?

Johanvz ·

Ja Cherokee, ek let ook op die taal wat geskryf word. Maar ek raai weer baie kom van “Technoland” waar almal gedwing word om “Dikvingertik” taal te leer op klein sleutelborde en die onderwyser dring daarop aan dat jy “autospellcheck” woordeboek gebruik as jy in Afrikaans skryf. Dan is daar ook nog díe wat maar lekker lui is om te kyk waar hulle “tik”. Maar dit alles dra by tot die interesante en snaakse komentare wat ‘n mens lees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.