OB sal Gauteng se IT-blitstender ondersoek

Argieffoto (Foto: Michael Schwarzenberger/Pixabay)

Die Openbare Beskermer (OB) het bevestig dat die VF Plus se klag oor die blitstender vir IT-dienste wat die Gauteng-regering aan ʼn diensverskaffer toegeken het, ondersoek gaan word.

Anton Alberts, nasionale voorsitter van die VF Plus, het gesê sy party beskou die toetrede van die OB tot die saak as belangrik om vas te stel of daar enige onreëlmatighede of onwettige optrede in dié verband was.

Die omstandighede rondom die toekenning van die tender het rooi ligte laat flikker en daarom het die VF Plus die OB genader.

Luidens ʼn berig in die City Press van 5 Maart 2020 het verskeie ander diensverskaffers klagte hieroor ingedien by die minister van kommunikasie en digitale tegnologie, Stella Ndabeni-Abrahams. ʼn Fluitjieblaser het ʼn brief hieroor aan president Cyril Ramaphosa geskryf.

“Eerstens blyk dit dat diensverskaffers tydens die uitnodiging om te tender net twee werkure daarvoor gekry het, aangesien die uitnodigings-e-pos om 17:17 op 25 Maart 2020 uitgestuur is en daar vereis is dat die tender ingedien moes word teen 10:00 op 26 Maart 2020,” verduidelik Alberts.

“Die diensverskaffer wat die tender gewen het, In2IT Technologies, het luidens berigte vinnig gereageer met ʼn 100 bladsy tender-dokument. Die tender is blykbaar spoedig daarna toegeken aan dié diensverskaffer. Die hele proses het net 24 uur geduur.”

Die huidige diensverskaffer wat nou vervang word, GSOC Security Services, argumenteer dat dit onmoontlik is om in so min tyd so ʼn omvattende tenderdokument op te stel en gereed te hê. Volgens die City Press-berig is daar amptenare in die departement wat meen die tender is geskep met ʼn spesifieke diensverskaffer in gedagte.

“Tweedens blyk dit dat daar ʼn botsing van belange bestaan tussen In2IT Technologies en uitvoerende lede van die Gautengse regering. Dit is nie duidelik of dit wel verklaar en hanteer is nie. Luidens die berig is die diensverskaffer ʼn borg van die sokkerspan Moroka Swallows, waarby die LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, belange het,” het Alberts bygevoeg.

Verder word berig dat daar reeds verskeie pogings was om die diensverskaffer by ander regeringsinstansies betrokke te kry, maar sonder sukses. “Dit versterk die indruk dat die Gautengse regering hierdie tender spesifiek vir die diensverskaffer geskep en toegeken het. Teen hierdie agtergrond het die VF Plus besluit om die OB te versoek om die tender vir enige onreëlmatighede te ondersoek.”

Alberts het gesê dit is belangrik dat daar in hierdie afsonderingsperiode met ekstra aandag gekyk word wat die regering op al drie vlakke doen aangesien oorsigstrukture nog nie na behore funksioneer nie.

“Die VF Plus is bewus van die verantwoordelikheid wat dit op die party plaas en sal nie skroom om op te tree waar enige ongerymdhede vermoed word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Martie Smartie ·

As die VF enige vertroue in die OB het, dan moet mens sterk wonder oor hulle eie integriteit.

Sarel ·

Martie Smartie , kan jy enige iemand anders voorstel ….
Wel sy sal haar tyd neem en dan net soisxmet ander gevalle bevind dat dasr geen fout was nie….Lesufi is ‘n uitverkorene en dalk op pad om die volgende Premier vsn Gauteng te word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.