OB sal Nene glo ondersoek

Nhlanhla Nene (Foto: Ntswe Mokoena, departement van kommunikasie)

Die DA het Dinsdag gesê die openbare beskermer (OB) het ingestem om ondersoek in te stel of Nhlanhla Nene, minister van finansies, etiese kodes oortree het.

Nene is onder toenemende druk om te bedank weens sy betrokkenheid by die omstrede Gupta-familie. Hy het verlede Vrydag om verskoning gevra dat hy nie vroeër die volledige besonderhede rakende sy vergaderings met die Guptas bekendgemaak het nie en gesê hy besef nou dit werp ʼn skadu oor sy optrede as staatsamptenaar.

Nene het gesê hy is bly daar word ondersoek ingestel na oneerlike optrede deur regeringsamptenare en die uitvoerende hoofde van staatsondernemings onder pres. Jacob Zuma se leierskap, asook dat bewerings rakende sy betrokkenheid hierby ondersoek word.

David Maynier, die DA se skaduminister van finansies, het Dinsdag gesê hy het adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer, versoek om Nene te ondersoek ten opsigte van die etiese kodes waaraan ministers en adjunkministers onderwerp word om te bepaal of hy oortree het.

“Die beweerde oortreding van die uitvoerende kode van etiek hou verband met die openbare beleggingskorporasie (PIC) se belegging in S&S Refinarias, wat volgens berigte ʼn ‘verwysingsfooi’ van $1,7 miljoen (ongeveer R25,2 miljoen) ingesluit het wat moontlik tot voordeel was van die minister se seun, Siyabonga Nene,” het Maynier gesê.

Hy het gesê hy het ʼn antwoord van die OB se kantoor ontvang waarin bevestig word dat die eenheid vir goeie regering en integriteit in die OB se kantoor ondersoek sal instel na die saak.

Maynier het daarop gewys dat die bewerings ernstig is gegewe die feit dat, volgens die Grondwet, ministers hulle nie “mag blootstel aan enige situasie waar daar ʼn risiko vir konflik tussen hul amptelike verantwoordelikhede en persoonlike belange is nie”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

marous ·

Moet hy nou pak vir die span vat ? Daar is duisende of dalk honderde duisende wat die soustrein saamgery het en dit steeds doen . Daar is geen manier wat hierdie vergrype in totaliteit ondersoek kan word nie , en die spul weet dit . Die grootste bedrogspul in mense heuginis om kloue in die staat se spaarvarkie te slaan , en soos konings te lewe . Per capita is daar geen land in die wereld waar blink goed soos soetkoek verkoop aan mense wat suiwer staatsgeld verorber nie.

Irma ·

Is die OB se hande skoon genoeg om so ‘n ondersoek te doen ? Sovér ek my kan herinner het die einste persoon vlugvoetig na Zuma se pype gedans

Ai ai ·

Dis nou Mkhwebane wat sommer op haar eie die grondwet wou verander en deur die Reserwebank bloedneus gegee is. Sy wat deur die ANC ingeboender is toe die vorige OB weg is. Ai sy boesem soveel vertroue in … ha ha

Genieve ·

Kan jy glo vir wat moet sy nou hom ondersoek die man het dan vir CR gevra om hom te onthef van sy pos watse ondersoeke nog????? lyk hulle kan nie lees nie.

zoom zoom ·

Almal word ondersoek en Dan gebeur daar niks. So hoekom die ondersoek doen.

Paul ·

Joeg, en na baie geld gaan sy bevind hy het die waarheid gepraat. Skuus maar daar moet mos ook aan haar beeld gebou word. In jou lewe!

Elene ·

Hoekom moet dit ons geld kos dat die OB hom moet ondersoek? Hy het moes self vertel en erken wat hy verkeerd gedoen het? Waar kom al die geld vandaan vir al die ondersoeke?!!!!

Bertus ·

Als politieke punte. Lagwekkend. Nene het klaar gesê hy is skuldig, Julius beduie as Cyril hom nie gaan fire nie, gaan hulle nog ‘n bom loslaat, die DA klim op die wa en nooi die OB saam.

waarheid ·

Die OB is ook korrup – so dit sal onder die mat gevee word om haarself te beskerm.
Almal weet dit tog.

trol ·

dan gaan die ob net vind wat sy vertel word sy moet vind. hy het aangejaag en geweet hy jaag aan, daarom het hy daaroor gelieg. fire hom!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.